Jy werk jou dinges af, maar dit voel asof jy niks gedoen kry nie. Hoe word ‘n mens produktiewer?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Foto www.freepik.com
Die lewe is ‘n dolle gejaag – ons almal weet dit. Soms voel dit asof jy net werk en werk, maar niks kom klaar nie, die e-posse hoop op en as jy weer sien, sit jou kind al ‘n uur voor die skool vir jou en wag.
Hier is ‘n paar wenke vir verhoogde produktiwiteit.
- Probeer ‘n halfuur vroeër opstaan en kom rustig aan die gang. As jou oggende gejaagd begin, dra jy daardie gevoel heeldag saam met jou.
- As jy werk toe ry, moenie aan jou slimfoon raak nie. Gebruik hierdie tyd om rustig te ry en bewus van jou omgewing te wees.
- Let hoe na hoe jy jou werksdag begin. Neem dit jou ‘n uur om aan die gang te kom? Kyk na jou dag se skedule en begin met ‘n aftiklysie.
- As jy iets in twee minute kan klaarmaak, doen dit dadelik. Moenie uitstel nie.
- As jy die dag geen energie het nie, voltooi iets wat jy geniet en maklik vir jou kom. As jy die takie voltooi het, beweeg na die minder aangename take aan.
- Dink jy negatief oor jouself en jou vermoëns? Probeer om minder te kla en meer gedoen te kry. As jy negatiewe gesprekke met jouself voer, verander dit.
- Identifiseer die dinge wat jou tyd steel. Is dit Facebook of e-posse? Ken tyd daaraan toe en gaan net op sosiale media op die tye wat jy jouself toelaat.
- Sê nee vir onproduktiewe vergaderings wat jou tyd steel en woon net dié by wat jou met jou werk kan help.
- Baie mense dink dis ‘n prestasie om baie dinge tegelyk te kan doen, maar dit kan jou tyd steel. Probeer om op een ding op ‘n slag te fokus en maak dit klaar.
- Vat ‘n blaaskans nou en dan en staan op om jou bene te rek.
- Skakel alle “notifications” op jou toestelle af sodat jy nie in die versoeking kan kom om gou ‘n Facebook-plasing of drie te lees nie.
- Het jy geweet ‘n mens werk beter as jy na iets moois kyk? Studies het gevind dat iets wat ‘n lus vir die oog is (soos mooi plante) produktiwiteit met tot 15% kan verhoog.
- Aan die einde van ‘n werksdag, maak ‘n lys met ses punte wat jy die volgende dag heel eerste wil doen. Doen dit dan.
- Moenie ‘n uur voor slaaptyd aan jou slimfoon raak nie. Skakel af in hierdie tyd.
- Stel vir jouself klein doelwitte en werk om dit te bereik.
BRONNE: www.forbes.com, www.lifehack.org, www.inc.com