Om die bedoeling te verstaan, het ’n mens die konteks van die stelling ook nodig
Op ’n dag keer ’n baie entoesiastiese jong leser my in ’n boekwinkel voor. Sy is lief vir lees, maar sy het ’n vraag: “Hoe weet ’n mens of jy ’n gedig of roman ‘reg’ verstaan; dat jy verstaan wat die skrywer of digter bedoel het?”
’n Mens kan haar vraag verstaan, want in ons alledaagse kommunikasie met mense probeer ons die hele tyd ander mense se bedoelings verstaan. Wanneer iemand sê: “Hier trek ’n koue luggie,” kan ons agterkom dat dit nie bloot ’n opmerking oor die veranderende seisoen is nie, maar dat die spreker eintlik wil hê dat jy die venster moet toemaak. Om die bedoeling te verstaan, het ’n mens die konteks van die stelling ook nodig – jy moet weet dat die spreker jou ma is en dat sy maklik koud kry en dat sy nie baie beweeglik is nie en ook te skaam voel om direk gunste van ander mense te vra.
As jy nie al hierdie kontekstuele gegewens in gedagte hou nie, kan jy dalk antwoord dat die seisoen inderdaad aan die verander is en dat die somer helaas verby is. Dan het jy egter nie die doel van die spreker verstaan nie. Dieselfde beginsel word dikwels ná die lees van ’n gedig of roman oorgedra. Die leser wil weet wat die outeur bedoel het. Die eerste probleem hiermee is dat ons die gedig of roman “buite konteks” lees. Wanneer jy met iemand gesels, is julle in ’n bepaalde konteks. Ook wanneer jy ’n boek oor die werking van die skildklier of gebruiksaanwysings vir jou nuwe TV lees, is die konteks baie duidelik. ’n Literêre teks verskil hiervan.
Pablo Neruda het sy gedig op ’n ander kontinent in ’n ander taal geskryf, in historiese omstandighede waarvan ek dalk niks weet nie. Nietemin lees ek die gedig hier, in ’n ander tyd en plek. Selfs al leef ’n skrywer nog, kan ek waarskynlik nie sommer vir hom ’n brief skryf en dink dat hy presies vir my gaan opklaar wat hy bedoel het nie. Dit is moontlik dat die skrywer self nie weet wat hy gedink het toe hy ’n sekere deel van die teks geskryf het nie! Chris Barnard is een keer gevra oor die geheimsinnige gaatjie in die sifdeur in sy roman, Mahala. Iemand wou weet of dit ’n koeëlgat is en of die gaatjie regtig in die sifdeur is of net in die karakter se gedagtes bestaan. Barnard se antwoord was: “Nou hoe de hel moet ek weet?”
Literêre werke is dikwels nie tot ’n enkele betekenis beperk nie omdat die skrywer ook onbedoeld dalk baie meer kan sê of iets anders kan sê as wat hy aanvanklik bedoel het. Bloot die keuses vir ’n spesifieke vertelvorm of woordeskat kan dalk iets meer oor die skrywer en sy konteks verraai as waarvan hy bewus is, soos sy eie ideologiese uitgangspunte. ’n Skrywer kan byvoorbeeld bedoel om te skryf oor die mens se vermoë om ’n eie identiteit te skep deur sy lewensverhaal anders te vertel, sonder dat hy agterkom dat die werk eintlik ook die bevoorregting van die besittersklas uitbeeld. Kortom, ’n literêre werk is self al baie ingewikkelder as ’n enkele betekenismoontlikheid, en dan is dit boonop nie tot ’n vaste konteks beperk nie. Waar ’n boek oor skildklierfunksionering of gebruiksaanwysings vir die TV afhanklik is van ’n spesifieke konteks waarin hulle betekenisvol gelees kan word (binne die mediese veld of voor die TV) is ’n literêre werk minder konteksafhanklik.
Dit beteken nie dat die literêre werk konteksloos is nie, maar dat die konteks afgelei moet word. Die outeur neem baie aspekte van sy of haar konteks in die werk op. Die outeur reageer immers op ’n konteks. Daarom is daar verwysings na aspekte van die samelewing waarin die outeur leef en die vraagstukke oor die samelewing waarmee hy worstel. Maar uiteindelik is dit nie ’n betekenis wat iewers in die outeur se gedagtes agter die werk is wat ons moet probeer agterhaal nie (want dit kan ons immers nie). Alles wat die outeur bymekaarsit, al die feite en idees uit die omgewing, dien uiteindelik om ’n fiksiewêreld tot stand te bring. Hierdie fiksiewêreld ontstaan in die leser se verbeelding. Die leser reageer dus nie op die outeur se wêreld agter die teks nie, maar op die wêreld wat deur die outeur se teks opgeroep word.
Hierdie fiksiewêreld het geen vaste betekenis nie, maar maak meer interpretasies moontlik. Dit beteken nou ook nie dat ’n literêre werk enigiets kan beteken nie. Marlene van Niekerk se Agaat gaan nie oor atoombomme in Noord-Korea nie. Eagleton voer aan dat betekenis altyd kommunikeerbaar moet wees. Ons moet ons interpretasies oortuigend aan ander kan verduidelik. Dit beteken dat ons “tekstuele bewyse” sal gebruik (hierdie “bewyse” is natuurlik ook al interpretasies) en dit word in logiese en samehangende argumente gebruik. Oor hierdie bewyse, afleidings en redenasies kan daar voortdurend geargumenteer word. Om die bedoeling te verstaan, het ’n mens die konteks van die stelling ook nodig Deur Willie Burger
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.