Het jy geweet dat jy jou eie wynversnit (blend) by Durbanville Hills kan maak?
Deur: Dané de Klerk
Jy ken jou smaak en weet wat jy in ’n wyn soek en dink net hoe lekker moet dit wees om ’n glasie te drink van ’n wynversnit wat jy self geskep het?
’n Rooiwyn soos jy dit verkies: dalk meer bessie- en speserygeure, minder houtgeure en ’n verfrissende smaak.
Durbanville Hills bied wynliefhebbers nou die kans om hul eie wyn by hul kelder in Durbanville in die Kaap te versny. Die middag word met ’n glasie vonkelwyn afgeskop waarna daar vyf verskillende wynvariëteite voorsien word om jou versnit te skep.
Dié ervaring sluit ’n kundige wynmaker of ambassadeur in wat die proses lei, mense meer oor die eienskappe van die variëteite vertel en verduidelik waarom sekere variëteite beter as ander harmoniseer. Daarna kan jy jou eie versnit maak wat dan gebottel en by die kelder toegekurk word.
Wilhelm Coetzee, ’n rooiwynmaker by Durbanville Hills, sê dit bied gaste die geleentheid om ’n meer praktiese en interaktiewe ervaring te hê, eerder as om net gewoon wyn te proe.
LEES OOK: Die Durbanville-wynvallei gooi sy arms oop
Ek het die voorreg gehad om my eie wyn te versnit toe Durbanville Hills dié ervaring na Johannesburg gebring het. Die geleentheid was presies aangebied soos op die wynplaas net sonder die uitsigte natuurlik. Kate Jackson, bestemmingsbestuurder van Durbanville Hills, het ons meer oor die wynplaas en -kelder vertel en hoe die versnydingsproses werk.
Ons het die vyf wynvariëteite (pinotage, cabernet sauvignon, merlot, shiraz en petit verdot) geproe en Kate het ons meer oor elke variëteit vertel. Pinotage moet byvoorbeeld 30-70% van jou versnit opmaak en ’n variëteit soos petit verdot word in baie klein persentasies gebruik net om kleur aan ‘n versnit te gee. Jy moet ook minstens vier van die variëteite gebruik. Die versnydingsproses het met baie proe en dink begin!
Soos jy geproe en gemeng het, kon ’n mens die verhouding van die variëteite verander tot jy ’n geskikte smaak kry. Die persentasies van elke variëteit van jou versnit is op ’n papier neergeskryf saam met jou naam en notas en terug Durbanville toe gestuur om gemaak en gebottel te word.
Twee weke later is hier ’n boks met ’n groot “Fragile”-plakker afgelewer. In die boks was ’n bottel wyn (die kurk met was geseël) en ‘n sertifikaat wat sê dat dié bottel wyn wel volgens my spesifikasies gemaak is.
Ek het my eie “signature“-versnit gemaak, maar was nog te trots en te suinig om dit te proe. Dit vra vir ’n spesiale geleentheid!
Loer in die galery na foto’s van die
Johannesburg-geleentheid:
Wil jy jou eie versnit maak? Hier is inligting:
- Datums: Elke Donderdag tussen Mei en November
- Tyd: 14:00
- Plek: Die Olive Grove Terrace, Durbanville Hills
- Grootte van groepe: Minimum van agt, maksimum 24 mense per geleentheid
- Koste: R475 per persoon (sluit verwelkomingsdrankie, ‘n Durbanville Hills-voorskoot, wynversnit-ervaring, versnaperings, drankies, koffie en jou eie bottel wyn in)
Plekke is beperk en bespreking is noodsaaklik. Vir meer inligting of om te bespreek, kontak Simone Koen by 021 558 1300 of stuur ’n e-pos na [email protected]. Besoek www.durbanvillehills.co.za