Die Stellenbosse wynplaas Alto het verlede week sy bekendste wyn vir uitgenooide wynskrywers in Kampsbaai ten toon gestel
Woorde en foto’s: Clifford Roberts
Wynmaker Bertho van der Westhuizen het die proe van Alto Rouge behartig en die verskille tussen ses van sy onlangste oesjare – 2009 tot 2015 – uitgewys.
Die funksie is by La Parada del Mar, ’n restaurant in die Harbour House-groep, gehou. Wyne is bedien met ’n verskeidenheid tapasgeregte insluitend geskroeide seekat, varklies, lamkruisskyf en kabeljou.
Alhoewel wingerd-en wyntegnieke groot veranderlikes in ’n wyn se betrokke oesjaar is, maak klimaatstoestande meestal die grootste impak op die geure en kleur wat druiwe tot ’n wyn bydra.
So word 2009 en 2015 oor die algemeen as uitsonderlik goeie oesjare vir Suid-Afrikaanse wyne beskou.
Wat Alto betref, was die 2009 beslis een van die gewilder wyne by die Kampsbaai-proe, terwyl die res van die wyne in die vertikale proe ook aanhangers gehad het. Daar is saamgestem dat die 2015 Alto Rouge die potensiaal het om met veroudering, net soos die 2009 uit te styg.
Die Alto Rouge is ’n versnit wat net van die landgoed se druiwe gemaak word. Dit is deel van ’n klein portefeulje wyne wat net uit rooi-kultivars bestaan en is in die kol ten op sigte van sy ligging, tussen Stellenbosch en Somerset-Wes, wat veral vir sy uitmuntende rooiwyne bekend is.
“Alto se wingerde lê meestal op ’n noordelike helling, wat in Suid-Afrika ’n warmer omgewing is en ook ideaal is vir ons Bordeaux-variëteite. Die wingerde kry oor die algemeen meer sonlig,” sê Bertho. “Ons nabyheid aan die see maak dat ons ook die voordeel geniet van ’n maritieme-klimaat waar die druiwe deur seebriesies afgekoel word, terwyl die verskil in hoogte van die wingerde ook ’n verskil in temperatuur teweegbring.”
Die plaas se naam is ‘n verwysing na hierdie hoogte van die wingerde teen die hange van die Helderberg. Sy Alto Rouge word eers ongeveer twee jaar na oes-datum vrygestel.
As deel van Distell is Alto se wyne wyd verkrygbaar en word die Alto Rouge ook uitgevoer na Afrika-lande, Taiwan en die VSA. Dit is aanlyn te koop by Distell se wynwinkel, die Vinoteque teen minder as R100 per bottel.