Die artikel “Baba vs huwelik” op bl 16, kyk na die nuwe dinamika in ’n verhouding ná die koms van kinders.
Die hoeveelheid kere wat ek vir jongmense sonder kinders probeer verduidelik het hoe die koms van kinders ’n verhouding beïnvloed en dat dit sowaar nie kinderspeletjies is nie, kan ek nie tel nie. Negentig persent van hierdie mense het vandag kinders. En al 90% verstaan nou wat ek bedoel het – hulle het nie toe nie. Die verantwoordelikheid wat ouers het om kinders groot te maak, is enorm. Deur al die fases word daar eise aan jou gestel. Waarskynlik is die grootste aanpassing met die geboorte van jou eerste kind, die gebrek aan slaap.
My kinders verskil 21 maande van mekaar en vir die eerste vier jaar van hul lewens het ek net een begeerte gehad: ononderbroke slaap. Ek is nie verbaas dat een van die suksesvolle maniere van marteling, wat veroorsaak dat mense ingee en selfs knak, ’n gebrek aan slaap is nie. Dis die gebrek aan slaap wat dikwels die oorsaak van krapperigheid en iesegrimmigheid tussen geliefdes word. Gelukkig is dit ’n fase wat verbygaan. Ongelukkig gebeur dit ook dat met die verbygaande fases, die liefde vir mekaar stelselmatig verdwyn.
Een van die grootste geskenke wat ’n mens jou kinders kan gee, is die voorbeeld van ’n gesonde verhouding. En om dit te kan regkry, is eweneens nie kinderspeletjies nie, juis as gevolg van hul koms. Die slaggat waarin baie mense val, is om nie meer op hul verhouding met mekaar te fokus nie, maar net op hul afsonderlike verhouding met die kinders. Hoe dikwels sien ’n mens ouers wat met mekaar om ’n restauranttafel deur die kinders kommunikeer? En as die kinders nie om die tafel sit nie, is daar van ’n gesprek met mekaar weinig sprake. Iewers langs die pad het die geliefdes mekaar verloor.
’n Vriend vertel my onlangs hoe heg die band tussen sy ouers is en die gesprek het my laat nadink. Sy ma en pa het nie toegelaat dat hul verhouding met hul kinders hul verhouding met mekaar verdun nie, sê hy. Trouens, hy het partykeer gevoel hulle is liewer vir mekaar as vir hom! Is dit nie dalk die geheim nie? Verloor geliefdes mekaar in die proses van kinders grootmaak omdat hul verhouding met mekaar tweede viool speel? Natuurlik is my vriend se ouers nie liewer vir mekaar as vir hom en sy broers nie, maar van kleins af was dit vir hulle duidelik dat hul ouers se band ’n hegte een is. Om kinders groot te maak, is ’n uitdaging. As twee mense saamstaan en saamwerk, is dit net makliker. En die bonus is, as die kinders uit die huis is (en dit gebeur vinnig) het julle nog iets vir mekaar te sê en is dié fase sommer weer van voor af honeymoon.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.