Willie Burger kyk na Abraham H de Vries se
kortverhaal ‘Tussen gewone mense daardie aand’
Dis die storie hierdie van ’n onbegryplike Oukersaand op ons dorp in die Klein Karoo. Ná wat daar by die Keurbosch-padstal en die Makkadaskafee gebeur het, is niemand meer dieselfde nie. ’n Mens kan mos nie vir jou eie oë en ore sê hulle bedrieg jou nie.” Hierdie woorde kom uit die eerste paragraaf van Abraham H de Vries se kortverhaal “Tussen gewone mense daardie aand”. In hierde verhaal uit die bekroonde bundel Tot verhaal kom (2003) kry De Vries dit reg om die bekende Kersverhaal op verrassende manier te hervertel. So baie Kersverhale verval in clichés en druk op die bekende sentimentele knoppies van lesers. De Vries is egter ’n meesterverteller en al lyk dit asof die verhaal dieselfde holruggeryde paadjie gaan stap met donkies en skape en skaapwagters en ’n koor en ’n swanger vrou en ’n krip met ’n wonderster daarbo, verras hy tóg. In hierdie verhaal word vertel van die jaarlikse Kersopvoering in ’n klein dorpie. Al die inwoners van die dorpie word betrek en die Kersspel word in die buitelug opgevoer. Die opvoering word egter onderbreek deur ’n motor wat onverwags aangery kom en in die Kersspel beland. Daar is ’n man en ’n hoogswanger vrou in die motor en hulle is dringend op soek na ’n dokter wat met die geboorte kan help. Tot hier lyk dit soos ’n wonderlike toeval wat die dorpie se Kersspel tref. Hulle dink nog hulle voer die verhaal van Jesus se geboorte op – met kore en skaapwagters en almal wat deelneem – dan word die gebeure deur ’n werklike geboorte onderbreek. As die regisseur van die dorp se Kersopvoering hierdie verrassing beplan het, het hy daarmee ’n onverwagte wending aan die bekende Kersspel gegee. Maar hy is kennelik ook verras deur hierdie ingryping en die verhaal neem ’n verdere wending. Wanneer die inwoners die volgende oggend, op Kersdag, probeer navraag doen oor wat van die besoekers geword het, onstaan ’n raaisel. Dit blyk dat die man, vrou en baba spoorloos verdwyn het. Die raaisel verdiep wanneer hulle by die polisieman wat die pad afgesper het sodat verkeer nie skielik die opvoering sou kon ontwrig nie, verneem dat daar nooit ’n kar by die padblokkade verbygekom het nie. Hiermee word hierdie realistiese, eietydse verhaal ook ’n misterie, soos wat die Kersverhaal nog altyd ’n misterie bevat het. Daardie wonderwerk van eeue gelede, word as ‘t ware hier, in “ons dorp”, “tussen gewone mense”, herhaal. As dit al was, sou hierdie ’n interessante, dog konvensionele Kersverhaal gewees het wat die oorspronklike wonder in ons eie tyd en plek wil bevestig. Maar dan volg die slotparagraaf waarin die mense se vrae stories word. Mense het die storie van die raaiselagtige gebeurtenis herhaaldelik oorvertel in ’n poging om sin daarvan te maak: “En die vrae het stories geword (…) En hoe wonderbaarliker die geheim geword het, hoe minder het ons gewonder oor die mense en al hoe meer oor wie dan die ander regisseur was wat óns in dié verhaal ingewerk het oor ’n God wat met sy skepsels deernis het? Wie het so goed geweet van ons diepste nood? Waar pas ons in? Ons almal?” (79.) Die laaste paar sinne van die verhaal is ’n meesterstuk waardeur die raaisel nie meer net die mense van Makkadas/ Keurbosch betrek nie, maar ook die leser – “ons almal”. Die sin oor die “wonderbaarlike geheim” kan op verskeie maniere gelees word. Enersyds kan dit beteken dat “ons”, as mense, deur ’n “ander regisseur”, deur “’n God wat met sy skepsels deernis het”, in ’n verhaal ingewerk word. Hierdie interpretasie sluit aan by die idee van Kersfees, dat ’n deernisvolle God uiteindelik die ware sinvolle storie vertel waarby ons almal ingewerk is. Hy is die regisseur van ons almal se lewens. Ons verstaan dalk nie God se storie nie, maar die wete dat ons daarby ingewerk is, voorsien in ons diepste nood – ons behoefte aan sin. Andersyds kan die sin egter ook beteken dat “ons”, as menslike vertellers, ’n “ander regisseur” in óns verhaal “ingewerk” het. Só gesien, vertel mense ’n verhaal oor ’n “God met deernis”. Ons vertel so ’n verhaal oor ’n God met deernis omdat ons nood en behoefte na sin so groot is. Ons diepste nood is om iewers in te pas, om sinvolheid te ervaar, en daarom vertel ons verhale waarmee ons sin aan ons bestaan gee. Deur albei hierdie moontlikhede oop te laat, dat mense ’n verhaal van God vertel om sodoende antwoorde op ons “diepste nood” te kry, of dat ons in God se verhaal invertel word omdat God ons met deernis behandel en ons diepste nood, naamlik ons vraag na sin en samehang, wil bevredig, word gesuggereer dat geen vertelling ’n finale sluiting kan bring nie. Die paragraaf eindig met vier vraagsinne en sodoende word die troos van ’n sluitende verhaal ondermyn. Selfs die troosvolle Kersverhaal bly ’n verhaal, ’n vertelling, en hoewel betowerend, onvoltooid – steeds oop om weer vertel te word vir elke mens op soek na troos. Vk