Elf vrae aan die bekroonde aktrise, Tinarie van Wyk Loots
Van al die ongelooflike rolle wat jy al vertolk het, watter een het jou die meeste uitgedaag, verryk of geraak?
Dit is ’n bitter moeilike vraag om te beantwoord. Elke toneelstuk waarin ek my bevind, daag my op daardie oomblik die meeste uit, en verryk my op ’n nuwe manier. Die onbekende is ’n wonderlike en vreesaanjaende ding, en op daardie manier, gedurig verrykend.
Jy het ’n kaggelrak vol Kannas en ander toekennings. Is dit nog ’n aardigheid om nog een te wen?
Pryse is vir my aardig, maar ook ’n groot eer – vir my is dit so ’n voorreg om daardeur ’n platform te hê om my dankbaarheid te kan betuig teenoor die ongelooflike mense saam met wie ek werk en saam met wie ek die bedryf deel. Eintlik is die enigste mens vir wie ek die pryse sou wou wen, my ma – elke keer mis ek haar net nog meer, daar is min dinge so kosbaar soos ’n ma se trots. Sy was altyd my grootste ondersteuner en haar goedkeuring was vir my die grootste prys denkbaar.
Jy is geweldig besig, hoe hou jy die pas vol? Het jy ’n oefen- en eetroetine, slaap jy baie of hoe doen jy dit?
Dit is moeilik – soms haal dit my in, en my reserwes raak soms min. Ek probeer so rustig as moontlik wees en nie gespanne te raak oor dinge wat ek nie kan beheer nie. Een ding op ’n slag. Wanneer dinge werklik rof raak, probeer ek rus soveel ek kan, selfs al lê ek net vir so ? paar minute met my oë toe en probeer jou gedagtes stil maak. Eet is belangrik – jou lyf het die brandstof nodig en jy doen jouself net ’n onreg aan om jou daarvan te ontneem – soms raak ek gefrustreerd dat ek drie keer ’n dag moet eet, maar dit herinner jou weer aan jou menswees. En vitamiene! En water! En Erik!
Jy speel soms by ’n fees in drie verskillende toneelstukke. Hoe gemaak dat jy nie met die woorde deurmekaar raak nie?
Elke stuk bestaan in sy eie wêreld en milieu, en wanneer jy daar is, is jy daar – elke storie behoort heeltemal aan homself. As jy dit in gedagte hou, sal jy dit nie sommer verwar nie, maar om te bly konsentreer is ’n ander storie!
Jy het jou ma as jong vrou verloor. Hoe het dit jou siening op die lewe verander en is daar iets wat jy nou dalk anders sou doen?
Lewe voluit en eien jou foute – moenie spyt in jou ronddra nie. Dit is eintlik maklik om jammer te sê, doen dit. Wys vir mense dat jy lief is vir hulle.
Dis Vrouemaand. Hoe voel jy as jong vrou in Suid-Afrika?
Ek glo dat geslagsgelykheid een van die wêreld se grootste uitdagings is. Ek geniet die voorreg om die vryheid te hê, en te glo dat ek geensins minder voorregte geniet as ’n vrou nie, omdat ek ’n sterk vrou (en vroue) in my lewe gehad het, wat daardie ideologie uitgedaag het en my geleer het dat ek nie ’n enkele tree hoef terug te staan nie. Maar die feit dat vroue onderdruk word in vandag se tye, is vir my amper verregaande. Dit herinner my dat ons in ons land eintlik baie meer vryheid geniet as in ander dele van die wêreld, maar dat vroue steeds geteiken word en onveilig voel, en dit stuit my inderdaad teen die bors. Ek glo dat as die vrou opgehef word in die samelewing, baie ander probleme soos rassisme en klassisme sal begin wegval en vervaag. Vroue is die moeders van ons volk – wat ons kinders baar en eerste inspireer om meer te wees en na ander om te sien. Aan die moederskoot leer ons ’n liefde vir ons kultuur en waar ons vandaan kom, ongeag van ras of rykdom. ’n Moeder se liefde is die kosbaarste geskenk wat ’n kind kan hê, iets waarna elke kind in die wêreld behoort toegang te hê. Vroue wat as enkelouers gesinne en ’n beroep bestuur, werk harder vir soveel minder en is helde in my oë. Ek glo dat ’n samelewing gelei deur sterk vroue, waar daar respek is vir die ander geslag, minder deur geweld geplaag sal word. Ek glo vroue is die toekoms. Dit is vir my ’n voorreg om ’n vrou te wees. Vroue is sterk juis omdat hulle vroue is.
As jy nie aktrise geword het nie, watter ander beroep sou jy geniet het?
Ek is ontsettend lief vir diere en het voor ek my keuse gemaak het om toneel te speel, bewaring en ekologie oorweeg. Maar ek het ook ’n geweldige fassinasie met die heelal en ons hemelruim, en sou graag baie meer van sterrekunde wou weet.
Jou ouers is jonk in jou lewe geskei. Het dit jou siening oor die huwelik beïnvloed of droom jy van die wit rok en troumars?
Dit het my insig gegee dat dinge nie oorvereenvoudig kan word nie – dat ? mens lief kan word vir iemand, maar dat jy ook as individu nog groei en dalk uit mekaar kan groei. Dat jou eie geluk net so belangrik soos iemand ander s’n is, en dat jy die verantwoordelikheid daarvoor dra en net so aanspreeklik daarvoor is. ‘n Mens mag foute maak, maar leer daaruit. Jy hoef nie vir ewig daarvoor gestraf te word nie – jy mag skuldig voel daaroor, maar die lewe is te kort om ewig oor die kole getrek te word daarvoor. En dit is goed om ook alleen te kan wees – as jy jouself kan waardeer wanneer jy op jou eie is, is jy soveel meer vir iemand anders wanneer jy die persoon ontdek saam met wie jy voel jy klippe wil kou. Daar sal klippe wees vir kou, maar ook klippe vir bou. Ek self wou nog nooit regtig trou nie, maar vandat ek vir Erik ontmoet het, het ek van plan verander – nou kan ek aan niks mooiers dink nie. Liefde kan jou bly verras, dit maak nie saak wat agter jou lê, en nog vorentoe kan gebeur nie.
Watter flieks of toneelstukke het as tiener ’n groot indruk op jou gemaak?
So baie! Ek het die wonderlikste Engelse onderwyseres en buitemuurse dramajuffrou gehad, wat my aan soveel blootgestel het, en my oë oopgemaak vir ’n wêreld soveel groter as dit wat net om my is. Ek het flieks graag oor en oor gekyk totdat ek al die woorde saam kon opsê en alles gelees waarop ek my hande kon lê. Maar ek dink my gunstelingstuk is steeds Shakespeare se Macbeth.
Hoe ontspan jy?
As ek weet dat ek stukkie vir stukkie al die lysies wat agterblewe bly wanneer ons aan ’t fees is, af te handel, en dat daar nie woorde is wat ek vanaand hoef te leer nie. Ek gaan kuier by vriende, of sit net ? bietjie in my tuin saam met my katte, slaap laat en peuter aan huisgoed. Ek is ook nogal mal daaroor om ’n tydjie aan TV-speletjies af te staan, as die gier my beetpak.
Geniet jy kunstefeeste of is die uitdagings van akoestiek, beligting en so meer soms te veel?
Kunstefeeste is ’n geweldige uitdaging – fisiek, emosioneel, ag sommer op alle vlakke. ’n Mens is besig om te teater te skep, onder omstandighede en dikwels in ruimtes wat allesbehalwe ideaal is en dit eis dikwels ’n bitter groot tol op die spelers, die produksie en die tegniese spanne wat soos towenaars alles moontlik maak. Gehore gaan dikwels met minder respek om omdat hulle hulself nie noodwendig in ’n teater sigself bevind nie. Mense kom en gaan, telefone lui, ens. ’n Mens het so ’n kort tydjie om so baie te doen – toneelstukke geniet nie meer ’n so gereeld ’n speelvak – wat die toneelstuk kans gee om tot reg te kom – van meer as drie tot vyf vertonings nie. Dit is dikwels hartseer om saam aan iets te skep, wat só ’n kortstondige lewe geniet. Maar daar is ook iets magies daaraan om deel van so ’n oplewing van kreatiwiteit en energie te wees, om mekaar se werk op so ’n skaal te kan beleef en om amper soos in die ou dae, teater na die mense toe te kan bring.