Van al die poskaarte wat die Tate Britain se geskenkwinkel jaarliks verkoop, is John Everett Millais se Ophelia die gewildste.
Johan Myburg
- In Vrouekeur (12 September 2014) skryf Johan Myburg oor die manier waarop ‘n mens na kuns kyk. Of nié kyk nie.
Ophelia, ‘n karakter uit Shakespeare se Hamlet, raak van haar kop af wanneer haar pa, Polonius, sterf aan die hand van haar minnaar, Hamlet. Haar verdrinking is nie deel van die aksie op die verhoog nie en daar word net daarna verwys in ‘n gesprek tussen koningin Gertrude en Laertes, Ophelia se broer. Gertrude beskryf hoe Ophelia in die rivier geval het terwyl sy blomme gepluk het en stadig verdrink het. Dit blyk dat die dood vir Ophelia ‘n uitkoms was.
As Ophelia-model het Millais vir Elizabeth Siddal, later die vrou van Dante Gabriel Rossetti, gebruik. Millais was saam met Rossetti en William Holman Hunt die stigterslede van die pre-Rafaeliete. Dié groep, wat Renaissance-kuns verwerp het en wou terugkeer na die kuns vóór Rafael, Michelangelo en Leonardo, het in 1848 tot stand gekom.
Millais het dié skildery in 1851 en 1852 geskilder op twee plekke: by die Hogmill-rivier in Ewell, Surrey, en in sy ateljee in Londen.
Dis bekend dat Millais vir Siddal ten volle geklee in ‘n bad vol water in sy ateljee laat lê het terwyl hy skilder. Omdat dit winter was, het hy die sinkbad se water met olielampe verhit. Meegevoer deur sy werk het hy nie opgemerk dat die lampe uitgegaan het nie. Siddall het ernstig siek geword as gevolg van dié episode en haar pa het Millais die doktersrekening van sowat 50 pond laat betaal.
Kyk ‘n bespreking van Millais se Ophelia (YouTube)
[iframe width=”420″ height=”236″ src=”//www.youtube.com/embed/I2M7U8eCeHA?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]
Dié bespreking gee nie net agtergrond nie, maar lei die kyker se oog ook na detail (soos die plantegroei en die blomme in die water) wat vir die Victoriaanse kykers sleutels was om die werk mee te verstaan.
• Die boek van John Berger waarna in Vrouekeur verwys is, is Ways of Seeing (1972). Londen: Penguin. Die boek is geskoei op die gelyknamige program wat Berger vir die BBC gemaak het.