Het jy ‘n radiostem, goeie musieksmaak en kan jy op jou voete dink? Dan is jy dalk uitgeknip om ‘n radio-omroeper te word.
Lindi Herbst
‘n Radio is ‘n wonderlike ding om ‘n vervelige pad of spitsverkeer draagliker te maak. Die musiek kan jou aandag aflei en as daar boonop ‘n radio-omroeper is wat weet hoe om luisteraars te vermaak, gly die pad sommer gou-gou verby.
‘n Radio-omroeper se werk behels om musiek bekend te stel wat op ‘n radiostasie speel, advertensies te lees en op sosiale kwessies kommentaar te lewer. Soms lees hulle ook die nuus en weervoorspellings en lig hulle luisteraars oor enige verkeersprobleme in. Die toon wat ‘n radio-omroeper aanneem, word deur die spesifieke radiostasie bepaal – op sommige radiostasies sal ‘n radio-omroeper pittig en snaaks moet wees, terwyl ‘n ander radiostasie ‘n ernstiger toon verg.
Donovan Geldhart het twee jaar gelede as ‘n radio-omroeper by ‘n gemeenskapradiostasie in Pretoria begin werk. “Musiek was nog altyd deel van my lewe en ek hou daarvan om mense te vermaak,” sê hy. “Radio is die ideale manier om hierdie twee passies te kombineer.”
Opleiding
Universiteite bied nie ‘n spesifieke graad aan wat jou sal help om as ‘n radio-omroeper te kwalifiseer nie. ‘n BA-graad in joernalistiek mag dalk vir jou agtergrond gee in die radiowese, maar sal jou nie die fynere kuns leer om ‘n omroeper te wees nie. Daar is egter verskeie kolleges en ander instellings wat kursusse aanbied wat jou alles sal leer van hoe om ‘n radio-omroeper te word.
Die meeste van die kursusse se inhoud sluit die volgende in: ‘n kort geskiedenis oor die ontwikkeling van radio, media-etiek, hoe om stories oor die lug te vertel, klankingenieurswese, tegniese radiokennis en hoe om digitale toerusting en sagteware te gebruik.
Moet egter nie verwag om dadelik nadat jy afgestudeer het ‘n pos as ‘n radio-omroeper te kry nie – dis nie so eenvoudig nie. Die meeste aspirant-radio-omroepers begin by kollege-, gemeenskaps- of universiteitsradiostasies werk.
“Ek het ‘n jaar lank by my kollege se radiostasie gewerk. Daarna het ek nog ‘n jaar as ‘n intern by ‘n gemeenskapsradiostasie gewerk. Eers ná ‘n jaar het hulle my ‘n kans op lug gegee tydens die graveyard shift – van middernag tot 02:00, wanneer die meeste mense slaap en min mense my sal hoor as ek ‘n fout maak.”
Donovan meen ‘n internskap is die beste leerskool. “In my tyd as intern het ek geleer presies hoe die bedryf werk. Dis nie so eenvoudig soos ‘net praat op die lug’ nie. Dit verg baie beplanning en as jy nie 100% selfvertroue het nie, dan gaan dinge skeefloop.”
Ná 18 maande op die graveyard shift is hy uiteindelik na die 09:00-12:00-tydgleuf “bevorder”. “Jy moet jouself eers bewys voordat jy ‘n beter tydgleuf kan verwag,” meen hy. “Ek het in die eerste jaar baie geleer en my selfvertroue gebou. Ek weet dat ek nou eers regtig vir die groter uitdaging gereed is.”
Ongelukkig is dit die realiteit dat nie alle radio-omroepers landwyd bekend gaan word nie – daar’s slegs ‘n paar wat dié eer te beurt val. Onthou egter dat ‘n radio-omroeper nie oornag bekend raak nie – dit vat ook jare se toewyding!
Inkomste
‘n Radio-omroeper se salaris hang af van die radiostasie waar hy werk en die ervaring wat hy al opgedoen het. “’n Radio-omroeper by ‘n kommersiële radiostasie verdien natuurlik meer as een wat by ‘n gemeenskapsradiostasie werk,” verduidelik Donovan. “My beginsalaris was R3 000 per maand en ek verdien tans R15 000. Iemand wat by ‘n kommersiële radiostasie werk en al heelwat ervaring opgedoen het, kan tot R25 000 verdien.”
Soms word radio-omroepers ook genooi om as seremoniemeesters by gesellighede op te tree, wat ook ‘n paar ekstra rand in die sak beteken. Dié bedrag wat hy betaal word, hang af van die geselligheid, maar wissel gewoonlik tussen R2 000 en R5 000.
Voordele
Vir Donovan is die lekkerste deel van sy werk dat hy op lug kan wees net wie hy wil. “Ek is eintlik van nature ‘n introvert, maar sodra ek op lug is, is dit asof my persoonlikheid handomkeer verander. Ek praat maklik en is nie bang om grappies te maak of iets te sê nie. Ek is op my gemak met gaste – my selfvertroue verdubbel sommer.”
Dit is ook vir hom lekker om regstreeks op die lug te wees. “Jy kan nie foute maak nie. Die oomblik as jy iets sê, hoor die luisteraars dit. Dis opwindend om te weet dat jy een kans het en jy moet jou beste lewer,” sê hy. “Ek maak nog daaglikse foute en soms is ek skaam oor iets wat ek verkeerd gedoen het, maar al wat ek kan doen, is om daaroor te lag.”
As radio-omroeper is dit jou verantwoordelikheid om die luisteraars te vermaak. Die musiek wat jy speel en waaroor jy gesels, mag dalk net iemand opkikker. “’n Vrou het eenkeer ingebel net om vir my te sê dat sy ‘n moeilike dag by die werk gehad het,” vertel Donovan. Teen teetyd, toe my radioprogram aan die gang was, het sy haar radio aangeskakel en my opgewekte stem gehoor. Dit het haar dadelik opgebeur. Dis lekker om te hoor dat ek soms ‘n verskil in iemand se lewe maak.”
‘n Radio-omroeper kry ook die geleentheid om met ‘n wye verskeidenheid interessante mense onderhoude te voer.
Nadele
Alhoewel Donovan homself graag op lug uitleef, moet radio-omroepers versigtig met die programinhoud wees. “Alle radiostasies het sekere riglyne wat jy moet volg. Ons mag byvoorbeeld sekere musiek nie speel nie (wat mense dalk aanstoot mag gee), moet versigtig wees wat ons sê (vloek is uit!) en moet niks doen wat die radiostasie by die
Uitsaaiklagtekommissie in die moeilikheid kan bring nie,” verduidelik Donovan.
Hy meen ook dis nie maklik om naam te maak in die bedryf nie. “Daar is baie mense wat daarvan droom om hul stem op die radio te hoor, maar daar is beperkte plek vir omroepers by ‘n radiostasie. Elke radio-omroeper het ‘n tydgleuf (gewoonlik drie tot vier uur lank), wat beteken dat daar slegs vir ongeveer sewe radio-omroepers op elke radiostasie plek is.”
As jy gelukkig genoeg is om ‘n werk as radio-omroeper te kry, wees bereid om aanvanklik eienaardige ure te werk. Die meeste radio-omroepers begin met ‘n radioprogram baie vroeg soggens en moet hulself eers bewys voordat hulle beter radiotye kan kry.
Die uitsaaibedryf is ook baie wispelturig. Met dié dat radiostasies elke paar jaar hul formaat herstruktureer, verander die tye van radioprogramme op kort kennisgewing. Of hulle voel ‘n radio-omroeper se program pas nie meer in ‘n sekere tydgleuf nie – dan moet jy gereed wees vir die verandering en daarby aanpas.
Raad
• Moenie dink jy gaan by ‘n radiostasie instap en dadelik werk kry nie – wees bereid om heel onder te begin en jou pad boontoe te werk.
• Wees bereid om as ‘n intern te werk – jy mag dalk nie betaal word nie, maar die ervaring en kennis wat jy só opdoen, is van onskatbare waarde.
• Iemand wat ‘n radio-omroeper wil word, moet oor die meeste of al die volgende eienskappe beskik: ‘n goeie kommunikeerder; goeie luisteraar; die vermoë om vinnig te reageer as iets onverwags gebeur; goeie tydsbestuur; ‘n aangename, goed beheerste spreekstem en goeie uitspraak; en kreatief.
• Sodra jy voor die mikrofoon inskuif, moet jy alle persoonlike kwessies vergeet. Jy moet opgewek klink, al voel jy nie lekker nie.
• Wees altyd ingelig oor nuus, sosiale kwessies en nuwe neigings.
• ‘n Radio-omroeper moet altyd baie goed voorbereid wees vir sy program. ‘n Gedetailleerde program, met ‘n balans tussen musiek en praat – met genoeg plek om aanpasbaar te wees as iets onverwags voorval – is ideaal.
Meer inligting
• College SA: www.collegesa.co.za
• Damelin: www.damelin.co.za
• Oaksfield College: www.oakfieldscollege.co.za
• On Cue Communications: www.oncue.co.za