Jy het al van seisoenale bestanddele gehoor, maar dit is net so slim om jou kosmaakmetodes by die weer aan te pas.
Sodoende haal jy nie net die meeste uit varsprodukte wat smaak en koste betref nie, maar jy kan ook afkoel of warm word deur ’n gepaste kosmaakmetode te kies.
Hier is Terry Harris, dieetkundige by Discovery Vitality, se maklike riglyne vir die beste maniere om regdeur die jaar maaltye voor te berei:
Kies stewige maaltye, stadig gaargemaak, in die herfs en winter
- Stadige, sappige kosmaakmetodes – stadige kosmaakmetodes breek die kollageen in taaier vleissnitte af vir bredies, sop en gesmoorde geregte. Volgraanbykosse is ideaal vir hierde disse. Jy kan maklik ’n blik bone of lensies of ’n handvol sopmengsel byvoeg om ’n bredie dikker te maak en die voedingswaarde te verhoog.
- Oondbraai – Oondgebraaide kos is wonderlik wanneer dit koud buite is, en wortelgroente soos geelwortels, patats en aartappels asook pampoen is veral heerlik gebraai saam met hoender of ’n stewige boud vleis.
- Kook – die beste trooskos in die winter is sop en dit is ook ’n manier om jou groente-inname op te stoot. Peulgroente soos ertjies, bone, lensies en keker-ertjies sal jou ook help om langer versadig te voel.
- Bak – dit is ’n eenvoudige en behaaglike tegniek wat geregte soos lasagne (probeer gerus om snye eiervrug in plaas van pasta te gebruik), herderspastei en gevulde groente insluit.
- Posjeer – hierdie onderbenutte tegniek is oor die algemeen nogal gesond want die kos word gekook deur dit te laat prut in ’n klein hoeveelheid vloeistof soos water, aftreksel of selfs wyn. Gebruik dit vir hoender, vis of groente en as jy kreatief voel, geposjeerde pere!
- Warm nageregte – die koue maande is perfek vir gebakte vrugtenageregte soos appelpastei of warm, gebakte poedings. Kyk of jy die nageregte hier en daar kan aanpas om hulle gesonder te maak. Jy kan byvoorbeeld party van die suiker met vrugte soos dadels of rosyntjies vervang, vetvrye melk gebruik en minder suiker gebruik wanneer jy jou eie vla maak. Jy kan ook neute en sade byvoeg vir ekstra vesel.
Maak vinnige, ligte maaltye in die lente en somer
- Vinnige, hoë-temperatuurkosmaakmetodes – vinnig en warm is die ideale keuse, van rooster en braai tot soteer en roerbraai. Vleis en groente werk ewe goed vir hierdie gaarmaakmetode. Maak dus plek op die rooster vir groente wanneer jy weer braai. Mielies en braaisampioene is onontbeerlik, maar jy kan net so maklik murgpampoentjies, eiervrugte, aspersies en preie op die kole gooi.
- Hou dit rou – varsprodukte is in hierdie tydperk op hul beste. Bedien dus gerus snye somervrugte en peuselgroente soos geelwortels, komkommer, seldery en kersietamaties. Dit is ook die perfekte tyd om ’n tuisgemaakte doopsous van geurige tamaties of romerige eiervrug te beproef in plaas van ’n sous van die winkelrak af wat vol preserveermiddels en sout is. Kry ’n paar idees by ons resep vir Cajun-geïnspireerde mielie-en-soetrissie-salsa.
- Hou dit koud – hetsy dit rou of gekook is – van koue sop tot slaai – bedien dit koud en vars. Moenie skaam wees met die donker blaargroente nie. Gooi byvoorbeeld ’n handvol vars babaspinasie of krulkool in jou volgende slaai.
- Braai – dié metode werk heeljaar lank en is veelsydig omdat jy vleis en groente terselfdertyd kan gaarmaak. Bedien die oorskiet van ’n oondbraaistuk die volgende dag koud vir ’n heerlike somermaaltyd. Oorweeg dit om met jou volgende braai snye beet en patats in foelie toe te draai en tussen die kole gaar te maak.
- Stoom – vir enigiets van vis en hoenderborsies tot aspersies, bone en broccoli is stoom een van gesondste gaarmaakmetodes! Gebruik ’n bamboesstoommandjie of selfs ’n mikrogolfstoompot, wat beteken dat dit net ’n paar minute sal vat om ’n ligte en vars maaltyd voor te berei.
- Inlê – tot jou ore toe in boontjies? Byna enige soort groente kan gepiekel en gebottel word. Jy sal boonop later dankbaar wees vir die ekstra moeite wanneer jy smag na daardie somergeure. Bottel dus jou ryp tamaties en droog die appelkose vir die winter!
- Koue nageregte – slaai en roomys propvol somervrugte is die ideale manier om ’n maaltyd op ’n warm somerdag af te sluit.
Is jy op soek na nog gesonde wenke en beproefde resepte? Suid-Afrikaanse grond is die hele jaar lank tot oorlopens toe vol fantastiese varsprodukte. Die Vitality HealthyFood Studio se kursus in seisoenale plesier verken minder bekende vrugte en groente en help jou om heeljaar lank heerlike, gesonde maaltye voor te berei.
Leer by hierdie interaktiewe kosateljee hoe om seisoenaal kos te maak. Dit is oop aan lede van die publiek – bespreek sommer vandag jou plek! Besoek gerus die webwerf vir meer inligting.