Wil jy jou brein skerp hou as jy ouer word? Wel, jy sal nie glo wat die antwoord is nie …
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Ja, ja, ja, ons almal weet ‘n mens moet gesond eet, oefen en jou brein met blokraaisels en dies meer skerp hou, maar navorsers het gevind dat daar nog iets is wat tot groot voordeel vir jou brein kan wees as jy ouer word: seks.
Navorsers aan die Universiteite van Coventry en Oxford sê seks kan moontlik die sleutel tot ‘n skerp brein wees. Deelnemers aan die studie wat minstens een keer per week seks gehad het, het glo beter punte behaal in die toetse wat hul verbale vermoë en ruimtelike oriëntasie gemeet het.
Die toetse was deel van die Addenbrookes Cognitive Examination III (ACE-III)-toets, ‘n standaardtoets om breinfunksie te meet.
LEES OOK: Vroue, hul lywe en seks
Die studie het 73 mense tussen die ouderdomme van 50 en 83 ingesluit.
Volgens die navorsers het hul resultate getoon dat ouer mans en vroue wat gereeld seksuele aktiwiteit ondervind, beter kognitiewe funksionering as diegene het wat nie gereeld seks het nie.
Ander studies het ook al getoon dat ouer mense wat aktiewe sosiale lewens het en fisiek aktief bly, beter kognitiewe funksie het.
LEES OOK: Die gemaskerde breier: Ouderdom
Ander kenners sê wel dat ‘n mens nie ná net een studie tot die gevolgtrekking kan kom dat seks jou wel beter kognitiewe funksionering gaan gee nie en dat nog navorsing nodig is.
BRON: www.nhs.uk