Dominee maak hard keel skoon. Die diens begin. My gedagtes is eiewillig. Ek wonder oor die dood. Die bome wat nou val, is my maats
MONICA SMIT
Orrelklanke bring ‘n mens in die regte stemming. Hartseer en grys. Dood … Dit is seker hoe dit móét wees. ’n Stofdeurdrenkte sonstraal loer by die venster in, maar dit verlig nie die atmosfeer nie. Ek sien nie juis die punt in dat die mens eintlik moet bly wees as iemand doodgaan nie. Hy is dan in ’n beter plek, redeneer hulle. Wat van dié wat agterbly? Hartseer en verlange bly vir jare aan mens knaag. Koos was almal se pêl. Hy was ’n steunpilaar vir almal.
“Dag, oom Fasie.”
Die krom ou man staan in ’n dwaal langs my. “Wil oom langs my inskuif?” Stilte. “Oom kan,” sê ek terwyl hy my aanstaar. Ek dink hy is so oud soos Metusalem.
“Tag, boet!” Hy praat hard. Koppe draai na ons. “Lat ek dit doen,” klaar besig om met sy lang lomp bene en kierie oor my te sukkel. Plof langs my neer.
“Oom se hoed.” Ek wys daarna. “Haal dit af,” fluister ek vir die windverwaaide oompie.
“Ja, boet. Ek kom daarby!” Hy klik sy tong vererg vir my.
Dominee maak hard keel skoon. Die diens begin. My gedagtes is eiewillig. Ek wonder oor die dood. Die bome wat nou val, is my maats. Dié gedagte maak my benoud. Sweet pêrel op my voorkop. Ek dink aan tye saam met Koos. Ons het skaars ons pensioendae begin geniet. My keel trek toe. Ek baklei verbete teen die trane. Probeer die knop in my keel afsluk.
Ek wip soos ek skrik toe oom Fasie se kop my skouer tref en uiter ’n onaardse geluid. Die vrou voor my se hoed vlieg deur die lug soos ek rondklap. Sy kyk om en gluur my aan. Ek gryp die oom vas. “Oom Fasie! Is jy oukei?”
Moet asseblief nie hier op my doodgaan nie, dink ek verward. Sy deur-die-slaap-oë stel my gerus. Die bogger het wraggies ingesluimer!
“My hart, oom,” en druk verwoed albei hande daarop. “Oom het amper my hart laat staan.” Stilte heers. Dominee se wenkbroue staan soos vraagtekens. Ek knik dat alles reg is en hy gaan voort.
Die diens swiep verby. Draers word uitgelees en bedankings word gedoen. Mense staan op en bedroefde gesigte stap verby. Ek help oom Fasie aan die arms op.
Buite los ek die ou man en stap die trappe af. Mense stap na hul motors. Skuldgevoel laat my vassteek. Ek kyk om en my moed sak in my skoene. Die beweginglose ou man staar die mense agterna. Moet my gewete my nóú pla? Ek klim die trappe tot bo.
“Kom iemand oom haal?”
“Nee, boet. Ek wil ook daar langs die graf gaan staan … gaan koebaai sê, jy weet. Ek … ek weet nie hoe ek daar gaan kom nie,” en krap sy kop soos ’n onseker kind.
Ek kyk terug na die mense en sien die laaste motors by die hek uitry. “Kom, oom.” Teen my sin sal ek die oom móét help.
“Stadig, boet! Die natuur roep eers,” en hy draai om en stap toilet toe.
By die motor sukkel ek om hom in te kry. Hemelbesem se moses! Ek weet nie of sy bene of sy kop eerste die motor moet in nie. Uiteindelik! Ek’s warm gesukkel en pluk my baadjie uit.
“Veiligheidsgordel, oom. Ons moet nou spoed optel. Almal is al weg.”
Ek vleg deur die verkeer. Tot my frustrasie laat elke rooi oog my stop. Die begraafplaas se naambord flits verby. Dankie tog! Ons skommel oor die vaal klipperige begraafplaaspaadjie. Kyk al die motors. Was daar so baie mense? Ons sal ’n hele ent moet stap.
“Oom Fasie,” sê ek, terwyl ek hom uithelp, “ons moet asseblief vinnig beweeg. Dominee is al besig by die graf. Hoor, die mense sing al.”
“Ja, Boet! Die bene wil nie meer so vinnig nie.”
Sukkelend sluit ons by die mense aan. Ek kry my gejaagde asem onder beheer. Hoor hartseer hoe die laaste formaliteite afgehandel word. My aandag word deur mooi koorsang afgelei. My oë soek daarna en sien die mense by ’n ander graf. My oë dwaal oor die roubeklaers om my en dan dring die skok tot my deur. Ons huil by die verkeerde graf!