Die bekroonde wynland-restaurant, 96 Winery Road op Winery-weg tussen Somerset-Wes en Stellenbosch, vier vandeesmaand sy 21ste verjaardag.
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Die restaurant is na die stigtingsjaar en sy adres vernoem en het dié geleentheid onlangs met ou bekendes en die media gevier.
Allan Forrester, restaurantbestuurder, het gesê hulle is baie trots op hierdie mylpaal, omdat nie baie restaurante die voorreg het om hul mondigwording te vier nie! Boonop is die restaurant se vier stigterslede steeds by die restaurant betrokke, naamlik Allan, sy broer, Ken Forrester die bekende wymaker, Martin Meinert, ook ’n bekroonde wynmaker en sjef Natasha Wray, wat nou konsultant-sjef is.
Natuurlik sou die middag nie volledig gewees het sonder wyne van Ken Forrester Vineyards en Meinert Wines nie. Die spyskaart vir die middag was ’n kombinasie van die afgelope 21 jaar se gewildste disse, sommige nuwe disse wat beplan word en ook inspirasie vir die dag.
Ken en Martin het elkeen staaltjies onthou van die lief en leed in die restaurant en Natasha het aan gaste aan tafel vertel hoe ontsteld gaste is as hul gunstelinge van die spyskaart gehaal word, om dinge effe te vernuwe!
Hulle het ook vertel dat heelwat van hul kombuispersoneel steeds na meer as twee dekades by hulle werk en dat die 96 Winery Road-span as’t ware een groot familie is.
Die uitvoerende sjef, Adrian Buchanan en sy span, het voorwaar uitgehaal en gewys met onder meer peuselgoed soos die Wagyu steak tartare en Kataifi garnale voor die tyd, wat met die nuwe Sparklehorse Ken Forrester Chenin Blanc MCC bedien is.
Die ander wyne wat met die geregte gepasmaat is, was die Meinert “the German Job” Riesling 2015; Ken Forrester Chenin Blanc Reserve 2016; FMC 2015 , Forrester Meinert Chenin Blanc; Devon Crest 2006 van Martin Meinert en die Meinert Semillon Straw Wine 2013.
Besoek www.96wineryroad.co.za vir meer inligting.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.