Jy kan dalk dink net ‘n miljoen (of twee) sal jou gelukkig kan maak, maar hier is tien wetenskaplik bewese maniere om gelukkig te wees
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Oefen vir minstens sewe minute
Verskeie studies het al bewys dat oefening noodsaaklik vir ons welstand is en jy hoef nie eens ure in die gim deur te bring nie. Selfs sewe minute per dag kan iets vir jou gesondheid beteken. Loer in jou slimfoon se App Store na ‘n toep: 7 minute workout challenge.
Slaap meer
Daar is al bewys dat slaap jou liggaam help om te herstel, maar dit kan jou ook help om negatiewe emosies hok te slaan.
Oefen om te glimlag
‘n Glimlag kan jou bui lig, jou pyn verbeter en jou brein help om beter te dink, sê navorsers. As jy glimlag en positiewe gedagtes dink, dan is daar selfs ‘n groter gesondheidshupstoot.
Wees dankbaar
Of jy nou in jou joernaal skryf, aan drie dinge ‘n dag dink waaroor jy dankbaar is, bid oor die dinge wat jou gelukkig maak … dankbaarheid laat jou beter en gelukkiger voel. Herinner jouself aan die goeie dinge in jou lewe.
Help ander mense vir minstens twee uur per week
Dit laat ‘n mens goed voel om ander mense te help en dit kan jou lewe op verskeie maniere verryk en tot jou geluk bydra.
Trek nader aan die werk sodat jy minder ure in jou motor hoef te wees
As jy pal in die verkeer sit, sal jy weet dat daardie tien rysessies per week jou ongelooflik moeg en ongelukkig laat voel.
Gaan buitentoe en voel die sonlig op jou vel
Volgens ‘n studie is daar ‘n groot voordeel aan die buitelug verbonde. As jy minstens 20 minute op ‘n mooi dag buite sit, sal dit jou bui positiewer beïnvloed en jou geheue verbeter.
Bring meer tyd saam met familie en vriende deur
Kuiers saam met jou hartsmense kan ongelooflik baie vir jou gesondheid en algemene welstand beteken.
Mediteer en herbedraad jou brein
Meditasie maak jou kop skoon, kalmeer jou en is ‘n doeltreffende manier om gelukkiger te word.
Beplan ʼn reis al gaan jy nie eers nie!
Volgens ‘n studie wat in die joernaal Applied Research in Quality of Life gepubliseer is, kan net die beplanning van ‘n vakansie of blaaskans mense se geluksvlakke die hoogte laat inskiet. Sit vir jou prentjies op of plak dit in jou dagboek en beplan daai reis …
BRON: www.inc.com
BRON: Buffer Productivity Blog