Die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) is onlangs vir die 22ste maal op Oudtshoorn gehou en bied waarlik iets vir elkeen
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts
Rhodé Snyman, uitvoerende hoof van die KKNK, sê: “Daar was 105 produksies op die program, 15 visuele kunsuitstallings, 10 Klein Karoo Ervarings, vyf gespreksreekse, verskeie hoorbeelde en musiek op vier verhoë.
“Dit is baie moeilik om die aantal besoekers by vanjaar se fees te bepaal, omdat daar baie gratis aktiwiteite is, waarvoor kaartjies nie uitgereik word nie. “Daar is vanjaar 6% meer teaterkaartjies as verlede jaar verkoop en ons is veral trots daarop dat kaartjieverkope vir Uitkampteater meer as verdubbel het, teenoor verlede jaar se eerste aanbieding,” vertel sy.
Vrouekeur het by ’n paar van die vertonings, boekbesprekings, kunsuitstallings en musiekproduksies gaan inloer.
Hier is enkele hoogtepunte:
Die ATKV Boeke oase was ’n gesellige plek waar die praatjie, Skrywers op pad heelwat mense gelok het. Erns Grundling het oor sy boek, Elders, en Dana Snyman oor sy laaste boek, Op pad met Daniel Hugo as gespreksleier opgetree. Die een skrywer het internasionaal gereis, die ander verkies reise in sy eie land. Die een kyk na die groter prentjie van die mens se soeke na betekenis, die ander skep klein onthou-oomblikke wanneer sy pad met dié van onbekendes kruis.
’n Nuwe geskiedenistoer vanjaar was die Velskoen Shuffle, aangebied deur Potskerf Inheemse Kennis en Erfenis Navorsingsentrum. Die toergids, Jeremy-Dao van Wyk, ontmoet meestappers voor die toerismekantoor. Hy vertel die erfenisroete van sowat 2,8 km sluit agt erfenispersele in. “Ons gee die geskiedenis ’n lekker inheemse inslag. Die toer fokus op die drie komponente wat die grootste rolspelers was in die Oudtshoorn soos ons dit vandag ken,” vertel hy. “Die drie komponente is die Jode, Afrikaners en mense van gemengde afkoms soos die Khoi, San en Hottentotte. Vandag het ons nie soos baie ander dorpe afguns en bakleiery tussen mense nie, ons dorp werk saam en ons neem hande.”
Reza de Wet se Asem met Antoinette Kellermann, Tinarie van Wyk Loots, Stian Bam en Edwin van der Walt speel af in die laaste bitter dae van die Suid-Afrikaanse oorlog, in ’n uitgebrande skuur. ’n gewonde Boeregeneraal word versorg deur Anna, ’n kruiedokter van uitsonderlike magte. Haar aantreklike, maar bloedlose dogter, Annie, is ook besig om te veg vir haar lewe, maar het veel meer nodig as haar ma se konkoksies. Die generaal se dapper adjudant, gebrei deur die slagveld en die afgryse van oorlog, staan nou voor ’n verskriklike keuse en ’n nuwe onnoembare gevaar.
Beurtkrag met Ivan Botha en Donnalee Roberts vertel van wanneer Jasper en Fransie vir die eerste keer saam intrek, beurtkrag hulle tref. Wat veronderstel was om die perfekte onthou-dag te wees, ontaard in ’n aand waarin hul verhouding se bagasie oopgekrap en uitgepak word.
Buite Land met Elize Cawood, Jacques Bessenger, Kopano Maroga, Ntombi Gasa, Mpume Mthombeni en Marvin-Lee Beukes, is die nuutste drama deur die multibekroonde teatermaker en skrywer Neil Coppen. Dit fokus op die verstrengelde lewens en drome van twee Suid-Afrikaanse mans. Jacques is ’n Afrikaanse narkotiseur in ’n gemeenskapshospitaal in Pietermaritzburg. Sizwe is ’n Zoeloesprekende choreograaf en student aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, wat ’n roeping (ukuthwasa) om ’n sangoma te word van sy voorvaders ontvang. Jacques en Sizwe ontmoet vir vlugtige seks, maar wat as ’n vlietende ontmoeting beplan is, verander in ’n diepsinnige reis.
Hond met Frank Opperman is die verhaal van hond – man se beste vriend veral wanneer daardie man se huwelik maar wankelrig is en dit beslis nie sy vrou is wat hom by wyse van spreke stertswaaiend by die huis inwag nie. Maar wat gebeur as die hond besig is om oud en siek te word? Moet hy uitgesit word en net so belangrik, wanneer presies? Hoe neem ’n man afskeid van sy beste vriend?
Liewer met Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en Tarryn Wyngaard is ’n lewende disseksie van vier karakters wat dit verdien. Tussen hedonisme en sinisme, dierlikheid én dierbaarheid, word nuwe moontlikhede vir teerheid ontgin, deur onder die oppervlak van die liefde se clichés te delf.
Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran met Dawid Minnaar speel af in ’n Joodse kwartier in Parys in die 1960’s, waar die gekwelde Joodse seun Moses (of Momo) ’n onwaarskynlike vriend in ’n eensame Moslem-winkeleienaar, Monsieur Ibrahim, vind. Ibrahim is ’n toevlug vir Momo, gee hom raad en leer die vroegryp seun geleidelik meer oor die lewe. Wanneer Momo se pa – ’n passiewe, aggressiewe prokureur wat sy seun verwaarloos – verdwyn en dood gevind word, neem Ibrahim die weeskind aan. Die twee besluit om ’n reis deur Europa na Monsieur Ibrahim se geboorteplek te onderneem, wat hulle by die belangrikste kruispad in hul lewens bring.
Loki Rothman en Albert Frost sit snare bymekaar in hul ongelooflike produksie, Die akoestiese Kitaar. Albert is bekend vir sy ongelooflike bluesrock-styl en Loki vir sy virtuose spel en vir sy perkussie op die bakwerk van die kitaar. Musiek van Frost se nuwe album, The Wake Up, is gehoor, asook van Rothman se bekende nommers.
- Die Kannas – die prestige toekenning waar kunstenaars, regisseurs en ander deelnemers vereer word – word later vandeesmaand in Kaapstad gehou en die 23ste KKNK word van 29 Maart tot 4 April 2018 gehou.