Kuns in ’n neutedop: Vinnige feite oor Johannes Vermeer se Meisie met die pêreloorbel
Deur JOHAN MYBURG
Dalk net so enigmaties as die Mona Lisa in die Louvre in Parys is die Mauritshuis in Den Haag se Meisie met die pêreloorbel. Almal ken dié meisie wat oor haar linkerskouer kyk, getooi in ‘n tulband in geel en blou; die meisie met die groot pêrel aan haar oor en die onderlip wat effens glinster en lyk asof sy enige oomblik iets gaan sê. Maar sy swyg. En haar woorde bly ‘n geheim.
Dit is dié stil meisie wat aanleiding gegee het tot ‘n top-verkoperroman deur Tracy Chevalier en in 2003 in die gedaante van Scarlett Johansson ‘n rolprent geword het. Sy is in 1655 as tronie deur die meester van die Nederlandse Goue Eeu, Johannes Vermeer (1632-1675) geskilder. Tronie is Nederlands vir “gesig”, eerder as portret.
Portrette is in dié tyd gemaak in opdrag van belangrike mense. Daarenteen is tronies – gewoonlik gesigte van ‘n ou man, dié van ‘n jong meisie of ‘n kordate soldaat – gebruik om potensiële klante ‘n aanduiding te gee van die skilder se vermoë.
Dit was dus belangrik om skildertegniek te demonstreer en nêrens het dit só duidelik na vore gekom nie as in eksotiese klere. In Chevalier se roman heet die meisie Griet en word dié 16-jarige bediende ingetrek in die intriges van die Vermeer-huishouding. Nietemin gee Chevalier toe die skildery gee nie haar geheime prys nie.
‘n Mens sal nooit weet wat sy dink of hoe sy voel nie. En ook nie wie sy was nie. Voor 1881 was dié skildery totaal onbekend. Toe dit op ‘n veiling in Den Haag te koop aangebied is, het die kunsversamelaar AA des Tombes dié gehawende prent vir ‘n paar gulde gekoop. Met sy dood in 1902 het hy ‘n dosyn skilderye aan die Mauritshuis nagelaat, insluitende die Meisie met die pêreloorbel.
‘n Paar jaar gelede het ‘n Nederlandse wetenskaplike, Vincent Icke, aan die enigma begin torring toe hy die pêrel begin bevraagteken het. Is dit werklik ‘n pêrel wat sy aan die oor het, wou hy weet. Dit lyk eerder na silwer of gepoleerde tin. Die resultate van sy ondersoek het hy in ‘n Nederlandse fisika-joernaal gepubliseer en sy bevinding was: Die oorbel is té veel van ‘n peervorm, metaalagtig en te blink om uit die see te kan kom. “Kyk hoe ‘n voorwerp lig weerkaats en jy kan taamlik seker sê waarvan dit gemaak is,” het hy aangevoer. “Dit is nie ‘n pêrel nie.” Kurators van die Mauritshuis het daarop gereageer deur te wys dat skilders in die tyd van Vermeer nie titels aan hul skilderye gegee het nie, en dat die museum nie daarop aandring dat dit ‘n pêrel is nie.
Meisie met die pêreloorbel is egter die naam wat die skildery gehad het toe dit in 1995 deel van die Vermeer-uitstalling in die National Gallery of Art in Washington was. Die meisie was die gesig op die plakkaat wat die uitstalling geadverteer het en haar status as fotogeniese glanspersoon was ‘n uitgemaakte saak: van T-hemde tot koffiebekers.
Die “sfinks van Delft” is dié skildery ook al genoem, verwysende na die stad waar Vermeer gewoon en gewerk het en wat hy nooit verlaat het nie. Vermeer het nie baie skilderye nagelaat nie – in totaal net 36. Drie van dié 36 is in besit van die Mauritshuis – benewens die pêreloorbelmeisie ook die vroeë werk Diana en haar nimfe en die stadtoneel Blik op Delft.