Willie Burger kyk na Deon Meyer se Jagveld en ander draaiboeke
Dit gebeur nie sommer aldag dat ’n rolprentdraaiboek in Afrikaans uitgegee word nie, maar die verskyning in druk van vier van Deon Meyer se rolprentdraaiboeke is darem ook nie sonder voorgangers nie.
Die enigste ander Afrikaanse skrywer van wie ’n hele paar draaiboeke gepubliseer is, is Chris Barnard. Sy draaiboek van die rolprent oor Eugène Marais, Die wonderwerker, is in 2012 deur Penguin uitgegee. Die rolprent het baie lof ingeoes en die draaiboek was ’n belangrike toevoeging tot die literatuur oor die enigmatiese Eugène Marais. Ook vier ander draaiboeke deur Chris Barnard, onder meer Paljas en Klara Viljee (1998), is gepubliseer.
Dit gebeur nie dikwels dat draaiboeke (of verhoogdramas) uitgegee word nie omdat daar nie so ’n groot lesersmark daarvoor bestaan nie. In ons tyd is rolprent so maklik bekombaar en die meeste mense verkies om rolprente te kyk, eerder as te “lees”. Want ons moet ook eerlik daaroor wees, ’n draaiboek, met al die dialoog en aanwysings, lees eenvoudig nie so lekker soos ’n roman nie. Gewoonlik is dramas of draaiboeke wat uitgegee is, soos in die geval van Barnard se draaiboeke, as “kunswerke” beskou, eerder as “blote vermaak” en hulle is meestal uitgegee met die oog op die voorskryfmark – sodat die draaiboeke as literêre werke bestudeer kan word.
Nou, byna saam met die uitreiking van die rolprent Jagveld (met Leandie du Randt en Neels van Jaarsveld in die rolverdeling en onder regie van Byron Davis) is die draaiboek van die rolprent deur die immergewilde Deon Meyer uitgegee. Jagveld verskyn saam met drie ander draaiboeke: Jakhalsdans, Die laaste tango en Die ballade van Robbie de Wee in ’n lekker dik boek van 450 bladsye. Die prosaweergawe van laasgenoemde draaiboek is ook al tevore gepubliseer, saam met ander kortverhale deur Meyer (Die ballade van Robbie de Wee en ander verhale, 2015).
Wanneer ’n mens die vier draaiboeke in Jagveld en ander draaiboeke lees, besef jy eers werklik hoe “filmies” Meyer se prosa eintlik nog altyd was. Dit is ’n bietjie steurend om die verhale in draaiboekvorm te lees, en dit neem ’n rukkie om daaraan gewoond te raak, maar dit word spoedig byna ’n ewe meesleurende ervaring as om Meyer se romans te lees. Veral Jagveld is pure aksie. Die laerskoolonderwyseres, Emma, wat nie in geweld glo nie, maar deur haar pa opgelei is om in ’n wêreld vol slegte mense vir haarself te sorg, ontsnap van ’n gewisse dood deur ’n bende smokkelaars. Sy begin dan om hulle een-een met uiterste geweld dood te maak. Die rolprent is as ’n soort variasie van Kill Bill (die Una Thurman-fliek) beskryf, maar dit dra ’n duidelike Meyer-stempel.
Iets van Meyer se gemoeidheid met geweld as tema – wat ook in Koors aan bod gekom het – is hier teenwoordig. Wat doen geweld aan ’n mens? Hoe lei geweld tot meer geweld? Is pasifisme moontlik? Maar uiteindelik is hierdie vraagstuk bysaak, want sentraal is die naelbytspanning wanneer Emma eers moet probeer om uit die hande van die misdadigers te bly, maar hulle dan een-een met mes, pistool of strykyster aandurf. En die antwoord op die vraag of pasifisme moontlik is, is natuurlik, ná ’n klomp bloedbesmeerde bladsye, ’n duidelike “nee”. Dit is ook interessant om die kortverhaalweergawe van Die ballade van Robbie de Wee met die draaiboek te vergelyk.
Voornemende draaiboekskrywers sal baie kan leer oor die verwerking van die een medium na die ander. Meyer het al laat blyk dat hy baie van die rolprent as medium hou, dat hy daardeur uitgedaag word en dat dit vir hom verskeie moontlikhede bied wat hy graag wil ontgin. Ek vermoed (en die uitgewers het sekerlik vooraf navorsing gedoen wat hierdie vermoede bevestig) dat baie van sy getroue lesers ook die draaiboeke sal lees (en byna net soveel sal geniet).
Elan Mastai, ’n bekroonde Kanadese draaiboekskrywer (onder meer van The F word, What If en Fury) het op 43-jarige ouderdom besluit om ná sy suksesvolle loopbaan as kommersiële TV- en rolprentdraaiboekskrywer, ’n roman te skryf. (Hy het blykbaar ’n kontrak van een en ’n kwart miljoen dollar vir sy eerste roman by ’n uitgewer gekry!). In dié roman wat onlangs verskyn het, All Our Wrong Todays, gebruik hy ’n hele aantal eksperimentele tegnieke, waaroor hy in ’n onderhoud opgemerk het: “If I was going to write a book, I wanted it to do all the things that books can do, but you can’t do in any other form. I wanted to embrace the form.” Hy voel dat hy in die roman “bevry” is van die beperkings wat draaiboeke op hom geplaas het. In hierdie lig is dit interessant dat Meyer op sy beurt die rolprent as medium aangryp. ’n Mens besef egter met die lees van hierdie draaiboeke dat Meyer se verhale hulle nog altyd by uitstek tot visuele ervarings geleen het.
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.