Só kan jy ’n tafel in goud dek vir ’n koninklike Kersete. Kry inspirasie vir tafeldek in ons 12 Desember-uitgawe.
Maryke Roberts
Wanneer jy ’n tafel dek moet jou beginpunt altyd die beskikbare dinge in jou huis wees. Jy kan ook baie eenvoudige versierings vir ’n luukse voorkoms met net ’n spuitkannetjie verf bykom.
Só glo Aleit Swanepoel, eienaar van die Aleit-groep op Somerset-Wes, wat in die organisering van sosiale gesellighede spesialiseer. Hy het al met elke denkbare tema te make gehad.
Hy vertel hier hoe jy ’n tafel in goud kan dek.
Koninklike goud
Al die Kerselemente is vir hierdie tema gebruik en alles is goud geverf. Die kleur werk goed vir die Kerstema, want dit dui op gee. Goud was immers een van die wyse manne se geskenke.
Gebruik natuurlike elemente wat maklik buite gevind kan word. Allerhande elemente in en om die huis kan by hierdie tema ingebring word: leë wyn- en sjampanjebottels kan goud gespuit word om as kersblakers te dien. Gebruik dennebolle, vrugte en plastiekdiertjies wat jy by die supermark koop. Gebruik spieëls vir weerkaatsing en Franse lint om jou messe en vurke sodat elke gas ’n messegoedstelletjie met servet kan neem en kan gaan sit.
Ons het ’n goue Kersboom gebruik wat Joe Dreyer van Jellyfish vir ons uit natuurlike elemente gemaak het en goud gespuit het.
Sit dié geregte op die tafel
Wat van ’n lekker geroosterde hoender of eend en groente saam met die goue tema en natuurlik ’n heerlike glasie sjampanje. Vir nagereg, dink aan goue sponssuiker, tameletjie wat jy saam met kaalgatperskes of enige ander geel vrug kan bedien.
Hierdie tema is elegant en sjiek. Dink aan vingerhappies, vonkelwyn en sitplekke oral in die tuin, waar mense hulself by een lang tafel kan help en dan in groepies met hul bordjie eetgoed en wyn of pons kan sit en kuier.
Meer inligting
SOURCES
Jac Kritzinger