Jy voel dis net genade wat tussen jou en ʼn totale ineenstorting staan. Jou nerwe is dunner as die stukkie kaas op ‘n gekoopte burger. Wat kan jy doen?
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
Jou kollega irriteer jou as sy net hard nies. Die manier hoe jou kind inkleur, is besig om jou van jou sinne af te dryf en as jou man nog net een keer nie die tandepastaproppie opdraai nie … Wel, jy gaan nie vir jou dade verantwoordelik wees nie. Oukei, jy het geduld nodig. Maar hoe?
Die webwerf www.simplystepping.com gee vyf maniere:
1 Tem jou frustrasie
Nommer jou frustrasie op ‘n skaal van een tot vyf. Vyf is natuurlik die ergste. Hou dan jou asem vir daardie hoeveelheid sekondes in. As jy gesê het vier, moet jy jou asem vir vier sekondes inhou. Blaas dit uit en herhaal tot jy kalmer voel.
2 Wees realisties
Kan jy die situasie beheer? Is dit realisties dat ongeduld die probleem kan oplos? Wat gaan die uiteinde wees? Kan jy dit wat jy wil doen, bereik sonder om kwaad te raak?
3 Maak asof jy geduldig is
Fake it till you make it, soos die Engelse sê. Probeer só toneelspeel dat jy ʼn Oscar moet kan wen! Praat sag en stadig. Ontspan jou skouers, ontspan jou kakebeen en voorkop. Hou jou stem gelykmatig. Tree kalm op. Toon warmte. Glimlag of maak ʼn grappie om die situasie te verlig.
4 Vervang die ongeduld
Probeer om jou in die persoon se skoene te plaas wat jou kwaad gemaak het. Besef dat jy nie alles in die lewe kan beheer nie en dat dit oukei is om nie altyd in beheer te wees nie.
5 Kry ondersteuning
As jy erg ongeduldig is, praat met iemand wat jy vertrou oor jou gevoelens. Dit doen ʼn mens die wêreld se goed as jy net ʼn bietjie kan afpak en vertel wat jou irriteer en hoekom. Iemand anders se mening kan jou weer anders na die situasie laat kyk. Verwelkom ook hulp en moenie alles altyd probeer doen nie.