Willie Burger kyk hierdie week na Marlene
van Niekerk se nuwe digbundel
Hoewel Marlene van Niekerk as digter gedebuteer het (die bundels Sprokkelster en Groenstaar het in 1977 en 1983 onderskeidelik verskyn), het sy eintlik beroemd geword op grond van haar veelbekroonde en herhaaldelik vertaalde romans – veral Triomf (1994) en Agaat (2004). Met Kaar keer sy terug na die poësie. Dit is ’n besonder dik digbundel van oor die 200 bladsye. Baie Afrikaanse romans is nie eens so dik nie, laat staan nog digbundels. Dit blyk reeds ’n geruime tyd duidelik dat Van Niekerk, soos enige ernstige skrywer, digter of letterkundedosent seker behoort te doen, worstel met vrae oor wat die letterkunde eintlik is. In die eerste kortverhaal uit haar vorige publikasie, “Die sneeuslaper” (2010), vra die hoofkarakter die volgende vrae: “Wat doseer ’n mens as jy ’n dosent is in Skeppende Skryfkunde? Gaan dit oor die ware, oor die goeie of oor die skone? Betref dit kritiek of fantasie of geloof? Wat is die nut van letterkunde, die waarde daarvan op die groot doek van menslike inspanninge? En miskien moet ek vra: Is ’n verhaal iets wat ’n mens kan troos?” In “Die sneeuslaper” word telkens ander moontlike antwoorde op hierdie vrae bedink, maar veral die spanning tussen kunswerke wat om hul skoonheid, waarheid en goedheid waardeer word aan die een kant, en kuns as ’n handeling met politieke en sosiale implikasies aan die ander kant, staan sentraal. In Kaar word hierdie spanning (onder meer) opnuut ondersoek. In “’n Boodskap uit die dode van Peter Blum” word gevra na “die taak van die digter in tweeduisenddertien” en die antwoorde wat in die gedig gebied word, dui juis op die uiterstes van suiwer estetiese bevrediging teenoor sosiale betrokkenheid wanneer daar staan poësieskryf is: “… oorskulpe kerf tot orgideë vir die adders van Eden, dis tonge inent teen die swermery van Shofar; dis ’n pensklavier rig teen die kreasionis …” Daar is talle polities en sosiaal betrokke gedigte – gedigte wat ’n mens laat dink aan Antjie Krog wat geskryf het: “ek skryf omdat ek woedend is”. In hierdie gedigte lewer Van Niekerk kommentaar op korrupsie, misdaad, die maniere waarop maghebbers hulle nie steur aan die nood van gewone mense nie en die verwoesting van die omgewing. Die gedig “Teorie en praktyk van die digkuns in ’n era van aardgas” word opgedra aan “die meesters van Shell, ’n boodskap uit Suid-Afrika” en hierin staan uitdruklik: “naas binnehuisversiering is poësie ook ’n wapen”. Sy lê ook hierin ’n direkte verband tussen die Nederlandse oliereus, Shell, se pogings om skaliegas in die Karoo te ontgin en die kolonisering van Suid-Afrika. Dan is daar gedigte wat hoegenaamd nie begaan is oor die politiek of met sosiale verantwoordelikheid nie, maar wat in die eerste plek gaan oor mense (soos haar pa), oor plekke (die Overberg), oor plante en diere, oor ander kunswerke. Dikwels blyk hieruit fyn waarnemings, maar veral Van Niekerk se verbysterende vermoë om woorde te vind wat telkens soveel meer sê as wat daar staan – om metafore te skep wat jou heel anders laat kyk en jou opnuut moontlikhede van Afrikaans laat raaksien. Dan besef ’n mens hoe gemaklik ons raak met die eerste die beste woord, hoeveel ander moontlikhede daar is om ons bestaan en die alledaagse om ons mee te beskryf – en natuurlik lei dit ook tot soveel ander nuanses van kyk en dink. Daar is ook gedigte waarin taal en klank die fokus word. Die blote klank van die gedig as uitbundige spel is in hierdie verse belangriker as sosiale relevansie of selfs as betekenis. Sodoende word dit duidelik dat poësie ook in die spanning staan tussen betekenisonthulling of sinskepping aan die een kant en mors en speel aan die ander kant. Onder die roerende “Strofes vir my pa” is daar byvoorbeeld hierdie vers (wat ’n mens nogal op ’n manier aan Boerneef laat dink): Kleintyd het jy ons geleer wat die korhaan as hy opvlie uit die voetpad roep: gelapte gat gelapte gat gelapte gat van Kokkerinja. Kokkerinja wié? en is hy oud? wou ons dan weet. ’n Klipners met ’n vaal kalot, ses gate in sy beend’rekop sy melk is kês sy meel is leng, dis winddroog wat hy in die waenhuis hang en omkyk na die maanligklou die poek varkvet, die homp bruinbrood, kokkerinja in die langgras is die niks- en alleswoord.
In Kaar is gedigte vir almal: Prettige, speelse verse; sosiaal betrokke, kritiese verse; maklik leesbare, toeganklike verse; ingewikkelde verse vol moeilike verwysings met onbekende woorde en verwronge sintaksis; roerend mooi verse oor geliefdes, oor oudword, oor doodgaan, oor verlange; verse waarin die kreatiewe woord en vorm skop teen die beperkings van geykte denke; vormvaste verse en praatpoësie. Maar dit beteken nie dat Kaar ’n hutspot van gedigte is wat probeer om in almal se smaak te val nie. Die bundel is ’n kragtige demonstrasie van wat poësie, spesifiek Afrikaanse poësie, juis vandag, in Suid-Afrika, kan wees. Kaar. Kaapstad: Human & Rousseau Vk