As jou kinders hou van swem, sal hierdie veiligheidswenke dalk nuttig te pas kom.
Tanya de Vente-Bijker
Swem-veiligheidswenke
• ’n Klein kindjie kan binne 30 sekondes in 5 cm water verdrink!
• Sorg dat almal wat met jou kind te doen het van die veiligheidsreëls bewus is en dat enige kinderoppasser volwasse, betroubaar en verantwoordelik is.
• Lig kuiergaste en werknemers duidelik oor veiligheidsaspekte en standaarde ten opsigte van jou swembad in.
• Volwasse toesig is ’n absolute móét by ‘n swembad. As daar ’n sosiale geleentheid is, kan die volwassenes beurte maak om ’n ogie te hou – sorg dat almal weet wie volgende aan die beurt is.
• ’n Net oor jou swembad, ’n heining of opblaasvlerkies is nie ’n plaasvervanger vir volwasse toesig nie.
• Moet onder géén omstandighede ’n ouer kind verantwoordelik maak om na die jongeres om te sien nie. Dis onregverdig!
• Sorg vir prettige alternatiewe vermaak om die kinders besig te hou as die swemsessie verby is.
• Swembaddens moet volgens spesifieke regulasies omhein wees en moet met ’n veiligheidsnet toegerus wees.
• As die een kant van jou huis deel van die swembad se omheining uitmaak, sorg dat al die deure wat aan daardie kant na buite lei ’n alarm bevat wat afgaan sodra die deur oopgemaak word.
• Moenie aanvaar jou kind is swemveilig net omdat hy swemlesse neem nie. ’n Kramp of skrik kan rampspoedige gevolge hê.
• Volg ’n noodhulpkursus.
• Wees voorbereid! Sleutel noodnommers op jou selfoon in en plaas dit ook reg langs jou landlyn sodat jy dit nie hoef te soek nie.
• Verwyder élke namiddag aanloklike speelgoed wat dalk om die swembad agtergebly het. Dit sal versoeking voorkom.
• As jy op enige tydstip na jou kind soek, gaan kyk eerste by die swembad of borrelbad.
• Leer jou kind wat om te doen as hy/sy in die moeilikheid is.
• Doen navraag oor ’n swembad-alarm.
Meer inligting
• Besoek www.childsafe.org.za/