Janina Oberholzer is een van die aanbieders van die gewilde TV-program Toks ’n Tjops op kykNET en ook radio-aanbieder op Jacaranda FM. Sy deel haar resep vir spanakopita
Janina is ’n vegetariër en hou daarvan om vir ander mense te kook. “Kerries is my gunsteling en ek is mal oor ’n warm Indiese korma.” Sy eet ook graag Griekse kos en sal graag na Griekeland wil reis. “Ek kan net dink dat dolmades, hoemoes, halloumi en olywe lekkerder daar kan smaak.” Janina hou van southappies en jy kan haar maklik met ’n pakkie sout-enasyn-skyfies aan jou kant kry. Ertjies is egter nie haar ding nie. Janina sê as sy enigeen vir ’n ete kan nooi, sal dit Baz Luhrmann (regisseur van haar gunstelingflieks), Jamie Oliver (iemand gaan vir al die mense moet kook), die akteurs van Friends en al haar vriende en familie wees. “Ek kan my kwalik ’n meer gesellige geleentheid voorstel,” sê sy.
ONTHAALWENK
Maak seker jy nooi mense ná aan jou hart. As die mense om jou iets vir jou beteken, kook jy sommer lekkerder en is die aand altyd ’n hoogtepunt, selfs al het iemand rooiwyn op jou gunstelingtafeldoek gemors.
4 porsies
olyfolie
1 ui, gekap
3 knoffelhuisies, gekneus
450 g spinasie, ontstingel en gewas
60 ml (4 e) dennepitte (pine nuts)
knypie neutmuskaat
sout en peper na smaak
4 sirkels fetakaas
100 g (1/5 blok) botter, gesmelt
500 g (1 pak) fillodeeg
papawersaad vir bo-oor
Stel oond op 220 °C.
- Verhit bietjie olyfolie en soteer ui en knoffel tot sag.
- Sny spinasie in repe en voeg by. Roerbraai vir 4 minute sodat dit verwelk.
- Giet spinasiemengsel in vergiettes sodat oortollige vloeistof kan dreineer.
- Meng gedreineerde spinasie met dennepitte, neutmuskaat, sout en peper.
- Krummel fetakaas en roer by spinasiemengsel.
- Smeer losboomkoekpan van 20 cm deursnee met gesmelte botter.
- Vou fillodeegvelle oop en verf elke vel met gesmelte botter. Sit fillodeegvelle dwars oormekaar in koekpan sodat dit oorkruis. Laat punte oor kant van koekpan hang. Sit 8 filldoeegvelle in koekpan.
- Skep spinasievulsel op velle. Vou velle wat oor kante van koekpan hang, oor spinasievulsel. Verf met gesmelte botter soos wat velle toegevou word.
- Verf bokant van spanakopita met gesmelte botter en sprinkel papawer- saad oor.
- Bak vir 18 minute of tot goudbruin. Maak koekpan oop en wikkel basis los.
- Skuif spanakopita op opdienbord af en sit warm of koud voor.