Dit kan ’n opwindende beroep met vele geleenthede wees
Om as ’n gekwalifiseerde grafiese ontwerper te werk, is baie kreatief en uitdagend en gee jou die geleentheid om skeppende idees ’n realiteit te maak. Sulke mense is verantwoordelik daarvoor om beelde, tipografie en/of grafika saam te voeg en te kombineer om ’n interessante geheelbeeld te skep wat mense se aandag vasvang en interesseer. Die eindprodukte word dikwels deur maatskappye vir bemarkingsdoeleindes gebruik (vir advertensies en brosjures). ’n Grafiese ontwerper kan ook vir die uitlê van publikasies verantwoordelik wees of webwerwe ontwerp, maar hulle fokus dan net op die voorkoms daarvan. Shané van der Westhuizen (24) werk as ’n grafiese ontwerper by ’n maatskappy wat advertensies ontwerp.
INKOMSTE Dit hang af van die grootte van die maatskappy waar jy werk. Met tien jaar of meer ervaring kan jy tot R30 000 per maand verdien, maar talle grafiese ontwerpers verdien tussen R8 000 en R15 000. ’n Mens kan grafiese ontwerp ook op ’n vryskutbasis doen en dan werk doen soos om logo’s, visitekaartjies, pamflette, advertensies en uitnodigings vir maatskappye te ontwerp. Jou inkomste hang dan af van die hoeveelheid werk wat jy doen.
OPLEIDING As jy ’n kursus in grafiese ontwerp volg, sal jy onder meer leer oor die elemente van kuns, die beginsels van ontwerp, tipografiese ontwerp, die belangrikheid van korporatiewe identiteit, illustrasie in grafiese ontwerp en advertering, rekenaargrafika en multimedia-ontwerp, ontwerp vir die internet en bemarkingsdoeleindes.
VOOR- EN NADELE Shané werk reeds twee jaar as grafiese ontwerper en sê sy leer steeds elke dag iets nuuts. Vir haar is die lekkerste van die beroep dat sy haar kreatiwiteit kan uitleef en baie skeppend kan wees. ’n Grafiese ontwerper moet deurgaans nuwe idees uitdink en oorspronklike advertensies ontwerp wat mense se aandag sal trek. As jy besluit om grafiese ontwerp op ’n vryskutgrondslag te doen, kan jy self besluit hoe baie werk jy wil doen en volgens jou eie tyd werk. Tog is daar ook nadele daaraan – jy moet self kliënte werf en jou inkomste hang dus af van die hoeveelheid werk wat jy kry. Ander nadele is dat daar daagliks spertye is, veral as maatskappye ’n advertensie op ’n spesifieke tyd wil hê. Meestal moet jy ook volgens kliënte se spesifieke behoeftes en vereistes werk en as hulle nie met die eindproduk gelukkig is nie, moet jy weer van voor af begin of met ’n ander idee of ontwerp vorendag kom. Shané sê dat sy soms kliënte kry wat tot vyf keer van plan verander en iets anders wil hê.
ONTHOU Vir dié beroep moet jy by spertye kan hou, goed onder druk kan werk, ’n kliënt se behoefte visueel kan interpreteer, lateraal kan dink, rekenaargeletterdheid wees, goed kan kommunikeer en ’n goeie begrip van kleur, ontwerp en ruimte hê. Daar is geleentheid vir groei in die beroep, mits jy bereid is om dit raak te sien en die kans aan te gryp. Kliënte hou meestal daarvan as grafiese ontwerpers hul eie idees by hul vereistes inwerk, maar maak seker jy hou by die basiese idee wat die kliënt soek en hou altyd die geheelbeeld in gedagte. Eksperimenteer met verskillende tegnieke, vorms en ontwerpe wanneer jy die kans kry. Sodoende bly jou werk vars en verval jy nie in ’n patroon nie. Lees soveel moontlik tydskrifte en ’n wye verskeidenheid daarvan. Kyk na die advertensies, hoe dit ontwerp is en watter tegnieke gebruik is. Probeer om dit by jou werk in te bring, maar met ’n nuwe aanslag. Hou jou idees nuut en vars en wees innoverend. Kliënte soek altyd na daardie “iets anders” wat hul produk van die kompetisie s’n sal onderskei. Netwerk soveel as moontlik. Skaf vir jou visitekaartjies aan en gee dit vir mense wat moontlik van jou dienste gebruik kan maak, al is dit êrens in die toekoms. Vk
Besoek www.intec.edu.za, www.uj.ac.za, www.unisa.ac.za, www.vegaschool.com, www.stellenboschacademy.co.za, www. rosebankcollege.co.za en www.dcc.edu.za