Die Robertson Wynvallei het onlangs sy 14de Wacky Winefees aangebied.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Plase van Robertson, Ashton, McGregor en Bonnievale het deelgeneem en gaste kon sien dat die vallei baie meer as uitstekende wyne bied.
Daar is olywe, buitelug-aktiwiteite soos bergfiets, stap, riviervaarte, die geleentheid om te leer om jou eie koue vleis te maak, kuiers met wynmakers en vele meer.
’n Groepie kosskrywers is per bussie na van die plase toe en het onder meer by How Bazaar op McGregor ingeloer vir koffie en koek; toe by die oulike klein garagist-kelder van Ilse Schutte van Bemind Wyne ingeloer voor ons die grondpad na Lord’s Wines vir ’n Méthode Cap Classique-, wynproe en middagetebord saam met die Oosthuizen-familie aangeskuif het.
Ná die tuisgemaakte fees is die bussie na Tanagra Boetiek Distilleerdery vir ’n grappa- en eau de vie-proe met Robert Rosenbach, voor ons na Jan Harmsgat Country House is vir ’n vyfgang kos-en-wyn pasmaat aand voor die kaggelvuur.
Met uitsigte van die Langeberge deur die pragtige granaatboorde, het ons ontbyt geniet voor ons eerste stop by Theunis de Jongh van Kleinhoekkloof hoog teen die berg, wat ons trakteer het op sy tuisgemaakte koue vleise en enkelwingerd wyne.
Asof ons nog nie genoeg geëet het nie, is ons toe vir ’n olyf- en olyfolieproe saam met Briony en Clive Heymans van Marbrin Olyfplaas. Die laaste stop vir die toer was by Kranskop Wyne, waar Newald Marais ons op ’n keldertoer en wynproe geneem het.
Die middag is afgesluit met tuisgemaakte roosterkoeke en sop op die kelder se dak.
Die 15de Wacky Wine sal aanstaande jaar oor die naweek van 31 Mei gehou word, maar as jou lus nou op die grond hang, teken die Robertson Slow-wynfees van 4-6 Augustus in jou dagboek aan. Deelnemende restaurante en wynplaase bied verskeie intieme kos- en wynaangeleenthede. Loer by www.robertsonslow.com of kom kuier saam by Wine On The River op die plaas Goudmyn op 20 Oktober gehou. Meer as 250 wyne van 30 produsent is beskikbaar om te proe. Daar is ook kosstalletjies, musiek, vermaak vir die kinders en natuurlik, bootritte. www.wineontheriver.com