Hier is ’n kykie na Chroniesemoegheid-sindroom
Christa Swanepoel
Chroniesemoegheid-sindroom (CMS) word ook ME (mialgiese ensefalomiëlitis), yuppiegriep, postvirale vermoeid heidsindroom, Royal Free Hospital-siekte of chroniese Epstein-Barr-virus genoem, skryf dr Linda Friedman in haar boek Self (Tafelberg). CMS is ’n sindroom wat wisselende kombinasies van simptome beskryf, onder meer terugkerende vermoeidheid, seer keel, laegraadse koors, spier- en gewrigpyn, herhalende hoofpyn en verlies aan konsentrasie. Hoewel dit eers onlangs omskryf is, is daar reeds in die 1860’s in die mediese literatuur na ’n soortgelyke toestand verwys. Dit raak duisende mense en kom meer by vroue as mans voor. Dit kom algemeen by jong tot middeljarige mense voor. Mense met CMS kan nie normaal by die huis of werk optree nie, vanweë die chroniese moegheid. Dit kan tot depressie lei, maar depressie is nie ’n oorsaak van CMS nie. Volgens die webwerf www.emedicinehealth. com is CMS ’n siekte sonder ’n bekende oorsaak, maar kan met ’n vroeëre infeksie verband hou wat die immuunstelsel beïnvloed.
HET JY CMS? Jy kan CMS hê as jy aan die volgende kriteria voldoen:
_ As jy ses maande of langer erge chroniese moegheid beleef en alle ander bekende toestande wat moegheid veroorsaak deur jou dokter uitgeskakel is.
_ As jy tegelykertyd vier of meer van die volgende simptome het: besliste probleme met korttermyngeheue of konsentrasie, seer keel, seer kliere, spierpyne, pyne in verskeie gewrigte sonder swelling of rooiheid, hoofpyne wat in patroon en sterkte van vorige hoofpyne verskil, voel moeg en onverkwik selfs nadat jy geslaap het en erge moegheid wat langer as 24 uur aanhou nadat jy geoefen het of jouself ingespan het.
ANDER OORSAKE VAN MOEGHEID
Ander toestande wat simptome soortgelyk aan die van CMS veroorsaak, moet uitgeskakel word. Dit sluit in: adrenalientekort, kwaadaardigheid, vigs, niersiekte, psigosomatiese siekte, Lyme-siekte, fibromialgie, hepatitis C en skildklierprobleme.
WANNEER OM ’N DOKTER TE SPREEK
Baie dokters neem CMS glad nie ernstig op nie en glo nie dis ’n ware toestand nie. Dit maak dit ’n baie moeilike toestand om te bestuur. Linda raai lyers aan om ’n dokter te soek wat simpatiek is en jou hierdeur kan help. Omdat die spesifieke oorsaak nie bekend is nie, is daar nie ’n vasgestelde behandeling vir CMS nie. Behandeling word daarop gerig om simptome te verlig. Die doeltreffendste behandeling is ’n omvattende lewenstylprogram wat ontwerp is om jou energievlakke ’n hupstoot te gee deur middel van voeding, oefening, aanvullings, stresbeheer en vermyding van moontlike snellers. Vra jou dokter uit oor nuwe behandelingsmetodes – ook kruieaanvullings. Die CMS-lyer moenie ’n vinnige herstel verwag nie. Die verwagting dat jy vinnig weer energie sal hê, en dit gebeur nie, kan inderdaad die moegheid vererger. Jy moet saam met jou dokter ’n program uitwerk wat vir jou geskik is wat op jou totale mediese toestand en huidige simptome gegrond is en moet aangepas word soos die simptome verander. Dit sal beteken dat jy gereeld jou dokter moet spreek sodat hy jou toestand kan monitor.
WAT JY SELF KAN DOEN
Ook vir mense met CMS is fisieke aktiwiteit belangrik om goeie gesondheid te handhaaf. Die CMS-lyer moet bepaal hoeveel oefening is genoeg en wanneer om te stop om nie die moegheid te vererger nie. Lyers moet ook emosionele stres vermy. Totale rus moet liefs vermy word omdat dit die moegheid kan vererger. Minder koffie en alkohol naby slaaptyd kan vir ’n beter nagrus sorg. Moet jou ook nie van ander mense afsluit nie.