Dis duur om dokter toe te gaan en met inligting oor jou simptome net ’n klik ver, is dit soveel makliker om jouself te diagnoseer en behandel, maar dit moet verantwoordelik gedoen word
Deur ANSJA FERREIRA
“Die hoë koste van mediese fondse en algemene gesondheidsorg, insluitend dokters se konsultasiegelde, die voortgesette ekonomiese insinking en maklike toegang tot gesondheidsinligting, is van die sleutelfaktore wat daartoe bydra dat mense selfmedikasie gebruik,” sê Mariska van Aswegen, woordvoerder van Pharma Dynamics, ’n generiese farmaseutiese maatskappy.
“Ons leef in ’n era waar verbruikers hulle met behulp van die internet kan bemagtig en dit dan ook doen,” sê Mariska. “Meer en meer mense diagnoseer siektes aanlyn en probeer dan die simptome daarvan verlig met oor-die-toonbank- of alternatiewe medikasie. Mense het ’n aktiewe belangstelling in hul gesondheid en sorg dus dat hulle ingelig oor gesondheidskwessies van ’n mindere of meer ernstige aard is.”
Volgens Mariska bestaan die risiko om jou siekte verkeerd te diagnoseer wanneer jy inligting vanaf die internet of ander bronne gebruik en dit kan tot die gebruik van die verkeerde medikasie lei. “Jy kon jouself korrek gediagnoseer het, maar die verkeerde medikasie neem, wat daartoe kan lei dat die probleem of simptome vererger, pleks vanverbeter” sê Mariska.
Sy waarsku ook dat oor-die-toonbankmedikasie die bestuur van chroniese toestande soos hoë bloeddruk en diabetes kan beïnvloed, moontlike interaksies met chroniese medikasie kan hê en die onderliggende simptome van ’n ernstiger siekte of besering kan verbloem. “Dit is daarom eerstens belangrik om jou apteker se raad te vra voordat jy selfmedikeer en hom ook ’n duidelike beskrywing te gee van jou simptome sowel as enige ander medikasie of komplementêre medikasie (insluitende vitamienaanvullings) wat jy neem,” sê Mariska.
Tweedens is dit ook belangrik om jou toestand en simptome te monitor as jy verkies om te selfmedikeer en jou dokter te gaan spreek indien jou simptome nie verbeter nie, beveel sy aan. Die Self-Medication Manufacturers Association of South Africa (SMASA) is in 1999 gestig om die belange van die vervaardigers van nievoorskrifmedisyne te verteenwoordig.
Hulle bevorder die waarde van gesonde lewenstylkeuses en verantwoordelike selfmedikasie in Suid-Afrika onder gesondheidslui, gesondheidsowerhede en die publiek. Volgens SMASA word daar nie van verbruikers verwag om professionele kennis te hê nie, maar hulle behoort ten minste voldoende ingelig te wees rakende die voordele en risiko’s van selfmedikasie om sodoende ingeligte besluite oor hul eie gesondheid te kan maak.
“Omdat selfmedikasieprodukte nie ’n mediese voorskrif vereis nie, behoort verbruikers hierdie produkte volgens hul eie diskresie te gebruik, verkieslik in ooreenstemming met die riglyne wat binne-in die verpakking aangedui word of die raad volg wat deur ’n professionele gesondheidsorgkenner aanbeveel is.
“Verantwoordelike gebruik beteken om te weet wanneer dit nodig is om ’n dokter of apteker te gaan spreek en nie net op selfmedikasieprodukte staat te maak nie,” sê Allison Vienings, uitvoerende direkteur SMASA. “Verbruikers behoort ’n baie duidelike prentjie te hê van wat die potensiële voordele en die risiko’s van selfmedikasie is,” sê sy.
Voordele
In heelwat Derdewêreldof ontwikkelende lande en selfs in sommige ontwikkelde lande, is regeringshulpbronne te beperk om basiese medisyne en gesondheidsorg aan die algemene bevolking te voorsien.
Selfsorg en verantwoordelike selfmedikasie vul dikwels hierdie gaping en word gebruik om minder ernstige toestande te behandel waarvoor die sorg van ’n dokter nie nodig is nie.
- Dit bring ook verligting aan medici wat onder druk verkeer om daagliks ’n groot aantal pasiënte te help.
- Dit bemagtig pasiënte om beheer oor hul gesondheid te neem deur nieoordraagbare siektes soos diabetes, hartsiektes en hoë bloeddruk te monitor.
- Die pasiënt het toegang tot medikasie wat vir hom of haar verligting kan bied.
- Die pasiënt speel ’n aktiewe rol in sy of haar gesondheidsorg.
- Beter aanwending van dokters en aptekers se vaardighede en ’n verminderde las op regeringsbronne danksy ’n laer koste vir die behandeling van minder ernstige toestande.
Risiko’s
- Die grootste risiko is ’n gebrek aan mediese kennis om siektes te behandel. Dit kan tot die verkeerde selfdiagnose en behandeling lei.
- Deur alleenlik op selfmedikasie te vertrou en uit te stel of te versuim om behoorlike en professionele mediese raad in te win, kan tot die dood lei, weens die erns van ongediagnoseerde of verkeerd gediagnoseerde siektes, of die verkeerde gebruik van medikasie.
- Sommige algemene medikasie wat as selfmedikasie beskikbaar is, kan ernstige nadelige effekte hê. Die gebruik van sekere pynverligtende medikasie kan tot ernstige bloeding in die maag en ingewande lei en ook duiseligheid veroorsaak. Anti-allergiese medikasie wat vir ’n hoes of verkoue gebruik word, kan lomerigheid en verwarring veroorsaak.
- Oormatige dosering kan tot afhanklikheid en verslawing lei. Hierdie risiko’s is egter nie net tot selfmedikasie beperk nie, maar kan ook by voorskrifmedikasie voorkom.
Wenke
- Die veiligheid van die spesifieke medikasie behoort bewys te wees en die medikasie moet van goeie gehalte wees.
- Wanneer gebruikers selfmedikeer, behoort hulle te bepaal of hul toestand selfmedikasie regverdig (toestande soos byvoorbeeld verkoue of griep).
- Wees ekstra versigtig wanneer bejaardes, swanger vroue en kinders betrokke is.
- Hou streng by die aanwysings rakende die dosering en tydsduur waarvolgens die produk gebruik moet word, wat op die verpakking aangedui word.
- Verkry soveel as moontlik inligting van ’n gesondheidsorgspesialis rakende die veilige en verantwoordelike gebruik van selfmedikasie.
Selfsorg en verantwoordelike medikasie
Moet nooit iemand anders se voorskrifmedikasie gebruik nie. Dit kan met Russiese roulette vergelyk word. Miskien werk die medikasie vir jou en jy kom daarmee weg, maar dit is ook moontlik dat die medikasie verwoestende gevolge op jou liggaam kan hê en selfs jou dood kan veroorsaak.
Jana van Wyk* het van haar man se antibiotika gebruik toe sy oor ’n naweek begin verkouerig raak het. “Dit was ’n ou pakkie wat hy nie opgebruik het nie. Ek was van plan om die Maandag in elk geval dokter toe te gaan om my eie antibiotika te kry, maar wou net solank iets begin gebruik wat my gou beter sou laat voel.
Min het ek geweet dat ek vir dié spesifieke soort antibiotika allergies is. Ek het ’n week in die hospitaal deurgebring met blase oor my hele lyf.”
Volgens die Mayo Clinic is die Stevens-Johnson-sindroom ’n seldsame, maar ernstige sindroom wat jou vel en slymvliese aantas en gewoonlik ’n reaksie op ’n medikasie of infeksie is. Moenie iemand anders diagnoseer en vir hom of haar van jou voorskrifmedikasie gee nie, sê *Anine le Roux, wie se suster vroeër vanjaar oorlede is nadat sy voorskrifmedisyne gebruik het sonder dat ’n dokter haar gesien en gediagnoseer het.
“Sy was net moeg en uitgebrand en ’n vriendin het vir my suster antidepressante by ’n ‘doktervriend’ gekry. Die gebruik van die antidepressant sonder dat sy werklik depressief was, het ’n chemiese wanbalans in haar brein laat ontstaan.
Sy het uiteindelik selfdood gepleeg”, vertel Anine. Selfmedikasie behels tegelykertyd die verantwoordelike gebruik van medikasie sowel as om gesonde lewenstylkeuses te maak om minder ernstige siektes te voorkom.
SMASA is ’n sterk voorstander van selfsorg en verantwoordelike selfmedikasie en het ten doel om die onrusbarende tempo waarteen nieoordraagbare siektes vermeerder, te help beveg. Nieoordraagbare siektes soos hartsiektes, hoë bloeddruk, cholesterol en diabetes is tans vir 40% van die jaarlikse sterftes in Suid-Afrika verantwoordelik en gebruik ’n aansienlike deel van die hulpbronne in die gesondheidsorg.
Allison sê nieoordraagbare siektes is tweede op die lys van Suid-Afrika se “viervoudige las van siektes”, wat ook MIV, tuberkulose en kindersterftes insluit. “Selfmedikasie maak deure oop vir voorkomende behandeling wat ’n belangrike rol kan speel om die risiko’s vir hierdie nieoordraagbare siektes te verminder, veral onder diegene wat nie altyd kan bekostig om dokter toe te gaan of maklike toegang tot klinieke het nie.
Dis wanneer selfmedikasie ’n belangrike rol in hul gesondheidsorg speel,” sê sy. Met Internasionale Selfsorgdag op 24 Julie, is daar geen beter tyd om goeie gesondheid te herwin en jouself met kennis toe te rus om minder ernstige toestande soos verkoues en griep deur selfsorg en verantwoordelike selfmedikasie te behandel nie.
Die doel met Selfsorgdag is om die publiek aan te moedig om slimmer gesondheidskeuses uit te oefen. SMASA moedig alle Suid-Afrikaners aan om te begin om beter vir hulself te sorg deur gesonde eetgewoontes, oefening en om lewenstylkeuses te maak om siektes te vermy.
*Skuilname
Besoek www.pharmadynamics.co.za
Besoek www.smasa.ccof kontak SMASA by [email protected]