Megan van der Merwe is die assistent-wynmaker by Constantia Glen
Deur Maryke Roberts
Foto verskaf
Sy het gedurende haar BSc Agric-graad in Wingerd- en Wynkunde aan Stellenbosch Universiteit deeltyds in allerhande proelokale gewerk. Dit het haar in staat gestel om die mense en wyne van Stellenbosch goed te leer ken, terwyl dit (en Bohemia se bokswyn) haar yskas vol gehou het.
Megan vertel dat al aanbid sy die berge en wingerde, sy dit geniet om in die stad te woon. Dus het sy in die lewendige, multi-kulturele Woodstock nesgeskop. Die kriewelende strate verseker beslis dat sy nooit haar mooi buitelugkantoor as vanselfsprekend aanvaar nie.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
Elke wynentoesias se geskiedenis met wyn is uniek. Ek is ’n 24-jarige wynmaker wat mý avontuur deur noemenswaardige wingerde met ’n enkele sluk begin het. Goed, ek bieg, dit was dalk meer as een sluk. Op die ouderdom van 18 het ek geen idee gehad van wat ek eendag sou wou word nie. My ouers het gemeen dat ’n algemene eerste jaar in BSc my meer sou leer as ’n oorbruggingsjaar êrens oorsee. Ek vind toe uit dat ek gedurende hierdie jaar ’n hoofvak kon neem waar ’n mens in klastyd wyn proe! As ’n student het ek natuurlik díe opsie gekies, en ek beland toe tot my verbasing binne-in die botter.
Hoe het jy in jou huidige pos beland?
“Beland” is ’n gepaste woord! Ek was ná my BSc-graad met ’n nagraadse bemarkingskursus by die Universiteit Kaapstad besig toe my vingers begin jeuk. Die hele besigheidswêreld was vir my vreeslik interessant, maar met al my vriende hard aan die pars, het ek nostalgies begin raak oor my dae onder Moeder Natuur se sweep. Dit was met díe dat ek toe vir Constantia Glen kontak om te hoor of ek so nou en dan kan kom uithelp, tussen my studies deur. Hulle het heel verbasend vir my ’n pos as kelder-intern vir die seisoen aangebied. Ek het toe saam met die 2015-druiwe by die kelder aangekom, en is net nooit weer daar weg nie.
Wat het jy vinnig as wynmaker geleer, wat jy nie verwag het nie?
Dat ’n mens met minder slaap kan regkom as wat ’n mens dink, en ek is BAIE lief vir my slaap.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder die volgende paar jaar – nuwe kultivars, versnitte ens?
Dit is nie wat ék beplan nie, maar wat die natuur vir ons beplan! Wat ek ook al doen, is ’n funksie van wat buite gebeur. Hou hierdie ruimte dop.
Van watter beroep het jy op skool gedroom?
Ek wou letterlik ’n Steve Irwin word. Die oorlede “crocodile hunter” was my held. Ek en my neef het as kinders ure buite spandeer met ons natuurgidse en verkykers. Snaaks genoeg het ek nie té ver afgedwaal nie…
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Elke sluk wyn is ’n samevatting van ’n spesifieke tyd en plek in die geskiedenis, ’n versameling van omstandighede wat nooit weer herhaal sal word nie.
Wat is jou gunstelingkultivar en hoekom?
Die hardkoppige semillon. Dit was die eerste druifsoort waarvan ek wyn gemaak het.
Met watter kultivar het jy nog nie gewerk nie, wat jy graag sal wil?
Mourvedre.
Wat is jou mooiste herinnering rondom wyn?
Dit is moeilik om te sê, want ek vier elke geleentheid met ’n glas wyn in my hand, al vier ek net die feit dat my wasgoed klaar opgehang is. As ek een moes kies, sou dit die liters MCC ná my gradeplegtigheid saam met my klasmaats wees.
Wat glo jy is die uitdaging/eise vir ’n wynmaker in SA in 2017?
Die klimaat.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die nat 2014-oesjaar.
Watter een groot struikelblok het al vir jou in die kelder gewag, wat jy trots was om te oorkom?
Maandae.
As jy ’n kelder kon ontwerp en bou, wat sal vir jou noodsaaklik wees?
’n Goeie musiekstelsel.
Watter wyn- en kos-pasmaat geniet jy gereeld en vind dat die twee mekaar perfek aanvul?
Thaise groenkerrie en die Constantia Glen TWO.
Watter wyn sal jy aanbeveel met soesji en wat met speseryagtige kos?
Soesji: sauvignon blanc
Speseryagtige kos: pinot noir of semillon, hang af van die kossoort.
Hoe lyk die ideale Suid-Afrikaanse wyndrinker – eksperimenteer meer, betaal duurder vir wyne, ens?
Ons is definitief op die drumpel van ’n nuwe era. Met tegnologie is informasie meer bekombaar, so die mark raak meer en meer bewus van die wonderlike wynwêreld. Die jongklomp veral maak die meeste van hierdie bemarkingsmedium, en begin wyn meer en meer geniet. Die jeug van vandag is ook besonder avontuurlustig, en om hierdie rede is hulle konstant op soek na iets nuuts! So vir ‘n slag is dit die bedryf wat by die wyndrinker moet byhou, en nie andersom nie, en ek dink dit is wonderlik!
Watter wenke het jy vir mense wat voor ’n winkelrak staan en nie weet wat om te koop of waarna om te kyk op die etiket nie?
Moet nooit ’n bottel op sy baadjie takseer nie. Eksperimenteer. Probeer elke keer iets nuuts, vind uit waarvan jy hou en waarvan jy nie hou nie. Wyn is persoonlik. Kyk uit vir daardie minder bekende druifsoorte, hulle is gewoonlik baie goeie waarde vir geld omdat hulle nie gereeld in die kollig val nie. Skrik vir daardie bottels op afslag, waarom verkoop hulle nie? Ken jou wynwinkel. Elke winkel mik vir ’n spesifieke mark. Vertrou daardie plase wat jou nog nooit in die steek gelaat het nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al rondom wyn en die wynmaakproses gehoor het?
Ek het twee gunsteling-gesegdes: “Wine is sunlight, held together by water.” – Galileo Galilei
“A bottle of wine contains more philosophy than all the books in the world.” – Louis Pasteur
Wie is jou wynmaak-helde?
Suid-Afrikaanse baanbreker en Wine Enthusiast-wynmaker van die jaar, Andrea Mullinieux.
Watter internasionale wynmaker sal jy graag wil ontmoet?
Wynmaker Heidi Barrett, wat verantwoordelik is vir van Kalifornië se bekendste “kultus-wyne”.