Is jy vreeslik lief vir die see en verwonder jy jou aan al die diere en plante wat daarin voorkom? Jy is dan beslis ’n goeie kandidaat om ‘n marinebioloog te word.
Lindi Herbst
’n Marinebioloog se werk behels, onder meer, die studie en observasie, sowel as beskerming van see (mariene) organismes. Dit sluit in alles vanaf die kleinste mikro-organisme tot groot walvisse. Daar is mariene bioloeë wat spesialiseer in sekere rigtings.
Karin du Preez (32) is so ’n persoon – sy het ses jaar gelede as ’n marinebioloog gekwalifiseer en toe besluit om in walvisse te spesialiseer. “Ek was van kleins af mal oor die see – elke vakansie as ons see toe gegaan het, kon my ouers my skaars uit die see uithou. As ek nie in die see was nie, het ek tussen die rotse na seediertjies gesoek – ek was mal daaroor om hulle in my emmertjie te sit, deeglik te bestudeer en weer vry te laat,” vertel sy.
“Ná skool was daar geen twyfel by my nie – al wat ek wou word, was ’n marinebioloog. In my werk het ek te doen gekry met die bewaring van sekere walvisspesies en daarom het ek besluit om in hierdie interessante diersoort te spesialiseer.”
“’n Marinebioloog doen observasies en eksperimente, bestudeer die verskillende aspekte van marineplant- en dierspesies, sien om na die inwoners van ’n akwarium en ondersoek die verhouding tussen organismes en hul omgewing,” verduidelik Karin.
“Maar daar is natuurlik ook die skryf van verslae, analise van gedrag en opleiding van studente.”
Opleiding
As jy besluit het dat jy graag marinebiologie as ’n loopbaan wil oorweeg, maak seker dat jy universiteitstoelating het. Maak gereed vir vereiste vakke soos wiskunde en wetenskap.
Opleiding verskil van instelling tot instelling – Jy kan ’n BSc-graad in oseanografie met dier- en plantkunde as hoofvakke by meeste universiteite doen. Daarna kan jy jou nagraadse studies doen – ’n honneursgraad is die minimum kwalifikasie wat jy benodig as jy ’n navorser wil word.
As jy besluit om eerder ’n diploma te doen, kan jy ’n nasionale diploma in natuurbewaring of oseanografie by die Kaapstad Universiteit van Tegnologie, die Nelson Mandela Universiteit van Tegnologie, UNISA of Tshwane Universiteit van Tegnologie doen.
Inkomste
Navorsers oor die algemeen kry nie ’n wonderlike salaris in Suid-Afrika nie – des te meer as jy ’n marinebioloog is. Jou passie vir jou werk moet eerder jou motivering wees, eerder as ’n baie stewige bankbalans. Jy kan verwag om tussen R10 000 en R12 000 per maand te verdien.
As jy spesialiseer, sal jou salaris verhoog en jy kan tussen R20 000 en R25 000 per maand verwag.
Voordele
Vir Karin is die lekkerste deel van haar werk die feit dat sy elke dag haar passie vir die see kan uitleef. “As ek nie in die see is om aktief navorsing te doen nie, het ek met een of ander vlak met die marinelewe te doen. Ek is baie lief vir die buitelewe en is so dankbaar dat ek nie heeldag in ’n kantoor vasgevang is nie!”
’n Marinebioloog is gedurig besig met navorsing – hoe lekker moet dit nie wees om nuwe dinge oor die marinelewe te ontdek en ander mense daaroor in te lig nie? En wie sal nie graag op hul CV wil skryf dat dit deel van hul werk is om gereeld te gaan duik nie?
En natuurlik is daar vele werksgeleenthede – by universiteite, museums, die CSIR, akwariums, die Navorsingsinstituut vir Seevisserye, die departement van omgewingsake en toerisme, die Nasionale Parkeraad, die Oseanografiese Navorsingsinstituut of jy kan op jou eie as ’n konsultant werk.
Nadele
Raad
• Wetenskap maak ’n baie belangrike deel uit van marinebiologie, jy moet dus ’n aanleg vir wiskunde het.
• Marinebioloë werk dikwels saam in spanne, so dis sonder twyfel belangrik dat jy goed in ’n span kan saamwerk.
• Om te duik, vereis dat jy fiks is. Jy gaan ook soms vir lang tye op die see wees.
Kontakte
• Die Universiteit van Kaapstad
• Die Universiteit van Stellenbosch
• Suid-Afrikaanse Vereniging vir Marine-Biologiese Navorsing