Grande Provence se The Restaurant in Franschhoek het pas hul nuwe winterspyskaart bekend gestel.
Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts
Die erfenislandgoed is een van die Franschhoekvallei se gewildste bestemmings met luukse verblyf. Dié landgoed is deel van The Huka Retreats en sluit die volgende trekpleisters in: The Winery, The Jonkershuis, The Gallery, The Sculpture Garden en The Shop.
Deur die beste plaaslike, seisoenale produkte te gebruik en ’n verskeidenheid style van reg oor die wêreld aan te wend, gee Darren, die uitvoerende sjef uiting aan sy passie deur interessante en uitdagende bestanddele in sy kombuis te verken. Met ’n sterk fokus op die visuele aspekte van kos, die wye verskeidenheid van geure en smake en noukeurige aandag tot die laaste mikrokrui, is elke bord ’n sintuiglike ervaring.
LEES OOK: Kunsroete in Franschhoek nou deel van repertoire
“Ons nuwe spyskaart is ‘n skouspel van opwindende bestanddele en beloof om ‘n diverse kos-ervaring te wees. Met sy nuwe winterspyskaart gee sjef Darren interessante kinkels aan verskeie kookstyle deur ‘n wye verskeidenheid vleis en vars produkte te gebruik.
Gaste kan kies en keur uit voorgeregte van wilde porcini-sampioene en gesoute foie gras-mousse; terrine van wilde haas met gerookte-varkpens-en-boontjie-cassoulet; gerookte forrel wat gesout, geskroei en verkoel word, bedien met suurlemoen-korokke; en ‘n bed van umami risotto met geskroeide kammossels, geroosterde langoustine, gesoute chorizo, aspersie en vinkel.
Vegetariërs sal gaande wees oor sjef Darren se “Monochrome of forrest green” met ’n bosland van baba murgpampoentjie, tempura-boerkool, wilde kruie en geklopte tarragon-room, pesto-koppies van rivier-spruite, verkoolde aspersies en ingelegde sampioene.
Die 12-uur beeswang met plaaslik geplukte sampioene en beenmurg-jus gras; en Darren se stadig gekookte Karoo lamsnek met geroosterde knoffel-en-witwortelpuree, halloumi-kaas in kruisement en verskroeide baba broccoli, is die ideale wintertroos vir karnivore. Diegene wat vis verkies kan weglê aan safraan, kokosneut en geroosterde tamatie-bouillabaisse met volhoubare seekos, vanielje en rooipeper-rouille en ‘n geroosterde sesamesaad soesji-kluitjie; of die lynvis met ‘n dop van krakerige vark-kaiing. Vir vegetariërs is daar raclette-kaas & baba prei arancini, tofoe liggies besprinkel met wilde sampioene, truffel vichyssoise velouté en gepeperde radys-spruite.
LEES OOK: Romerige hoender-aspersie-en- witwyn-pasta
Kies vir nagereg uit verloklike disse soos amandel & lemoen calisson, rooswater-parfait en witsjokolade-pêrels; warm bittersjokolade-fondant, geroosterde kaneelsponskoek, eetbare goud & gevriesde vanielje-anglaise; en Comté-kaas & amphora fondue, ’n oliebol gevul met gekarameliseerde uie-marmalade & guanciale. Óf probeer die kondensmelk teurgoule-styl sago-poeding met gevriesde pistachio-crème, kokosneut-skaafsels & basielkruid vir ‘n Suid-Afrikaanse kinkel.
Om hierdie koservaring selfs meer spesiaal te maak, word die perfekte wynpasmaats vir elke dis voorgestel deur wynmaker Matthew van Heerden.
Bespreek by 021 876 8600 of stuur e-pos aan [email protected]
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.