Jy wil ‘n geduldiger ma wees, regtig, maar dis moeilik! Hier is sewe wenke wat kan help
Deur ZERELDA ESTERHUIZEN
1 Hou jou stemtoon laag
Dis baie maklik om op die kinders te gil as hulle droogmaak of net wil hê en hê, maar dink net wat jy besig is om te doen. Stop en dink wat jy regtig wil sê en watter boodskap jy wil oordra. Probeer om beheersd te bly. As jy skree, gaan jou kinders ook begin skree.
2 Vat ‘n blaaskans
As dit voel asof jy heeltemal buite beheer is en dit heeltemal verloor, gaan sit in ‘n ander vertrek en dink net eers bietjie oor die situasie en wat die gepaste reaksie sal wees.
3 Probeer om jou kind te verstaan
Praat met jou kind en probeer om beredeneerd na die konflik te kyk. Wat is die probleem en wat kan julle albei daaraan doen?
4 Oefen om geduldig te wees
Dit mag tyd vat om geduldiger te raak, maar daar is maniere. Probeer vasstel wat is jou snellers? Wat maak jou kwaad? Wat laat jou beheer verloor? Tel tot tien as dit gebeur.
5 Laat jou kinders toe om ‘n taak te voltooi
As jou kinders met iets besig is, laat hulle dit self voltooi sonder om in te spring en oor te vat. Dit beteken baie vir hul onafhanklikheid en selfwaarde.
6 Haal diep asem
Dit klink eenvoudig, maar ‘n paar diep asemhalings sal jou kalmer maak.
7 Kry hulp
‘n Mens se geduld raak besonder min as jy te veel hooi op jou vurk het. As dit met jou die geval is, kry hulp. Al vra jy ‘n vriendin om net ‘n bietjie na die kinders te kyk terwyl jy op jou bed gaan lê of iemand anders vra om hulle sport toe te vat. Versorg jouself en kyk na jou en jou behoeftes. Die lewe kan baie maklik net om die kinders draai, maar jy is ook daarin.
BRON: http://midwestmodernmomma.com