Carien Grobler se artikel op bladÂsy 20 oor ekstreme ouerskapstyl en die nadele wat dit vir kinders op die duur inhou as hulle bederf of te streng grootgemaak word, het my laat dink
Carien Grobler se artikel op bladsy 20 oor ekstreme ouerskapstyl en die nadele wat dit vir kinders op die duur inhou as hulle bederf of te streng grootgemaak word, het my laat dink.
Sowat 18 maande gelede was ek op ’n werksbesoek in Duitsland. Toevallig is die kongres in dieselfde stad gehou waar ek meer as 20 jaar gelede gewoon het. Op die laaste dag van my besoek het ek op my voetspore teruggegaan en in die voetgangersone waar ek destyds dikwels met my kinders geloop het, by ’n koffiewinkel op die straat gaan sit en die mense dopgehou. ’n Jong ma met haar dogtertjie in ’n stootwaentjie het uit die winkel langsaan gekom en so tien tree voor my gaan staan. Die ma wou by haar kind weet of sy warm kry en haar trui wou uittrek. Die dogtertjie kon nie ouer as ’n jaar gewees het nie en tog het die ma nie eenvoudig vir haar kind besluit nie, sy het met haar in gesprek getree. Dit het bevestig wat my destyds in Duitsland reeds opgeval het. Duitse kinders word van kleins af aan keuses, besluitneming en gesprek blootgestel. Wat myns insiens die grondslag vorm vir die beskaafde en verantwoordelike manier waarop Duitsers as volwassenes ’n debat kan voer. Al stem hulle nie met mekaar oor iets saam nie, gun die een die ander sy of haar mening.
Ons Suid-Afrikaners sukkel daarmee. As ons in die kerk nie met mekaar saamstem nie, stig ons af. Dis mos in elk geval ’n sosiale taboe om oor godsdiens en politiek te praat, want tradisioneel lei dit tot ’n geveg of minstens onenigheid. Lees maar net die trant van lesersbriewe in ’n bekende Afrikaanse koerant se briewekolom. As volwassenes só teenoor mekaar optree, waar laat dit kinders in hul verhouding met hul ouers en ander volwassenes? Glo ons steeds kinders moet gesien, maar nie gehoor word nie? Dink ons steeds as hulle nie wil hoor nie moet hulle voel?
Wat my by ’n derde taboegesprek bring. As jy nou by ’n emosioneel gelaaide onderonsie betrokke wil raak, moet jy ouers wat glo die roede moenie gespaar word nie, op die negatiewe uitwerking daarvan wys. Menige onderwyser voel ook dat sedert lyfstraf op skool ontoelaatbaar is, kinders handuit geruk het. Maar is dit nie omdat ons nie die vermoë het om ons kinders van kleins af touwys te maak in die kuns van die gebruik van taal om verskille uit te pluis nie?
My een broer woon in Kanada waar lyfstraf onwettig is. Daar lees jy nie van kinders wat uit bevoorregte huise kom en skuldig bevind word aan moord op ’n boemelaar nie. Ook nie van kinders wat ’n skoolmaat so toetakel dat hy ’n testikel in die proses verloor nie. Maar dalk is dit omdat jy ook nie in ’n hoofberigfoto op ’n koerantvoorblad sien hoe ’n dagmoeder se vingermerke steeds sigbaar is op ’n nege-maande oue weerlose baba se wang waar sy hom die vorige dag geklap het nie. Haar verduideliking dat die hou eintlik vir haar eie kind bedoel was, wat gekoes het, vul my met verdere afgryse. Sy regverdig haar optrede waarskynlik omdat sy glo “praat help nie”. Ek stem nie saam nie. Ek dink sy het dit gedoen omdat sy kan, omdat sy die mag het en nie geleer het om beskaafd op te tree nie.
Volgens my slaan een van die groot godsdienswetenskaplikes Jonathan Z. Smith die spyker op die kop as hy sê … to be able to negotiate difference is to be civilised.
Tot volgende keer.
Eldaleen is die redakteur van Vrouekeur.