Volgens ‘n studie is dit nie net wat jy eet wat ‘n verskil aan jou gewig maak nie
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Sit jy nou en hierdie artikel lees terwyl jy jou middagete eet? Wel, lees eers klaar en dan bêre jy jou selfoon of rekenaar en eet rustig klaar, want navorsers sê ons moet eet sonder dinge wat ons aandag kan aflei soos tegnologie.
Volgens ‘n studie wat in Amerika gedoen is, behoort mense aandagtig te eet en dit kan jou blykbaar help om gewig te verloor.
Deelnemers aan die studie kon kos met hoë kalorieë eet, maar hulle moes dit aandagtig eet. Net fokus op die kos en nie op die TV, selfoon of rekenaar nie.
Dr Carolyn Dunn van die North Carolina-staatsuniversiteit sê hulle het mense gevra om steeds die kos wat hulle geniet, te eet, maar soms net een of twee happies en dan met bewustheid sodat hulle die meeste plesier daaruit kon kry.
Ander navorsing het reeds gewys dat die eerste twee happies van kos met die meeste genot geassosieer word.
Die program het 15 weke geduur en 80 mense se resultate is nagegaan. Diegene op die aandagtigheidsprogram het die meeste gewig verloor.
Wat is aandagtigheid? Dit is om aandag aan jou omgewing te gee en in die huidige oomblik te leef.
Carolyn sê as mense gesonder wil leef, moet hulle daarvan wegbeweeg om met afleidings te eet en regtig gaan sit en eet met meer bewustheid.