Boelies voer in baie skole ‘n skrikbewind. Kan ‘n mens jou kind boeliebestand maak?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
“Ek het ‘n sewejarige meisiekind en sy kla al lank oor die een dogtertjie in haar klas wat konstant lelik met haar is. Dit het my ‘n rukkie gevat om die besef die kind is besig om my kind emosioneel te mishandel. My dogter wou later nie eers meer skool toe gaan nie. Ek het die onderwyseres gekontak en my kind geleer hoe om die boelie te hanteer. Dit gaan nou beter, hoewel daar steeds nou en dan klagtes is,” vertel Annie* (38) van Bloemfontein.
Ongeskikte kinders wat ander kinders boelie, is ongelukkig ‘n realiteit en so graag soos wat jy jou kind wil beskerm, is jy nie by die skool nie. Jou kind is alleen daar en daarom het hy of sy hanteringstrategieë nodig.
- Gesels daaroor. Gesels met jou kinders oor boelies en praat oor moontlike ervarings wat mense al gehad het. Prys jou kinders as hulle hul ervarings deel en vertel hoe dapper dit is. Gee onvoorwaardelike ondersteuning. Gesels ook met die skool oor hul boeliebeleid.
- Verwyder die lokaas. As ‘n boelie agter jou kind se snoepiegeld of speletjies aan is, laat speletjies by die huis bly en pak eerder vir jou kind middagete in.
- Kry maatjies vir ondersteuning. Herinner jou kind om ‘n maatjiestelsel te gebruik as hy iewers by die skool loop. Groepies kinders sal nie maklik geteiken word nie. Skole in Londen het byvoorbeeld ‘n boelie-buddies-stelsel ingestel wat op die beginsel berus dat kinders makliker vir ander kinders as vir volwassenes sal sê hulle word geboelie. Verantwoordelike kinders is as boelie-buddies geïdentifiseer en as kinders geboelie word, word hulle geroep om in te gryp. Sou die situasie vir hulle te moeilik wees om te beheer, roep hulle die hulp van ‘n onderwyser in.
- Bly kalm. Leer jou kind om ‘n boelie te hanteer. Dis beter om kalm te bly en die boelie te vra om op te hou en weg te loop. Boelies hou van aandag en sal dit geniet om ‘n kind se siel uit te trek.
- Moenie te betrokke raak nie. Natuurlik moet jy die skool attent maak op die voorval, maar moenie self die boelie by die skool stormloop nie. Vra ‘n onderwyser om met die boelie se ouers te praat – jy kan selfs insit – maar dit moet ‘n konstruktiewe gesprek wees met iemand wat die gesprek lei.
Ook belangrik
Kinders moet weet dat hulle boelievoorvalle moet rapporteer al was hulle self nie die teiken nie.
As hulle te bang is om in te gryp, roep ‘n volwassene of vertel vir ‘n volwassene daarvan.
Jou kind moet weet dit is nie oukei om te lag as iemand geboelie word nie. Die boelie moet weet hy of sy op sy haar eie en moet geen aanmoediging kry nie.
BRON: http://kidshealth.org