Fotografie is ’n veeleisende beroep, maar jy kan die suksesleer klim, sê Lindi Herbst
Marlene Boshoff het agt jaar in ’n korporatiewe omgewing gewerk voor sy besluit het om eerder fotografie haar beroep te maak. “Fotografie is my ware passie! Ek leef my passie met elke fotosessie uit,” vertel sy. Sy spesialiseer in die neem van foto’s van pasgebore babas, gesinne, swangerskappe, paartjies en troues.
VOOR- EN NADELE Marlene geniet dit om nuwe mense deur haar beroep te ontmoet. “Ek geniet dit veral om met kinders te werk. Ek hou van mense en om te sosialiseer. My fotosessies is altyd groot pret!” vertel sy. As jy skeppend is, is fotografie ideaal vir jou, omdat hierdie beroep jou die geleentheid gee om jou kreatiwiteit vrye teuels te gee. Marlene meen fotografie is ook ’n baie vervullende beroep: “Ek leer elke dag iets nuuts. Dit laat my baie goed voel om te sien hoe ek as fotograaf groei,” sê sy. “Dis ook ’n wonderlike gevoel om te sien as jou kliënte met die eindproduk tevrede is.” ’n Fotograaf wat by ’n geleentheid foto’s neem, kry ook die kans om nuwe plekke te sien en verskillende mense te leer ken. Deur fotosessies kry jy ook die geleentheid om te netwerk en jouself te bemark. Fotografie is egter ’n baie veeleisende beroep. “Dit verg lang ure weg van jou gesin omdat jy dikwels oor naweke en op vakansiedae moet werk,” sê Marlene. “Dis ook baie harde werk, want ná ’n fotosessie volg die digitale manipulasie, wat baie tyd in beslag neem.” Sy werk dikwels tot 12 uur op ’n slag.
INKOMSTE Dis moeilik om te bepaal hoeveel ’n fotograaf verdien. ’n Fotograaf wat vir ’n maatskappy werk, kan verwag om met ’n salaris van ongeveer R4 500 te begin. As jy meer ervaring het, kan jy ’n salaris van ongeveer R8 000 verwag. As jy besluit om jou eie fotografieonderneming te begin, is daar ’n paar faktore wat ’n rol speel. Volgens Marlene hang ’n fotograaf se inkomste grootliks af van hoeveel ervaring hy al opgedoen het. “Amateurfotograwe is relatief goedkoop in vergelyking met professionele fotograwe wat reeds jare se kennis en ervaring opgebou het,” sê sy. ’n Fotograaf se inkomste hang ook af van hoeveel ure hy bereid is om te bestee. “As jy bereid is om hard te werk, insluitende naweke en openbare vakansiedae, kan jy ’n goeie inkomste verwag,” meen Marlene. Nog ’n faktor is of jy ’n ateljee het en of jy een moet huur. “Fotograwe wat ’n ateljee moet huur, se pryse is aansienlik hoër, omdat hulle die huurkoste moet dek,” sê sy. Fotografie behels ook meer as net “die druk van ’n knoppie”. Daar is beslis ’n tegniek agter mooi foto’s neem, dus moet jy minstens ’n paar kursusse volg en werkswinkels bywoon.
OPLEIDING Om ’n fotograaf te word, hoef jy nie noodwendig ’n graad by ’n universiteit te voltooi nie. Marlene het ’n paar werkswinkels bygewoon, waar sy die basiese beginsels van fotografie, asook die funksies van ’n kamera geleer het. “Ek het ook werkswinkels bygewoon wat my geleer het om unieke en besonderse foto’s by troues te neem en hoe om die spesiale dag te hanteer,” vertel sy. “Ek het ook werkswinkels oor digitale manipulasie bygewoon.” Daar word aanbeveel dat jy ’n kursus deur ’n tersiêre inrigting doen. As jy wel besluit om hierdie roete te volg, sal ’n kursus vir ’n diploma in fotografie jou drie jaar neem om te voltooi, met ’n vierde jaar daarby om jou graad te kry. Dis ook ’n goeie idee om as fotografiese intern te werk terwyl jy studeer.
RAAD Fotografie is ’n baie mededingende beroep. Wees altyd op die uitkyk na nuwe uitdagings en geleenthede. Mik hoog! Wees passievol oor jou werk en altyd lojaal teenoor jou kliënte. Kweek goeie menseverhoudings, want opregte oomblikke kan net vasgevang word as die mense met jou as fotograaf gemaklik voel. Bemark jouself soveel as moontlik. Ontdek jou unieke styl en werk daaraan om dit te ontwikkel en te verbeter. Wees bereid om hard te werk en baie geduldig te wees – dit neem tyd om naam te maak. Jy moet weet hoe om beheer te neem, sodat jy ’n fotosessie kan manipuleer om die beste foto’s moontlik te kry.
KONTAKTE Besoek www.tut.ac.za; www. vegaschool.com; www.oakfieldscollege. co.za; www.thephotographyinstitute. co.za; www.codp.co.za; www. stellenboschacademy.co.za; www.ctsp.co.za www.marleneboshoffphotography.co.za. Vk