As ’n mens die naam Arnold Schönberg hoor, is atonaliteit die enigste ding wat ’n mens byval – afgesien van die feit dat sy musiek “moeilik” sou wees. Asof enige kuns eenvoudig kan wees.
Deur JOHAN MYBURG
By geleentheid het Schönberg gehoor dat ‘n bepaalde dirigent sy musiek nie speel nie omdat hy dit nie verstaan nie. Waarop Schönberg geantwoord het: “Waarom sonder hy my musiek uit? Hy dirigeer jare lank al klassieke musiek sonder om enigiets daarvan te verstaan.”
Die dilemma wat in dié anekdote opgesluit is, is die nadruk op “verstaan”, asof Schönberg se musiek verstandelike musiek sou wees. Ja, hy het indringend nagedink oor musiek en nuwe uitdrukkingsvorme geskep (‘n nuwe taal vir musiek), maar sy musiek is nie minder op die gevoel ingestel as dié van byvoorbeeld die Romantiek nie.
Soos met alle kuns kry ‘n mens ‘n beter greep op Arnold Schönberg (1874–1951) se musiek as jy die konteks waarbinne hy gekomponeer het in gedagte hou.
Teen die einde van die 19de eeu, en met die val van die weelderige dog holle Habsburg-ryk, het Wene ‘n era van soberheid ingegaan – wat dalk nêrens so sigbaar was as in die argitektuur van veral Adolf Loos nie. Loos se oogmerk was om eerlikheid en outentisiteit na die Weense argitektuur terug te bring. Die oogmerk was nou dat ‘n gebou nie na iets lýk nie, maar eerder iets moet wéés.
In die skilderkuns het dié sentiment eweneens geblyk in die werk van byvoorbeeld Gustav Klimt en Egon Schiele. Representasie het plek gemaak vir ‘n soeke na die psige agter die fasade, soos in argitektuur. En so dan ook in musiek. Schönberg was by uitstek die komponis wat musiek wou suiwer van ornamentasie en die inherente betekenis gekoppel aan tonaliteit – die punt waar Gustav Mahler opgehou het, maar wel voorsien het.
In dié opsig het Schönberg by die Oostenryk se filosoof Ludwig Wittgenstein aangesluit wat gesê het die kunswerk se taak is nie om enigiets uit te beeld nie, maar om die uitdrukking te wees van dít wat nié onder woorde gebring kan word nie. Kuns, het Wittgenstein gesê, is nie versiering of vermaak nie, maar die suiwerste vorm van kennis wat ons het.
Schönberg se “Drie stukke vir klavier”, op. 11 van 1909 was die eerste instrumentale komposisie waarin tonaliteit opgehef is en die struktuur van Westerse musiek van die voorafgaande 400 jaar “opgelos” is, en wat Schönberg as die emansipasie van dissonansie beskryf het.
En so was sy “Suite vir klavier”, op. 25 van 1921 een van die eerstes waarin hy in 12-toon-formaat aan ‘n suite met Barok-verwysings gestalte gee.
Hoewel Schönberg, outodidak wat hy was, as een van die 20ste eeu se vernaamste komponiste en musikale invloede bekendstaan, word sy musiek min uitgevoer. In die 122 jaar van die BBC Proms is sy werk byvoorbeeld by 73 geleenthede uitgevoer teenoor Brahms se 823 keer.
Die Italiaanse pianis Pina Napolitano is een van die jonger voorstanders van Schönberg se musiek. Vroeër vanjaar het sy nie net die eerste uitvoering van ‘n transkripsie van Schönberg se “Klavierkonsert vir 14 spelers” gegee nie, maar ook in The Guardian oor dié Oostenrykse musiekreus geskryf: “In wese verg Schönberg se musiek geloof. Dit beteken dat die luisteraar onbevange daarna moet luister. En dit vra meer tyd as ander musiek, en dat ʼn mens herhaaldelik daarna moet luister. Kan ‘n mens byvoorbeeld Picasso so vinnig snap as wat jy dit kan doen met Renoir; of Ulysses so vinnig as Great Expectations?”
0512 vk1 schoenberg
<caption>Portret van Arnold Schönberg deur Egon Schiele.
0512 vk2 schoenberg