Edmund Terblanche is die wynmaker by La Motte in Franschhoek
Deur: Maryke Roberts
Foto: verskaf
Sy eerste werk in die wynbedryf was as assistent-wynmaker op die plaas – nadat hy op 29 van beroep verander het en weer gaan studeer het – hierdie keer vir wynmaker. Voor die tyd was hy assistent-hoof van parke by Benoni se stadsraad, waar hy verantwoordelik was vir die ontwikkeling en instandhouding van alle oop ruimtes/parke in die stad Benoni.
Edmund en sy vrou, Hetta van Deventer Terblanche, en hul twee seuns, 7 en 9, woon op die landgoed. Hetta bestuur die restaurante en winkels van die landgoed se twee handelsmerke: Pierneef à La Motte Restaurant en Leopard’s Leap. Sy bestudeer kosgeskiedenis en gebruik dit as skeppende inspirasie vir die geregte.
Edmund woon al 16 jaar op die La Motte-wynlandgoed en sê die voordeel is die pragtige omgewing en natuurskoon. Dit help ook natuurlik om naby die kelder te wees, veral in parstyd. Maar, lag hy, die nadeel is dat hy nooit weer in die dorp sal kan bly nie.
Hoe het jou belangstelling in wynmaak begin?
My pa het kunsmis aan die wynbedryf verkoop. Hy het met interessante persoonlikhede soos Hempies du Toit van Alto en Stiljan Momberg van Middelvlei gewerk. Ek dink dit het my belangstelling geprikkel.
Wat het jy vinnig geleer wat jy nie verwag het nie?
Ek het geleer die ou wat die wyn verkoop, is net so belangrik as dit ou wat dit maak.
Hoe sien jy jouself as wynmaker – versigtig, voortvarend, avontuurlustig of konserwatief?
Beslis avontuurlustig. Ek is baie nuuskierig om alle moontlike areas se druiwe te probeer en sien wat dit kan oplewer. In die kelder bevorder ek graag verskillende metodes om die opgesluite potensiaal in die druiwe te ontdek.
Wat is jou gunstelingkultivar?
Dis beslis shiraz. Ek bestudeer shiraz al vir 15 jaar en as jou verhouding met iets só intiem is, word dit spesiaal. Tog is daar baie dinge wat ek nog nie weet nie en dit is net een van die ongeveer 9 000 kultivars wat bestaan. Dit is hoe fassinerend die wynbedryf is. Hoe meer jy leer, hoe meer kom jy agter hoe min jy weet.
Wat is vir jou die mooiste eienskap van wyn?
Wyn is nie koeldrank nie. Wyn is nie ’n kommoditeit nie. Wyn is lewendig en dinamies. Wyn vertel ’n storie van ’n stuk aarde en persoonlikhede wat betrokke is.
Wat was sover jou grootste uitdaging as wynmaker?
Die maak van ons premium-wyn, die Hanneli R. Dit is ’n versnit met ’n shiraz-basis. My doelwit is ’n baie elegante wyn met intense persoonlikheid, en dit neem my maande om elke jaar die wyn reg te versny. Dis moeilik om te besluit wanneer jy heeltemal tevrede is, maar gelukkig is daar weer die volgende oesjaar.
Waaroor is jy besonder trots in jou loopbaan?
Ek is trots op my span mense. Die meeste van hulle werk al langer as ek hier en dit is ’n pluimpie dat hulle bereid is om die pad saam met my te loop. Hulle het ’n groot invloed op die eindproduk.
Wat is die uitdagings om in 2017 wynmaker in Suid-Afrika te wees?
Die wynbedryf is in ’n depressiewe fase en ek dink nie die onderste kurwe is al bereik nie. Geleenthede vir wynmakers is minder as in die 90’s byvoorbeeld. Dis ’n baie bevredigende beroep, maar dis kapitaal-intensief vir eienaars en almal wat betrokke is. Ek dink dis soos die rand. Dit behoort beter te gaan en ons gaan nie ophou daaraan werk nie.
Wat is jou mooiste/mees romantiese herinnering aan wyn?
My eerste buitelandse besoek as wynmaker was in Portugal. Ons het pas klaar studeer, dus was die geld min. Dit was ’n klein restaurantjie langs die see en die goedkoopste item was ’n seekoschowder-tipe gereg. Die wit wyn was ook die goedkoopste, maar dit was die oomblik wat my verbeelding aangeskakel het.
Wat is die grootste fout wat verbruikers tuis maak met die skink van wyn?
Dit is al bewys dat jou glas ’n groot rol met jou ondervinding van wyn speel. Mense spandeer nie genoeg aan glase nie en dié wat hulle het, skink hulle dikwels te vol. Ek neem my eie glase saam op vakansie.
Wat sou jy graag aan die SA wyndrinker wou verander?
Daar is nie genoeg wynkultuur nie. Dit beteken dat mense nie nuuskierig genoeg en ook nie avontuurlustig genoeg is nie. Ons bedryf het meer potensiaal, maar word gebind deur dit wat die mense koop. Byvoorbeeld: ons word internasionaal hoog aangeskryf vir ons wit versnitte, maar ons eie publiek koop dit nie. As die bottel nie sauvignon blanc of chardonnay sê nie, loop die klant verby.
Het jy ’n gunstelinghoekie op die plaas waar jy heengaan vir stilte of as jy moet dink oor groot besluite?
Ek het in 2004 ’n wynmaker in Bordeaux besoek. Hy het ’n tegniese proekamer met ’n pragtige uitsig oor die landskap en omringende plase gehad, een daarvan Chateau Latour. Toe ek terugkom, het ek vir my ’n soortgelyke plek laat inrig. Ek kan die deur sluit en die foon afsit. Dit het ’n uitsig oor ons wingerde en die Franschhoek-berge. Dit is waar ek my versnitte finaliseer.
Wat is die grootste les wat die natuur jou al geleer het?
Die natuur is ‘n groot gedeelte van die term terroir. Terroir bepaal die kwaliteit van jou druiwe. As ‘n wingerd op die verkeerde plek staan, kan ´n mens dit nie reg boer nie.
Wat is die mooiste woorde wat jy al oor wyn en die wynmaakproses gehoor het?
My mentor by La Motte, Jacques Borman, het altyd gesê: Money makes the world go round, wine make it go twice as fast. Pragtige woorde.
Watter internasionale wynmaker sou jy graag wou ontmoet?
Ek sou graag vir Jan van Riebeeck wou ontmoet het. Ek wil weet hoe daai eerste wyntjie gesmaak het.
Wat beplan jy vir die plaas en kelder vir die volgende paar jaar?
Ons glo by La Motte om nie agter elke dag se modes aan te hardloop nie. Ons probeer liewer om dit wat ons doen, beter te doen. Ons maak hoofsaaklik shiraz/syrah aan die rooi kant, maar ek probeer en versny gedurig ander kultivars met shiraz om die wyn te verfyn. Ek is baie opgewonde oor ons laaste aanplanting: Durif of petit syrah. Verder het ons ook laas jaar ’n nuwe wyn vrygestel, wat slegs in Woolworths beskikbaar is. Dit is die Platinum Label La Motte Shiraz Grenache.