Die Harbour House Group se nuutste restaurant, La Parada del Mar, het onlangs in Kampsbaai geopen
Deur: Maryke Roberts
Foto’s: Clifford Roberts en Andrea van der Spuy
Die nuwe restaurant is effens anders as die Spaanse aanslag van die Kaap se ander twee – La Parada Bar de Tapas in Breëstraat of Constantianek.
Simone Biggs, binnenshuiseversierder vir die Harbour House Group, sê dis meer Miamistrand as die ander takke van La Parada en vertel dat haar inspirasie van Ibiza, Miami en Kuba kom.
Daar is geroosterde seekat, tuna wat in sesamsaad geseël is, Spaanse knoffelsampioene met ’n geposjeerde eend-eier en truffelolie met pecorino, grasuie, gemarineerde garnale en geroosterde varklies.
La Parada se uitvoerende sjef, Martin Senekal, sê hulle het van tradisionele Spaanse tapas wegbeweeg. “Ons het van die idee van klein deelborde gehou, maar met meer flair en elegansie.” Hy sê die fokus is vars seekosdisse wat eenvoudig en geurvol berei word.
En moenie dink nagereg het agterweë gebly nie! Daar is onder meer ’n gebakte vanieljepeul-kaaskoek in ’n glaspotjie of koffie Panna Cotta of verleidelike Churros met gesoute donkersjokolade doopsous.
As jy wil deel wees van die lewe op die sypaadjie en strand, is daar tafels buite. Die kroegman agter die Bombay Sapphirekroeg meng vir jou ’n Gin & Tonic Del De Barra – die klassieke drankie wat ’n anderster geurtjie kry met mango, roosmaryn, pomelo en lemoenskil.
Sondae word enige depressie verjaag met ’n DJ wat laatmiddag towerklanke oor die stoep laat uitspoel.
Op die boonste vloer is die elegante kuierplek meer intiem en jy kan die hele ruimte bespreek vir daardie lang kuier met vriende.
Die nuwe restaurant is Maandag tot Sondag oop van 08:00 tot 02:00.
Maryke is ’n ervare joernalis, wat haar liefde vir reis, mense, boeke, teater en lekker kos en wyn, op hierdie manier kan uitleef. Sy was al op elke uithoek van die aardbol – bo die wolke; in ’n lugballon; onder die water in ’n duikboot en onder die grond in tonnels – en gaan nêrens sonder haar reisgenoot, eggenoot en mede-joernalis, Clifford nie. Sy glo die lewe is te kort vir slegte koffie.