Jy kan die wêreld met dié loopbaan sien, skryf Lindi Herbst
Berdine Steyn het in 2011 as ’n spaterapeut aan boord van ’n luukse passasierskip gewerk, wat in ’n tydperk van sewe dae na vier eilande vaar. Sy werk tans as die assistentspabestuurder by ’n spa in Dubai.
VOOR- EN NADELE Berdine meen daar is heelwat voordele om as spaterapeut op ’n boot te werk. “Dit is baie luuks en modern met van die beste geriewe, insluitende masseerkamers, saunas, stoomkamers en jacuzzi’s,” vertel sy. “Die spapersoneel mag hierdie geriewe op hul af dae gebruik.” Sy geniet ook die verskeidenheid mense wat sy in haar werk ontmoet. “Hierdie beroep gee jou die geleentheid om die wêreld vol te reis en nuwe plekke te ontdek. Jou kennis verbreed en jy leer baie oor menseverhoudings, sowel as hoe om sosiaal met mense van verskillende nasionaliteite en statusgroepe te verkeer. Daar is boonop die kans om ’n bekende raak te loop of selfs te behandel!” Daar is ook nie kommer oor huisvestingkoste en -verantwoordelikhede nie. “Op die boot eet jy dieselfde kos as wat die passasiers kry en omdat ’n mens depressief kan raak om so lank op die see te wees (soms drie maande op ’n slag), word daar ook heelwat vermaak en aktiwiteite vir personeel aangebied.” Daar is egter ook nadele daaraan verbonde. “Die werk as spaterapeut is baie veeleisend. Jy werk tussen tien en 14 uur per dag vir vyf dae en ongeveer ses uur die ander twee dae. Ná vyf maande begin dit ’n mens vang.”
INKOMSTE Die basiese salaris is nie baie nie. ’n Spaterapeut by ’n viersterspa verdien gemiddeld R3 000 tot R4 000 per maand. As jy vir ’n vyfsterspa werk, kan jy verwag om tussen R5 000 en R7 000 te verdien, fooitjies en kommissie uitgesluit. “Baie spaterapeute verkies om oorsee of op skepe te gaan werk, omdat die inkomste baie hoër is,” meen Berdine. “Die konsep van ’n salaris is onlangs uitgefaseer, wat beteken dat jy net vir fooitjies en ’n kommissie werk.” As jy aan boord ’n skip werk, kan jy verwag om tussen 400 en 600 dollar per maand in fooitjies te verdien. As jy besluit jy wil oorsee by ’n spa werk, sal jou inkomste effens hoër wees. In die Midde-Ooste verdien junior terapeute tot R5 000 (fooitjies en kommissie uitgesluit). Senior terapeute kan tot R9 000 per maand verdien. “Die lekker van oorsese spa’s is dat jou verblyf, vervoer en etes meestal ingesluit word,” vertel sy.
OPLEIDING Berdine het ’n hoër internasionale diploma in komplementêre terapie deur Healing Hands International in Bloemfontein gevolg (dit word landwyd aangebied). “Die kursus neem ongeveer nege maande tot ’n jaar om te voltooi,” sê sy. “Daar’s ’n paar verpligte modules, maar die res kan jy self kies.” Die opsies waaruit jy kan kies, sluit Sweedse massering, sportmassering, refleksologie en aromaterapie in. Jy kan verwag om vir ’n soortgelyke kursus enigiets tussen R25 000 en R30 000 te betaal. “Jy kan die kursus vanaf jou graad 10-jaar volg, wat beteken dat jy gereed sal wees om te gaan werk sodra jy matriek voltooi het,” vertel Berdine. As jy besluit om aan boord ’n skip ’n spaterapeut te word, is dit nie nodig om dieselfde kursus as Berdine te volg nie. “Opleiding vind binne ’n tydperk van twee, drie of vyf weke plaas, afhangende van die hoeveelheid behandelings waarin jy opleiding ontvang.”
RAAD As jy nie seker is watter kursus om te volg nie, doen ’n masseerkursus in Sweedse, deep tissue- en sportmassering. Dit sal jou tussen R6 000 en R10 000 kos. Die werk as spaterapeut op ’n boot gaan jou nie ryk maak nie – beskou dit eerder as ’n ervaring van ’n leeftyd. Die minimumvereiste vir die meeste terapeute wat op ’n skip wil werk, is ’n sertifikaat van 50 uur in Sweedse massering. Jy moet ’n sterk persoonlikheid hê, want daar is daagliks uitdagings wat jou tot die uiterste beproef. Dit gaan jou geld kos om aan boord ’n skip te werk. Jy gaan R25 000 tot R50 000 aan opleiding spandeer en daar is ook ekstra uitgawes, soos uniforms, visums, vliegtuigkaartjies, reis- en sakgeld. Moenie binne die eerste drie weke moed op gee nie – probeer om jou kontrak te voltooi.
Healing Hands International www.healinghands.co.za Camelot International www.camelotspagroup.com Berdine het ’n reeks e-boeke geskryf: Cruizin for a living – Diary of a cruise ship spa therapist Vk