Jy sal nie net goed en gesond voel as jy ’n fiksheidsinstrukteur is nie, maar ook ander só laat lyk, skryf Lindi Herbst
Die meeste mense oefen omdat hulle fiks en gesond wil wees, maar dan is daar mense wat so ’n groot passie vir oefening het dat hulle dit hul beroep maak. Sulke mense sluit in fiksheidsinstrukteurs en persoonlike afrigters. Ons het met ’n persoonlike afrigter, Talitha Scholtz, gesels om uit te vind presies wat die werk behels.
VOOR- EN NADELE Talitha meen die lekkerste daarvan om ’n persoonlike afrigter te wees, is dat sy self haar werkstyd bepaal. “Ek besluit self hoe hard ek wil werk, maar ek moet altyd in gedagte hou my salaris hang daarvan af!” Haar werk voel ook nie soos werk nie omdat oefening een van haar passies is. “Daar is nie een dag wat ek wakker word en nie lus voel vir werk nie. Dis regtig lekker om mense te help om hul fiksheidsdoelwitte te bereik,” sê sy. “As ek ná ’n paar maande hul fiksheidsvlakke assesseer en sien watse vordering hulle gemaak het, voel ek sommer trots.” Sy meen ook daar is beslis geleenthede vir groei – hoe meer kursusse jy doen, hoe meer leer jy en hoe meer klasse kan jy aan bied. Tog begin ’n persoonlike afrigter se werk vroeg in die oggend as jy by ’n gim werk en dié deel van die werk geniet Talitha nie so baie nie. Die werk kan ook ’n bron van stres wees omdat ’n persoonlike af rig ter nie ’n vaste inkomste verdien nie. “Jou inkomste hang af van die hoeveelheid kliënte wat jy het,” sê Talitha. “In die winter het jy minder kliënte. Jy is ook verantwoordelik daarvoor om nuwe kliënte te werf.”
INKOMSTE Talitha het as ’n halfdag- persoonlike afrigter gewerk, waar sy ’n gemiddeld van R12 000 verdien het. “Persoonlike afrigters moet ook huurgeld by ’n gim betaal en dus moet jy dit in gedagte hou as jy by ’n gim wil werk,” is Talitha se raad. Volgens haar wissel die huurgeld tussen gims, maar dit kan tot R4 500 per maand wees. ’n Ander opsie as jy ’n gekwalifiseerde persoonlike afrigter is, is om Bootcamp-klasse aan te bied, soos Talitha. “Nadat my baba gebore is, het ek begin om Bootcamp-klasse te gee. Ek bied drie weeksaande en Saterdagog gende die klasse op ’n sportveld aan,” vertel sy. Omdat sy dit slegs deeltyds doen, verdien sy ongeveer R5 000 ’n maand, maar as jy ’n voltydse afrigter is, kan jy verwag om baie meer te verdien.
OPLEIDING Talitha het ’n persoonlike af rigtingkursus van ’n jaar by die Exercise Teaching Acade my gevolg, waarvoor sy ’n sertifikaat ont vang het. ’n Mens kan nog ’n ekstra jaar doen, dan kry jy ’n diploma. Die Exercise Teaching Academy bied ’n wye verskeidenheid kursusse aan, soos sportbestuur, -kondisionering en fiksheid. Hulle bied ook kort kursusse in die afrigting van spesifieke sportsoorte (soos rugby en netbal), sowel as joga-, Pilates- en liggaamskondisioneringsklasse aan. Die persoonlike afrigtingskursus kan voltyds of deeltyds gevolg word. Daar word op teorie en prakties gefokus sodat jy nasionaal of internasionaal kan werk. Jy kan ook addisionele spesialisasiemodules in jou kursus insluit. Die kursusmodules sluit onder meer in: lewensvaardighede vir persoonlike afrigters, die wetenskap van oefening, oefenmetodes, die ontwerp, uitvoer en assessering van oefenprogramme en voeding. Die kursus kos R16 000 vir die eenjaarkursus (sertifikaat) en R32 000 vir die tweejaarkursus (diploma). Die internasionale instituut vir sportwetenskap en fiksheidopleiding (IIFT) bied ook ’n persoonlike afrigterskursus aan. Die kursus bied jou die geleentheid om later in ’n meer gespesialiseerde veld te werk. Die Health and Fitness Professionals Associations Academy bied ’n eenjaarkursus aan om as ’n persoonlike afrigter of fiksheidsinstrukteur te kan kwalifiseer. Die kursus sluit lesings, werkswinkels en praktiese opleiding in. Om die kursus voltyds te volg, sal jou R23 000 vir die jaar kos en R13 000 as jy dit deeltyds doen.
RAAD _ Jy moet regtig ’n passie vir oefening hê. _ Geen twee kliënte het presies dieselfde fiksheidsbehoeftes nie, dus moet jy seker maak jy pas die oefen- en eetprogramme volgens hul individuele behoeftes aan. _ Probeer om heeltyd nuwe dinge te leer. _ Bemark jouself. _ Bly op hoogte van die jongste navorsing.
KONTAKTE Vir meer inligting oor die Bootcamp-klasse, gaan na Facebook en tik “Boot camp powered by Talitha” by die soekopsie in.
Besoek www.exerciseacademy.com, www. hfpa.co.za, www.icon.co.za/~iift/Personal_ trainer.html Vk