Die jaar is byna om en jou matriekkind weet steeds nie wat hy volgende jaar wil doen nie. Shanda Luyt het gaan uitvind wat ouers kan doen
Dis een van die belangrikste keuses wat jou kind in sy lewe kan maak: om te besluit watter beroepsrigting hy wil volg. ’n Verkeerde keuse kan jou en hom letterlik duur te staan kom en kosbare tyd mors. Aan die ander kant kan jy nie ’n besluit ryp druk nie. As julle reeds die tradisionele roete van voorligters en belangstellings- en aanlegtoetse gevolg het en jou kind naby aan die einde van sy matriekjaar steeds onseker oor sy toekomsrigting is, plaas dit jou as ouer in ’n netelige posisie. Jy kan nie die keuse namens hom maak nie, maar ook nie handjies gevou staan en toekyk nie. Anne Havemann-Serfontein, ’n voorligtingsielkundige by die Universiteit van Stellenbosch se Sentrum vir Voornemende Studente, benadruk dat beroepsvoorligting eerder die begin van ’n proses as ’n eindpunt is. “Jongmense sal ná beroepsvoorligting meer ingeligte keuses kan maak. Hulle kan dan werke ondersoek wat aanbeveel is, met mense gesels wat hulle in dié beroepe bevind (sodat hulle kan agterkom of hul idee van wat dit behels realisties is); en verskillende tersiêre instellings en hul toelatingsvereistes met mekaar vergelyk.”
PRAAT MET JOU KIND
Die eerste ding wat sy vir ouers in so ’n situasie wil sê, is om nie paniekerig te raak nie, sê lewenstylgids Lizel Stephan van die Strong Foundation in Durbanville. “Ouers wil almal die beste vir hul kinders hê en sal alles moontlik doen om te help. As jy reeds alles vir jou kind gedoen het om hom te help om die regte besluit te neem en hy weet steeds nie, kan jy maklik paniekerig raak.” Sy raai ouers aan om hul verhouding met hul kind as basis vir ’n gesprek oor sy toekoms te gebruik. “Dis baie positief as jou kind na jou toe kan kom en kan sê dat hy nie weet wat hy wil doen nie. Pak dit saam met jou kind aan deur dit as ’n geleentheid en uitdaging te sien.” As jy met jou kind oor sy moontlike opsies gesels, is dit belangrik om die groter prentjie in ag te neem, sê Lizel. “Dink na oor jou kind se persoonlikheidstipe, sy reis tot dusver op skool, wat sy aanlegte, prestasies, belangstellings en stokperdjies is, asook sy sosiale en geestelike ontwik keling. Dit is waarin jou kind geanker is. Dis belangrik om al hierdie dinge in ag te neem en dan saam met jou kind te gaan sit en sê: ‘Kom ons maak ’n lysie van al hierdie dinge.’ Moenie enige druk op hom plaas nie, maar laat hom ’n opgawe maak van alles wat hy is en wat hy het wat hom kan help om te besluit.” “Dis belangrik om oor al die opsies se voor- en nadele te gesels,” beklemtoon Lizel. “Party kinders is onder soveel druk dat hulle net vorentoe jaag, veral as hulle reeds in die proses is. Hulle het dalk reeds by ’n universiteit ingeskryf en dan gaan studeer hulle maar, al is hulle onseker. Die bewustheid van die voor- en nadele is ’n voordeel. As jy nie die objektiwiteit het om dit self te doen nie, kry iemand anders, sodat julle saam na die praktiese implikasies van besluite kan kyk. Prioritiseer en besluit op die opsie wat die sterkste sekerheid bied.” Die ideaal is dat wanneer jy en jou kind alles klaar uitgepluis het, jy moet terugstaan en hom los om self te besluit, sê Lizel. “As hy dan die besluit geneem het, moet hy self die verantwoordelikheid daarvoor dra. As hy byvoorbeeld halfpad agtergekom het hy het die verkeerde kursus gekies, laat hom ten minste die jaar klaarmaak. Moenie jou kind toelaat om rond te val en nou oorsee te gaan en dan weer iets anders te doen nie. “Baie keer wil die kind iets doen en die ouer betaal ten duurste daarvoor, maar ses maande later sê die kind dis nie waarin hy belangstel nie, hy gaan iets anders doen. Die ouers bly maar betaal. Dit werk nie. ’n Mens het respek vir jou kind se ontdekkingsproses en hoe dit hom bou en vorm, maar iewers moet hy verantwoordelikheid vir sy ontdekkingsreis neem. Jy as ouer kan jou kind lei en ondersteun, maar die verantwoordelikheid vir die keuses lê by jou kind – ook die dra van die gevolge.”
’N BESLUIT IS ’N MOET
“As daar nie ’n besluit geneem word nie, kan jou kind jare in daardie onsekerheid vasgevang sit. Dis algemeen bewys dat kinders wat in hul laaste jaar van skool onseker is en daardie besluitnemingsproses vermy of uitstel, maklik in daardie onsekerheid vasval en sukkel om weer daaruit te kom. Al is jou kind se keuse net om met ’n lewenstylgids te praat of om vir nog aan legtoetse te gaan, moet daar ’n besluit geneem word,” sê Lizel. Lizel sê die kind se onsekerheid word versterk as die ouer nie leiding gee nie. “Soms sal jou kind jou leiding as druk ervaar, maar jy ken jou kind en het daardie groter prentjie wat jou kind dalk nie in daardie stadium het nie. Vra ondersoekende eerder as aanvallende vrae en stimuleer jou kind se denkproses oor die groter prentjie wat jy sien. Jy as ouer kan die stimulasie bied, maar nie die besluit neem nie. “As jy voel jy is te emosioneel betrokke om te help, kry die hulp van ’n lewenstylgids. Jou kind moet weet jy as ouer sal hom ondersteun, maar daar is ’n verwagting daaraan verbonde dat hy uiteindelik ’n keuse moet maak.” Ouers moet besef hierdie proses kan ongelooflike sterk emosies by hul kind ontlok, sê Lizel. “Dis ’n sleutelfase van kinders se lewe en daar is baie druk op hulle. Ouers het dikwels self ondersteuning in die proses nodig, want hulle kan nie die emosies wat hulle ervaar met hul kind deel nie – hul kind het nodig dat hulle nugter dink. Sorg dus dat jy die nodige ondersteuning het, want as jy as ouer ongefokus en onstabiel in die proses is, gaan jou kind dit aanvoel en dit gaan die proses versleg, want dan neem hy die besluit onder ekstra emosionele druk.”
DIE sleutelopsies
Moet ek studeer? Die opsie van studeer in die hoop dat jy iewers langs die pad gaan agterkom wat jy eintlik wil word, het groot finansiële implikasies, sê Anne. “As jy nie die regte kursus volg nie en dalk swak doen omdat jy nie so entoesiasties daaroor voel nie, kan dit ook later tot probleme met hertoelating lei. Geen tersiêre instelling gaan toelaat dat jy aanhou studeer as jy swak vaar nie. Dis beter om eerder ’n oorbruggingsjaar te doen as jy onseker is.”
’n Oorbruggingsjaar? ’n Oorbruggings jaar is nie vir almal nie, sê Anne. “Baie kinders vat ’n oorbruggingsjaar, maar doen niks konstruktiefs daarmee nie. Vir ’n oorbruggingsjaar om waardevol te wees, moet jy iets sinvols doen, byvoorbeeld deur ’n jaarkursus te doen of in ’n bedryf te gaan werk waarin jy moontlik belangstel. As jy ’n kursus doen, moet dit ook nie iets wees net om die tyd verby te kry nie, maar iets wat jy kan gebruik al studeer jy op die ou end iets heeltemal anders. As jy oorsee gaan, behoort dit met ’n spesifieke doel in gedagte te wees, soos om te au pair as jy onderwys oorweeg.”
Oorsee gaan? Dis nie vir alle kinders ’n wenslike opsie om oorsee te gaan nie, sê Anne. “Nie almal is volwasse genoeg om op hulself aangewese te wees nie en natuurlik raak dit al moeiliker om oorsee werk te kry. Daar is ook ’n finansiële implikasie. Net so kry jy mense wat vir net ’n jaar oorsee gaan en dan nooit gaan studeer nie, want hulle haak daar vas. Vir ’n kind wat ’n droom het om te gaan en nog onseker is oor wat hy wil studeer, kan dit baie goed werk. Die ander opsie is natuurlik om eers te studeer en dan oorsee te gaan, want dan kan jy meer verdien.”
Eers gaan werk? Daar is baie mense wat “net eers” gaan werk omdat hulle nie kan besluit wat om te studeer nie en dan uiteindelik nooit by studeer uitkom nie omdat hulle aan die inkomste en lewenstyl gewoond raak, vertel Anne. “’n Mens moet dan na die statistieke kyk: ’n Tersiêre kwalifikasie gaan vir jou twee goed beteken: eerstens sal dit jou kanse om werk te kry verbeter en tweedens gaan dit jou inkomstepotensiaal verbeter.”
Verdere HULP Norma Colley se Kies die regte loopbaan: ’n Praktiese gids vir skoolverlaters (Metz Press) neem tieners stapsgewys deur die keuseproses. Die voor- en nadele van elke opsie word uiteengesit tesame met praktiese raad oor hoe om die beste daarvan gebruik te maak. Vk