Jy het dalk altyd met vrees en bewing in die tandartsstoel gaan sit, maar hoe voel dit as die rolle omgeruil word? Deur LUISA VAN DER LINDE
Tandheelkunde is ’n opwindende en meer uiteenlopende veld as wat dit op die oog af lyk. Ná ’n algemene tandheelkundegraad kan ’n mens verder in ortodonsie, prostodonsie, kaak-, gesig- en mondchirurgie, mondpatologie of periodonsie spesialiseer. Daar is ook verdere subspesialisasie in byvoorbeeld mondpatologie, soos forensiese patologie. Tandartse kan in iemand anders se privaat praktyk werk, hul eie praktyk begin, vir die staat werk of in die akademie betrokke wees. Hesti Gelderblom (41) werk die afgelope 11 jaar as tandarts in Centurion. Sy vertel meer oor dié beroep.
WERKSURE Ek plooi my werksure volgens my persoonlike skedule. Ek neem twee middae af vir my kinders se buitemuurse aktiwiteite en ek doen een oggend ’n sessie by die universiteit, wat ek baie geniet.
INKOMSTE Jou inkomste sal daarvan afhang of jy voltyds of deeltyds werk en hoeveel ure jy werk. Staats- en akademiese poste is ook beskikbaar en bied vaste salarisse. ’n Realistiese bedrag is vanaf so R20 000.
OPLEIDING ’n Gewone tandarts se graadkwalifikasie duur vyf jaar, waarna jy ’n gemeenskapsdiensjaar voltooi. Tandartse moet ook by die Raad vir Gesondheidsprofessies van Suid-Afrika (HPCSA) geregistreer wees. Ek het my graad (BChD) by die Universiteit van Pretoria verwerf en ook ’n diploma en meestersgraad in odontologie voltooi.
VOOR- EN NADELE Daar is ewe veel mans as vroue wat die beroep beoefen. Dit is ’n aantreklike werk vir albei geslagte waar ’n mens se hardwerkendheid jou sukses bepaal. Die moeilikheidsgraad maak egter dat dit ’n stresvolle beroep is. Dit is intense werk wat fyn konsentrasie verg. Die voordele is dat dit regtig ’n bevredigende beroep is en jy jou eie skedule bepaal. Jy skep ook jou eie geleenthede vir bevordering. Die nadeel is: Die tye wat jy nie werk nie, verdien jy nie geld nie, terwyl jy steeds uitgawes het.
RAAD/AANBEVELINGS n Jy moet van mense en interaksie met ander mense hou as jy ’n tandarts wil wees. n Jy moet georganiseerd wees. Beplan jou dag en bevestig afsprake, laboratoriumwerk of aflewerings. n Werk mooi met kinders. Ek voel sterk oor die beeld van ons beroep en as ’n kind se eerste ervaring aangenaam is, kan dit vorentoe net tot voordeel van die pasiënt en tandarts wees. n Deernis en vriendelikheid is belangrik. Net omdat jy iets al honderde kere gesien het, beteken nie dit is makliker vir die pasiënt nie. Almal se pyn en krisis is vir hulle erg. Vk
Vir meer inligting besoek die volgende webwerwe: Universiteit van Pretoria – http:// web.up.ac.za; Universiteit Stellenbosch – www.sun.ac.za, Universiteit van die Witwatersrand – www.wits.ac.za en Medunsa – www.medunsa.ac.za