Willie Burger kyk na drie bekende skrywers se werke
Stockenström op 80 steeds onstuitbaar
In die jaar waarin Wilma Stockenström haar 80ste verjaardag gevier het, het ’n nuwe bundel, Hierdie mens, einde verlede jaar verskyn. Soos altyd is Stockenström met die groot lewensvrae gemoeid, dikwels met ’n ligte, ietwat spottende toon oor die mens se grootheidswaan.
Nog teorieë
Óf die skepping rus op ’n skilpad óf ’n outoppie skryf ’n sesdagweek voor óf ’n ster lag so dat hy ontplof óf ’n ligsinnige by los ’n stuifmeelkorrel óf op die stamper van die verkeerde blom óf op die teelaarde van rampspoed en sotheid óf in die niet, moge ’t treffe. Of? Soos ’n mens kan verwag, word dikwels ook oor oudword besin:
Dit wil-wil
Noudat die somer sy laaste asem, goud en bruin, uitblaas oor die stad skrik ek vir die kennis wat ek dra, al aan die een kant, en gaandeweg hel ek oor na inval by wending. Dis goed om op te ruim, feite, die dooie vlieë, met die skoppie uit te gooi. Minder weet, meer wonder. Dit wil-wil winter word.
Jan van Tonder roep weer vir Sagie
Jan van Tonder het groot sukses met Roepman, ’n grootwordroman wat in die 1960’s in die Durbanse spoorwegbuurt afspeel, gehad. Die roman is in Engels en Nederlands vertaal en ook verfilm. Deur die beperkte vertelperspektief van ’n kind, word Timo se verlies van onskuld op meesterlike manier aangebied. Hoewel Roepman dalk Van Tonder se bekendste roman geword het, het hy reeds in 1987 met Is Sagie gewys hoe goed hy juis vanuit die perspektief van iemand wat soos ’n kind ’n ingekorte begrip van die wêreld het, iets deernisvol kan uitbeeld. Ná Ansie se vertrek aan die einde van Is Sagie, bou Sagie nou ’n huis vir Ansie in die naïewe geloof dat sy sal terugkeer as die huis net eers klaar is. Sy pa probeer steeds sy bes om Sagie teen die wêreld te beskerm. Hy verbied byvoorbeeld al die werkers om Sagie met die huis te help, maar Sagie gaan hardkoppig voort. Byna alle romans gaan oor die botsing tussen die spesifieke beeld wat een mens van die wêreld het met die manier waarop die res van die mense die wêreld verstaan. Wanneer ’n karakter dapper veg om sy of haar ruimer beeld van die wêreld teen ’n gemeenskap se stiksienigheid te verdedig en om die gemeenskap van die gevolge van hul stiksienigheid te red, ontstaan ’n heldeverhaal. Wanneer ’n individu egter, soos Sagie, ’n beperkte begrip van die lewe het, ontstaan iets tragies, ’n verlies van onskuld en droefheid. Te maklik kan só ’n vertelling soetsappig, ’n maklike opwekking van emosies word, maar Van Tonder is ’n uitgeslape verteller wat dit nie laat gebeur nie. Is weer Sagie is ’n roerende leeservaring.
Steinmair laat weer wenkbroue lig
Deborah Steinmair se Wenkbrou is haar tweede “raaiselroman”. In die vorige raaiselroman, Die neus (2012), het lesers reeds met Aga Gruber se buitengewone opspoorvermoëns en met Deborah Steinmair se speelse, spottende vertelstyl kennis gemaak. Een paragraaf, waarin die rowwe Claude die hele “bende” speurders bekendstel, kan waarskynlik beter saamvat wat ’n leser kan verwag as wat ek in ’n lang beskrywing kan weergee: “Nou laat ons begin. En moenie jouself kid dat ons ’n amateur-opset is nie, Suster. Ons het al geharde moordenaars gecrack. Ons attack op verskillende fronte. Aga het intuïsie en sy kan hipnotiseer. Boonop is sy soort van out of it met ligte Asperger. Net vandag het sy vir Suster Rut amperamper in die been gezap met haar eie rewolwer. Jesse is clairvoyant en baie wys. Stasi Sodatos het die ancesters, probably joune ook, aan haar kant en sy ken ’n hele paar tricks. Ek is basically die nice guy, die een wat jy aan jou kant wil kry sodat ek kan ingryp as die bitches psycho draai. Ek hou die rewolwer vas omdat ek die stable een is, behalwe nou vir Jesse wat nie kan sien nie, maar as jy nie saamwerk nie, gee ek die gun soos in at once aan vir Aga of Stasi, and deal with it.” Vk