Mikro-aksies is ’n nuwe gonswoord in die welstandsbedryf. Dit beteken basies dat jy klein dingetjies kan doen om jou algemene welstand en geluk te verbeter. Ons kyk na ’n paar
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Mikro-aksies is die geesteskind van die welstandskenner Aleksi Hoffman.
Volgens hom is ‘n mikro-aksie ‘n klein, maklike takie wat ‘n mens in minute kan verrig. Dit lyk dalk onbeduidend aan die begin, maar ‘n klompie sulke goeie aksies kan ‘n groot impak op jou lewe maak.
Mikro-aksie vir aktiwiteit
Besluit om vandag een roetine in oefening te omskep. As jy by die werk kom, klim eerder die trappe as om die hysbak te neem. Of as jy oor jou etensuur by die werk is, loop om die blok of stap in die aand ná ete in die straat af.
LEES OOK: Oefen julle saam?
Mikro-aksie vir gesonde eetgewoontes
Probeer om bewustelik te eet. Dit is om jou kos sonder enige afleidings te eet en dit te geniet. Moenie voor die TV of met jou slimfoon in die hand sit en eet nie. Dek ‘n mooi tafel en geniet elke happie.
Mikro-aksie vir verhoudings
Sê vandag dankie vir iemand wat iets vir jou beteken. Stuur ‘n WhatsAapp of skryf ‘n briefie of bel, maar sê dankie.
Mikro-aksie vir positiwiteit
Probeer om vir een dag glad nie te kla nie en fokus op die positiewe in jou lewe. Skryf drie dinge neer waarvoor jy dankbaar is.
Mikro-aksie vir ’n goeie bui
As ‘n mens goed lyk dan voel jy goed! Doen vandag iets anders aan jou voorkoms op te kikker. Dra ‘n mooi serp of jou gunstelinguitrusting.
LEES OOK: Brei ‘n serp of bolero
Mikro-aksie vir produktiwiteit
Te veel hooi op jou vurk? Breek alles wat jy moet doen in haalbare doelwitte op. Begin met ‘n lys en kyk wat jy dadelik kan doen, wat jy kan delegeer of wat jy tot die volgende dag moet los.