Willie Burger kyk hierdie
week na van Jan Rabie
se kortverhale
I n elke bespreking van Jan Rabie se beroemde kortverhaalbundel Eenen- twintig (1956) word daarop gewys dat hierdie verhale vernuwend is en dat dit ’n breuk met die tradisionele maniere van skryf ingelui het. Hy word as die mees radikale vernuwer van die Afrikaanse kortverhaalkuns beskryf; as die profetiese stem wat die “vernuwing” van die sestigerjare vooruitgeloop het. Met al hierdie opmerkings word Jan Rabie se werk in ’n baie positiewe lig gestel. Die dun bundeltjie met 21 kort kortverhale word as een van die hoogtepunte in die Afrikaanse kortverhaalgeskiedenis beskou en jaar ná jaar word kortverhale hieruit aan skoolkinders en studente voorgeskryf. Telkens ontstel en verras verhale soos “Drie kaalkoppe eet tesame”, “Die man met die swaar been”, “Piramides” en “Ek het jou gemaak”. Rabie se verhale was “vernuwend” omdat hulle onkonvensioneel is. Hierdie verhale breek met die tradisionele manier van vertel en die tradisionele temas waaraan lesers van Afrikaanse kortverhale teen die 1950’s gewoond was. Soos talle ander modernistiese skrywers, was Rabie op soek na nuwe maniere van vertel, na ander maniere om die werklikheid te verstaan. Die idee agter hierdie soort modernistiese skryfwerk is dat ander tegnieke van skryf en vertel kan lei tot die ontdekking van ander maniere om die wêreld te verstaan. Hierdie soort verhale vra ook ’n ander houding van die leser. Die leser wat hierdie verhale met waardering lees, is die soort leser wat van letterkunde verwag dat dit ander maniere van verstaan sal oopbreek; dat dit die wêreld waarin ons leef, sal verander. Die leser verwag dat ’n literêre teks in sy/haar lewe sal ingryp omdat dit die leser met buitengewone woorde, styl, sinne en vertelwyses konfronteer wat so ongewoon is dat dit die leser disoriënteer (en sodoende tot aksie, tot ’n verandering van gedagte, aanmoedig). ’n Mens lees dus nie letterkunde vir jou vermaak nie, maar omdat dit jou uitdaag, vervreem en selfs kan verander. Hierdie verhale konfronteer die leser met onaangename waarhede en met die tekortkominge van sy/haar eie maniere van verstaan. Omdat daar altyd positief na hierdie verhale verwys word, gee dit die indruk dat “vernuwing” altyd goed is en dat alles wat konvensioneel of tradisioneel is, dus nie goed is nie. Lesers dink dikwels dat hierdie verhale “moeilik” is – juis omdat dit nie op die gewone, konvensionele maniere vertel word nie. Die gebeurtenisse wat beskryf word, is soms surrealisties. In die bekende “Drie kaalkoppe eet tesame” word drie uitermate vet mans met kaal koppe beskryf wat in ’n restaurant sit en eet. Eers verorber hulle die een gereg na die ander met vraatsige haas. Later neem die kos wat hulle eet, die vorms van mense aan: “arms, bene, borste van maagde, ’n kinderhofie, rosig gekook”. Nog later begin hulle om die mense rondom hulle te verskeur en verorber. Uiteindelik lees ons “hulle byt hulle eie vingers af en skeur groot stukke uit mekaar se lywe” totdat net drie kaal koppe “glimwit soos doppe van oopgekraakte eiers” op die restaurantvloer agterbly, wat deur die kelner soos “drie verrotte pampoene” weggegooi word. Aan die einde dek hy swygend die tafel vir die volgende dag se maal. Hierdie slot is natuurlik onheilspellend omdat dit suggereer dat dieselfde ontstellende skouspel herhaal gaan word. In “Die man met die swaar been” val ’n siek oudsoldaat in die straat neer. ’n Groepie verbygangers versamel om hom en ’n ambulans word ontbied. Niemand maak eintlik regtig kontak met die soldaat nie. In sy angstige gewriemel op die grond gryp hy een van die omstanders se enkel vas. Wanneer hy later deur ’n ambulans weggevoer word, gaan almal weer hul normale gang, behalwe die man wie se enkel die siek soldaat gegryp het: Sy been word al hoe swaarder totdat hy glad nie verder kan loop nie. Hierdie soort verhale is verbluffend vreemd. Die leser wat dadelik wil weet wat dit “eintlik beteken”, vra die verkeerde vraag aan hierdie verhale. Hierdie is “moeilike” kuns wat nie dadelik aan talle lesers se vereistes voldoen wat net na ’n lekker storie op soek is nie. Net soos komponiste soos Arnold Schönberg, wat met “vals” note die musikale tradisie van harmonie ondermyn het, of ’n skilder soos Jackson Pollock wat met allerlei verfdrupsels op doeke die idee van ’n “mooi” landskap of ’n herkenbare onderwerp die tradisie van skilderkuns ondermyn het, ondermyn hierdie verhale van Jan Rabie tradisionele maniere van vertel. Kunstenaars soos hierdie streef nie mooiheid na nie, maar probeer die hele tyd om nuwe maniere van uitdrukking te vind – ten einde ander aspekte van ons bestaan te ontdek. Vk
Willie is professor in letterkunde aan die Universiteit van Pretoria. Hy is die skrywer van Die wêreld van die storie (2018), ʼn boek oor storievertelling. Willie het oor die afgelope 20 jaar om en by 300 boeke in verskeie dagblaaie en tydskrifte geresenseer. Hiervoor is hy in 2015 met die Caxton Excellence Award vir sy resensies in Vrouekeur erken en in 2016 is die kykNet-Rapport-toekenning as “Boekresensent van die jaar” aan hom toegeken en in die daaropvolgende jare was hy elke jaar op die kortlys vir dié prys. Gedurende 2018 was het hy die boekinsetsel op kykNet se Groot Ontbyt-program aangebied. Met sy resensies en rubrieke probeer hy om literêre navorsing ook buite die grense van die akademie te versprei.