As jy kreatief is, is ’n loopbaan as TV-produksiebestuurder dalk vir jou bedoel
Die TV-bedryf is ’n baie interessante plek om te werk omdat dinge heeltyd aan die verander is en daar soveel geleenthede binne die bedryf bestaan. Dink net aan al die werk wat daarin gaan om ’n TV-produksie te skep: die grafiese werk, kamerawerk, beplanning, voorproduksie, produksie en naproduksie. Daar is ook heelwat posisies tydens die opnames beskikbaar soos ’n vloerbestuurder, klankman, produksie-assistent en produksiebestuurder. Berné Jonker (35) werk al amper twee jaar as produksiebestuurder vir kykNET se programme, DKNT en DKNT Gospel.
OPLEIDING Berné het nie formele opleiding as produksiebestuurder gehad nie en het ook nie spesifiek in ’n TV-rigting gestudeer nie, maar het met die jare die nodige vaardighede aangeleer om die werk te kan doen. Omdat die TV-bedryf so wyd is, hoef jy nie noodwendig ’n spesifieke graad agter jou naam te hê nie. Dit gaan eerder oor die praktiese ondervinding. Tog meen Berné dit sal help om ’n kursus in TV- en filmproduksie te doen. Die meeste universiteite bied dit aan (soos die Nelson Mandela Metropolitan-universiteit, die Universiteit van die Witwatersrand en die Universiteit van Johannesburg), sowel as kolleges, soos AFDA (South African School of Motion Picture Medium and Live Performance), Boston College, City Varsity en Damelin. Nolitha Tshinavha, wat saam met Berné as produksiekoördineer werk, het oudiovisuele produksie by MSC-kollege in Port- Elizabeth gestudeer. Sy het ook ’n internskap in TV-produksie by M-Net Magic Factory gedoen. ’n Kursus wat Kaap Peninsula Universiteit van Tegnologie aanbied, duur drie maande en kos R3 300. ’n Graad by ’n universiteit wat ongeveer twee jaar duur, sal jou tussen R10 000 tot R20 000 kos. ’n Tweejaardiploma by City Varsity in film en TV-produksie (met ’n keuse van ’n derde jaar vir ’n gevorderde diploma) sal jou ongeveer R6 000 kos. In dié kursus sal jy alles leer wat nodig is om in ’n wye verskeidenheid van velde in die TV-bedryf te kan werk.
INKOMSTE Die salaris verskil tussen produksiemaatskappye. Baie mense werk op ’n vryskutbasis en het ’n vaste bedrag wat hulle per uur, dag of projek vra. Berné sê produksiebestuurders verdien verskillende salarisse, afhangende van die projek waaraan hulle werk en die begroting van die projek. Alles hang af van die projek, vir watter kanaal dit is en wat die begroting is. Die gemiddeld is ongeveer R13 000 per maand.
VOOR- EN NADELE Dis ’n werk wat enige kreatiewe mens terdeë sal geniet. Berné kry daagliks met baie mense te doen, dus sal iemand wat daarvan hou om met mense te werk baie vervulling uit dié werk put. Sy kry ook die geleentheid om bekende persoonlikhede te ontmoet omdat daar weekliks bekende sangers en musiekgroepe op die programme verskyn. Al kry jy nie dadelik die geleentheid om as produksiebestuurder te werk nie en kan jy as ’n intern begin, sal jy steeds baie van die bedryf leer. Vir Berné bly haar beroep interessant en raak sy nooit verveeld nie, want sy moet heeltyd nuwe inligting soek om kykers geïnteresseerd te hou. Die nadele sluit in dat die werk baie organisasie verg en daar baie druk is om elke week twee episodes te kan lewer. Die bedryf is ook onseker en die fokus is altyd van projek tot projek. Jy kan vir drie maande baie werk hê en dan vir ’n paar maande ’n stiller tyd beleef. Die meeste produksiemaatskappye stel werknemers op kontrakbasis aan. Daar bestaan ook nie iets soos ’n standaard agt-tot-vyf-werksdag nie. Soms moet ’n mens laat en selfs oor naweke en vakansiedae werk.
RAAD Vir Berné werk dit om ’n weeklikse doenlysie op te stel – sy meen dis ’n dissipline wat sy moes aanleer toe sy as produksiebestuurder begin werk het en wat goed werk vir haar, omdat sy baie regterbreingeoriënteerd is. Dit is nie altyd maklik om in die TV-bedryf in te kom nie, maar dit sal beslis help om as intern te werk terwyl jy studeer. Mense is gewoonlik gewillig om iemand aan te stel om teen min of geen vergoeding uit te help. Sodoende doen ’n mens baie ondervinding op en dis ook iets wat jy op jou CV kan sit. Maak kontak met mense en leer die bedryf ken. Hoe meer mense van jou weet en weet wat jou ondervinding en vaardighede is, hoe groter is die kans dat hulle jou sal aanstel. Wees bereid om heel onder te begin en jou pad boontoe te werk. Berné moes dit doen, maar sy meen dis die moeite werd.
Vk Besoek www.unisa.ac.za, www.damelin.co.za, www.cityvarsity.co.za, www.boston.co.za, www.afda.co.za, www.cput.ac.za