Jonas Kaufmann het ’n groter omvang as die meeste tenore, meer as drie oktawe. Daar is mense wat meen dit is onnodig. Maar dan is daar ook weer dié wat hom ’n superman noem
Deur JOHAN MYBURG
Jonas Kaufmann gee die media wat graag oor die beste, die eerste, die vernaamste skryf genoeg om oor uit te borduur. Dié media verwys na hom as die “stertenoor” en “die wêreld se vernaamste tenoor”.
Dit is een manier om na Kaufmann se loopbaan te kyk. ‘n Ander benadering is om te fokus op die uitdagings wat dié man aan homself stel in ‘n wêreld wat al sóveel briljante tenore opgelewer het.
Onlangs het hy aangekondig hy gaan Richard Strauss se Vier letzte Lieder aandurf. Die geleentheid sou op 13 Februarie tydens ‘n konsert in Londen se Barbican-sentrum gewees het. Die konsert het egter nie plaasgevind nie omdat Kaufmann brongitis opgedoen het en dié konsert is uitgestel.
Maar Kaufmann is oorgehaal om later sy kleim af te steek in sý weergawe van dié vier laaste liedere van Strauss wat vir orkes en sopraan geskryf is en deur divas soos Kirsten Flagstad, Elizabeth Schwarzkopf, Gundula Janowitz en Jessye Norman hul eie gemaak is.
Dié terugslag is die tweede kort nadat hy in Augustus verlede jaar las gehad het van ‘n aartjie op sy stembande wat gebars het. Hy kon vier maande nie sing nie.
Maar duidelik deins dié 47-jarige Duitser nie vir musikale uitdagings terug nie. In 2010 het hy die hoofrol in Werther (Massenet) in Parys se Opéra Bastille gesing. ‘n Mens kan jou kwalik die druk voorstel om die enigste nie-Franse sanger in ‘n Franse opera te wees, boonop voor ‘n Franse gehoor. Die applous (ook van kritici) was dawerend.
Onlangs het hy tydens ‘n kunstenaarsverblyf aan die Barbican in Londen uitgeblink in sy vertolking van Wagner, onder meer werk uit Die Walküre en die Wesendonck-Lieder (ook oorspronklik geskryf vir sopraan). Sy program is vol en dié aantreklike tenoor het gehore op hul voete.
‘n Paar jaar gelede al het Kaufmann egter in ‘n onderhoud aangedui hy besef die belang om tyd saam met sy gesin (hy het drie kinders) deur te bring.
Tydens sy onlangse ongesteldheid het hy weer besef, sê hy, “dat die lewe so kosbaar is en dat ‘n mens heeltyd bewus moet wees: Is dit regtig die koers wat jy wil inslaan? Is dit regtig wat jy die hele tyd wil doen? Is daar iets waarop jy sal wil terugsny? Want as ‘n mens regtig almal tevrede wil stel, het jy drie lewens nodig – en geen private lewe nie. Dit is nie wat ek wil hê nie.”
Vir sy jongste CD, wat spoedig uitgereik word, het hy in Gustav Mahler se Das Lied von der Erde die tenoor- sowel as die alt/bariton-dele gesing. Dit is moontlik omdat Kaufmann ‘n groter omvang as die meeste tenore het, meer as drie oktawe. Daar is mense wat meen dit is onnodig. Maar dan is daar ook weer dié wat hom ‘n superman noem.
Hoe ook al. Dit blyk dat dié man op uitdagings floreer.
Volgende maand tree hy in Hamburg se splinternuwe grootsaal aan die Elbe-rivier op, wat as die Elbphilharmonie bekendstaan, afgekort na Elphi. Dié juweel in Hamburg se kroon is deur die Switserse argiteksfirma Herzog & de Meuron onwerp.
Kaartjies vir dié Kaufmann-konsert is, ja, jy het reg geraai, maande gelede reeds uitverkoop.