Louisa Greeff is nes haar kookstyl, sonder fieterjasies, het Maryke Roberts uitgevind
Maryke Roberts
Kry Louisa se resep vir hoenderlewerpatee met appelliefiejellie hier.
Louisa Greeff is die sjef by Durbanville Hills met sy prentjiemooi uitsig oor Tafelberg en Kaapstad en sy sê die lekkerste deel om op ’n wynplaas so mooi en bekend soos Durbanville Hills te werk, is dat uit die geraas van die stad is, sy die rustigheid van die omgewing en natuurlik die uitsig oor Tafelberg baie geniet.
Boonop is sy enkele minute van die stadsliggies as sy opwinding soek. Sy was die hoofsjef by Guardian Peak-restaurant asook die raadgewende sjef vir die Rust & Vrede-groep wat die Namibian Restaurant, die Stellenbosch Wine Bar en Bistro in Windhoek insluit. Sy was voorheen ook hoofsjef vir Bruce Robertson se Quarter- en Showroom-restaurante en vir die private wildtuin Singita in Sabie Sands.
Sedert sy haar by Durbanville Hills se restaurant aangesluit het, het Louisa van haar kenmerkende disse by die spyskaart gevoeg, soos kwartelborsies met spek, salie en droëvrugteblatjang, Tatin-tertjies met gekaramelliseerde beet en vye en varklies-en-ribbetjie wat stadig met appel en rosyntjies gerooster is. Sy vertel meer:
My lewensleuse is baie eenvoudig: “Byt vas en glo in jouself.”
My ma het my altyd op die tafel laat sit terwyl sy kosgemaak het en ek het altyd saam met my ouma gebak en gebrou. My liefde vir kosmaak het daar begin. Eers heelwat later in my lewe het ek besef ’n mens kan inderdaad ’n bestaan as kok maak en het aan die Prue Leith College of Food and Wine gaan studeer. My kookstyl sal as gemaklik, uniek en eerlik beskryf kan word. Die reuk van appelkose, kaneel en kerrie herinner my aan my kinderdae. Melkkos is gewis vir my trooskos, want alles word beter ná een of twee of drie bakke daarvan. As daar nou een ding is wat my ma en sussie kan maak waaroor ek mal is en waarvoor ek gereeld vra as ek nie lus is vir kook nie of sommer net bederf wil word, is dit hul pannekoek en vetkoek. Ek moet myself vermaan om my nie te ooreet nie.
My sjefshoogtepunte was om by ’n privaat lodge te werk met die groot vyf in my agterplaas. En om in Johannesburg vir vele groot sterre en bekendes hul troues en gesellighede te kon doen. As ek drie bekende mense vir aandete kan nooi, sal ek vir Jimmy Carr, Gerard Butler en Nigella Lawson nooi. Jimmy sal sorg dat ons almal lekker lag, Gerard Butler is iets vir die oog en het boonop ’n mooi aksent en Nigella kan al die kookwerk doen vir die aand sodat ek ’n slag kan agteroor sit!
Afhangende van die restaurant waarheen ek gaan vir ete, het ek gunstelinge, maar ek is mal oor soesji en goeie steak wat perfek voorberei is. My gunstelingkosbestemmings is Engeland, Italië en Portugal. Ek gebruik graag koljander en dille in my kos, maar ek glo dragon kry nie genoeg aandag in Suid-Afrikaners se kombuise nie omdat mense nie besef hoe veelsydig en smaaklik dit is nie.
Ek kan nie net een kombuisgereedskapstuk of -masjien kies nie. Ek is verlore sonder my Kitchen Aid, ’n lekker ingeleefde houtlepel, ’n skerp groentemessie en ’n ballonklitser.
5 dinge oor Louisa
1. As ek nie ’n sjef geword het nie, glo ek ek sou nogal goed as pianis gevaar het.
2. My gunstelingdrankie is ’n Pimms-mengeldrankie en ek geniet ’n goeie koppie koffie.
3. Vir onverwagte gaste maak ek ’n groot mengelslaai met oorskietvleis of vis van die vorige aand en ek bedien ’n lekker vars brood daarby.
4. Speserye, neute en mosterd is altyd in my koskas, maar ek glo vars kruie kikker enige maal op.
5. My gunstelingkookboek is een van my ouma s’n. Dit val al uitmekaar, maar daar is heerlike kosgeheime in.
Stuur ’n e-pos na [email protected] vir meer inligting oor die restaurant
SOURCES
Verskaf