Die Fugard-teater in Kaapstad het Sondag hul sesde jaarlikse Fugard Bioscope World Arts Cinema-seisoen geloods met die film, The Threepenny Opera, van die National Theatre in Londen.
Woorde en foto’s: Maryke Roberts en verskaf
Die bioskoop-seisoen bied aan teatergangers teater-, ballet- en operaproduksies in filmformaat in die Fugard-teater se hoofteater. Dit sluit op 13 Augustus vanjaar met Othello af en sluit meer as 20 produksies in.
Die Fugard het weer hande geneem met van die wêreld se voorste organisasies soos The Royal Opera House, The Royal Ballet, Bolshoi Ballet en Brittanje se National Theatre om hierdie seisoen moontlik te maak. Die program het verskeie hoogtepunte soos die vertoning van die Salzburg Festival Opera, The Globe en The Royal Shakespeare Company. Films word op sekere Sondagoggende om 11:00 vertoon en jy kan terugsit met jou drankie en die 7.1 dolby digitale omring-klankstelsel en hoë definisie filmskerm geniet.
By die bekendstellingsfunksie het Greg Karvellas, resident-regisseur en algemene bestuurder van die Fugard-teater, gesê die kwaliteit van die films sit jou as’t ware in die voorste ry in die teater.
Hy sê daar is verskeie nuwe produksies waaroor hulle baie opgewonde is, soos No Man’s Land met Ian McKellen en Patrick Stewart. Die NT se Amadeus, Peter Shaffer se ikoniese toneelstuk oor Mozart het onder meer vir Lucian Msamati van Luther en Game of Thrones in die rolverdeling en in Hedda Gabler is Ruth Wilson van Luther.
Van die Royal Shakespeare Company is daar onder meer hoogtepunte soos Shakespeare se Cymbeline wat min opgevoer word en King Lear, met Anthony Sher. Van die Bolshoi Ballet kan gehore uitsien na Swan Lake,Sleeping Beauty en The Golden Age.
Kaartjies vir die Fugard Bioskoop is beperk en verkoop soos soetkoek. Dit kos R100 elk en kan deur Computicket bespreek word, 0861 915 8000, www.computicket.com of enige Shoprite Checkers winkel. Besprekings kan ook by Fugard-teater gemaak word by 021 461-4554.
Die res van die seisoen sluit onder meer die volgende hoogtepunte in:
5 Februarie Cymbeline (The Royal Shakespeare Company); 12 Februarie King Lear (The Royal Shakespeare Company); 26 Februarie The Golden Age (The Bolshoi Ballet); 5 Maart Fidelio (The Salzburg Festival Opera); 12 Maart Swan Lake (The Bolshoi Ballet); 19 Maart No Man’s Land (The National Theatre); 26 Maart Sleeping Beauty (The Bolshoi Ballet); 23 April Madama Butterfly (The Royal Opera House); 30 April Hedda Gabler (The National Theatre); 7 Mei A Contemporary Evening (The Bolshoi Ballet); 14 Mei Amadeus (The National Theatre) en 4 Junie Woolf Works (The Royal Ballet) in. Die volledige program is te kry by www.thefugard.com