Min mense verstaan presies wat ’n maatskaplike werker doen, skryf Lindi Herbst
W anneer iemand ’ n behoefte het om sy omstandighede te verander of dit nodig is om hulp aan so iemand te verleen om dit te kan doen, tree ’n maatskaplike werker in en tree as fasiliteerder op. Dit sluit ’n verskeidenheid situasies in, byvoorbeeld iemand wat werkloos is, emosionele probleme ondervind, mishandel word, molesteer of verkrag is, sowel as iemand wat hulp en ondersteuning nodig het omdat sy nie vir haarself kan sorg nie, soos ’n ouer persoon of minderjarige kind. Sarie Nell is ’n geregistreerde maatskaplike werker wat tien jaar vir kinderbeskermingsdienste gewerk het, maar tans ’n privaat praktyk het. Sy gebruik kunsterapie as deel van haar werk as maatskaplike werker. “Ek het ’n kursus in kunsterapie gedoen om dit in my sessies met kinders te gebruik,” sê sy.
VOOR- EN NADELE Sarie sê haar graad en ondervinding as maatskaplike werker het al baie deure vir haar oopgemaak. “In ’n paar jaar se tyd het ek myself in die korporatiewe wêreld opgewerk totdat ek ’n bestuursposisie beklee het. In die korporatiewe wêreld het ek weer vaardighede aangeleer wat ek tans in my privaat praktyk toepas, byvoorbeeld die administratiewe en finansiële bestuur van ’n praktyk,” sê sy. Sarie meen daar is beslis geleentheid vir groei in die beroep. “Jy kan jouself verder in enige rigting bekwaam waar jy met mense werk. As jy vir ’n organisasie werk, kan jy kursusse volg en verdere opleiding ontvang sodat jy jou eie praktyk kan begin.” Tog hou Sarie nie van die persepsie wat mense van haar beroep het nie. “Mense dink ’n maatskaplike werker werk net met arm mense, deel kos uit en neem kinders weg van hul ouers. Dit is nie só nie – ek werk met gewone mense in die samelewing wat probleme ondervind,” sê sy. Die aard van haar werk beïnvloed Sarie soms negatief. “Ek sien en beleef die lelike kant van menswees,” sê sy. “Ek het al met gemolesteerde en mishandelde kinders so jonk as drie jaar te doen gehad. As maatskaplike werker is ek opgelei om neutraal in situasies op te tree, maar dit is nooit vir my maklik nie.” Uitbranding is ’n werklikheid as jy ’n maatskaplike werker is. “Jy werk met negatiewe aspekte van die lewe en is konstant in konflik,” vertel sy. “Toe ek nog vir kinderbeskermingsdienste gewerk het, het dit vir my gevoel asof ek heeldag moet vure doodslaan.” As maatskaplike werker moet jy bereid wees om baie lang ure te werk. Sy sê as jy vir ’n welsynsorganisasie werk, word jy betaal om ’n gewone werksdag te werk, maar dis beslis nie waar jou dag eindig nie. “Daar is meestal net nauurs tyd om verslae en administrasie te doen,” vertel sy.
OPLEIDING
Om ’n maatskaplike werker te kan word, moet jy ’n BA in maatskaplike werk verwerf. Sarie het ’n vierjaargraad in maatskaplike werk by die Universiteit van Pretoria gedoen. Daar het sy verskeie kursusse gedoen. “Ek het kursusse in basiese en gevorderde mediasie, kunsterapie en trauma gedoen,” vertel sy. As jy by ’n universiteit studeer, word jy van jou eerste jaar af by die Suid-Afrikaanse Raad vir Professies in Maatskaplike Diens (SACSSP) geregistreer. Volgens Sarie moet elke maatskaplike werker aan hierdie raad behoort en word jy streng ten opsigte van etiese kodes gemonitor.
INKOMSTE Volgens Sarie is dit moeilik om te bepaal hoeveel ’n maatskaplike werker verdien. “’n Pas gekwalifiseerde verdien tussen R5 000 en R8 000. As jy in die korporatiewe sektor gaan werk, verdien jy meer.” ’n Senior maatskaplike werker verdien ongeveer R10 000 per maand. As jy vir die regering werk, kan jy blykbaar tussen R20 000 en R25 000 verdien. As maatskaplike werker wat privaat praktiseer, wissel Sarie se inkomste volgens die hoeveelheid pasiënte wat sy maandeliks sien. “Dit neem jare vir ’n maatskaplike werker in ’n privaat praktyk om ’n stabiele inkomste te verdien,” sê sy. Tog meen sy ook dat jy dit nie vir die geld doen nie. “Dis ’n hartsberoep – ’n doelgerigte keuse om mense te wil help.” Raad: Dit moet jou passie en roeping wees om ’n maatskaplike werker te wil word. _ Dis belangrik om onderskeid tussen jou persoonlike en werkslewe te tref. Moenie mense se probleme op jou skouers neem nie. Jy moet egter empatie kan toon. _ Jy moet oor ’n passie vir ander mense beskik, onafhanklik en uit die vuis kan dink en kreatief wees. Vk Suid-Afrikaanse Raad vir Professies in Maatskaplike Diens: www.sacssp.co.za of 012 356 8300 Suid-Afrikaanse vereniging vir maatskaplike werkers in die private praktyk: www. saaswipp.co.za of 011 887 1968 Sarie: 012 667 1913 of www.therapythroughart. co.za Tersiêre instellings: www.up.ac.za; www. unisa.ac.za; www.nwu.ac.za; www.uj.ac. za; www.sun.ac.za; www.hugenote.co.za