Soos jou leefstyl verander, verander jou behoeftes. Jeremy en Maresa Volsteedt moes ’n kantoor by die huis begin om ’n rekenaar, drukker, modem en diesmeer te huisves
Deur MARYKE ROBERTS
Foto JAC KRITZINGER
Die enigste gerieflike en praktiese spasie was die endgedeelte van die gang tussen die kombuis en die hoofslaapkamer, want hulle wou nie hul spaarkamers oorneem met papierwerk nie. Hulle het die versteekte kantoor beplan en geteken en ’n kabinetmaker van die Strand, Jaco Moller, het dit gemaak en installeer.
Ander idees vir gange
- As jou gang lank is en jy ’n behoefte het aan pakplek, gebruik die punt van die gang om ’n kas in te bou. Dit werk goed as daar ’n natuurlike nis is, wat net gelyk toegebou kan word. Gebruik dit as linnekas, of as jy baie ruimte het, as instapkas vir baadjies, jasse, sambrele, handsakke en inkopiesakke.
- As die gang breed is, gebruik een kant vir ’n lang ingeboude kas, wat nie hoër as heuphoogte strek nie. Moet dit nie tot op die vloer laat strek nie, hou ’n ruimte van ongeveer 10 sentimeter oop, wat die lig deurlaat en die illusie van ruimte skep. Jy kan deure aansit vir ’n netjieser voorkoms.
- Installeer oop rakke die lengte van die muur en wissel mooi boeke af met ornamente, potplante en kosbaarhede. Maak dit effe hoër as skouerhoogte, sodat dit nie in die pad is as jy daar wil stap nie.
- As die gang naby ’n ingang is, sit mooi hakke teen die muur en ’n gerieflike bankie onder, waar werkskoene uitgetrek kan word en baadjies en handsakke opgehang kan word. Kies hakke van verskillende ontwerpe vir ’n mooi dekorelement.